Motorverkope gedy, uitvoere ly  

Asof die motorbedryf nie genoeg uitdagings het met die tekort aan halfgeleier-mikroskyfies én die verskepingskrisis nie, was verlede maand se Transnet-staking die finale spyker in die doodskis vir uitvoere.

Sewe van die vervaardigers – Mercedes-Benz, Ford, Volkswagen, Toyota, BMW, Nissan en Isuzu – voer groot getalle voertuie uit. Mercedes-Benz, Ford, Volkswagen, Toyota en BMW het in September ʼn fantastiese 40 264 voertuie nuit Suid-Afrika uitgevoer. In Oktober het hulle egter slegs 28 617 eenhede uitgevoer. In ʼn wêreld waarin daardie vervaardigers binne hul eie handelsmerke met fabrieke elders in die wêreld kompeteer kan sulke gebrek aan toevoer namens ons plaaslike vervaardigers kontrakte verloor. Die algehele motorbedryf dra tans omtrent 6,5% by tot Suid-Afrika se BBP.

Mercedes-Benz was die sterkste uitvoerder in Oktober 2022 met 8 075 C-klas voertuie wat uit Oos-Londen uitgevoer is. Volgende was Ford wat 6 312 Rangers uit Pretoria kon uitvoer. Die derde plek behoort aan Volkswagen wat 5 331 Polos kon uitvoer uit Kariega. Slegs 99 eenhede skei Toyota (4 499) en BMW (4 400) in die vierde en vyfde plekke.

Die sterkste handelsmerk in terme van plaaslike verkope met ʼn reusemarge is Toyota met ʼn verstommende 12 574 eenhede. Hul topmodelle is Hilux (3 336), Corolla Cross (2 014) en Urban Cruiser (1 820).

Volkswagen sit in die tweede plek. Hulle het 6 750 voertuie plaaslik verkoop. Hul sterkste modelle was die Polo Vivo (1 583), Polo (809) en T-Cross (643). Die derde plek is weer deur Suzuki gevul. Hul gewildste model is beslis hul Swift (1 693) en dan hul Vitara Brezza (750).

Hyundai (2 703) en Haval (2 602) rond die topvyf af. Plekke ses tot tien lyk só: Ford (2 458), Isuzu (2 187), Renault (2 011), Kia (2 011) en Chery (1 229).

Die topvyf passasiervoertuie in Oktober was:

Toyota Corolla Cross                      2 014

Toyota Urban Cruiser                     1 820

Suzuki Swift                                      1 693

Volkswagen Polo Vivo                   1 583

Volkswagen Polo                             809

Die Toyota Corolla Cross

Die topvyf ligtehandelsvoertuie was:

Toyota Hilux                                     3 336

Ford Ranger                                      1 807

Isuzu D-Max                                     1 802

Toyota Hi-Ace                                  1 239

Nissan NP 200                                  1 096

Die staking het egter nie ʼn slegte invloed op plaaslike verkope gehad nie. Op ʼn jaargrondslag is daar steeds ʼn 11,4%-verhoging in plaaslike verkope. Die handelaarnetwerk is verantwoordelik vir 82,6% van daardie verkope.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

VW is besig om met sy eienaars en toekomstige kopers te mors. Ek het my TCross in 2020 nuut gekoop vir R335K. Dit is nou Desember 2 jaar later en as ek dieselfde TCross nou wil koop dan kos hy R414K, prysverskil van R76K in twee jaar, dit is ‘n vehoging van 24%.
Wie van ons se salaris het in die 2 jaar met 24% opgegaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.