Motorverkope kry weer woema in 2022  

Die Toyota Corolla Cross

Die afgelope vyf jaar was 2018 ʼn hoogtepunt wat nuwe voertuigverkope in Suid-Afrika betref.

Daar is 552 227 nuwe voertuie verkoop. Die einde van 2019 het die begin van Covid-19 in die buiteland gesien, maar Suid-Afrika kon steeds 536 612 voertuie van die hand sit.

Die motorverkopemark is in 2020 die swaarste deur die pandemie getref met slegs 380 206 verkope, ʼn reusedaling van 29% jaar op jaar. In 2021 was daar ʼn sterk terugvegpoging met 464 493 eenhede, ʼn 22%-verbetering op die vorige jaar. Suid-Afrika het in 2022 weer ʼn groei van byna 14% gewys tot 528 963 voertuie.

Die sewe vervaardigers wat van Suid-Afrika na die res van die wêreld uitvoer – BMW, Ford, Isuzu, Mercedes-Benz, Nissan, Toyota, en Volkswagen – het in 2022 altesaam 351 450 voertuie uitgevoer, ʼn 17,9%-verbetering op 2021 se 298 020 eenhede. In die afgelope vyf jaar was 2019 die sterkste jaar vir uitvoere met 387 092 eenhede.

2022 het sterk afgesluit met 41 783 plaaslike verkope in Desember en 26 302 uitvoere.

Toyota is met ʼn groot marge die topverkoperhandelsmerk plaaslik met 11 250 verkope. Hul top drie modelle is die Hilux (2 556), Corolla Cross (1 834) en Hi-Ace (1 539). Die res van die topvyf lyk só: Volkswagen (6 406), Suzuki (4 287), Nissan (3 167) en Hyundai (3 002).

Die voorste uitvoerder is Volkswagen (9 790) gevolg deur Mercedes-Benz (8 691), Toyota (5 590), BMW (4 800) en Ford (4 299). Isuzu en Nissan voer minder as 1 000 eenhede saam uit.

Toyota se Corolla Cross was in Desember die gewildste passasiervoertuig met 1 834 eenhede wat van die hand gesit is en Toyota se Hilux was die gewildste ligtehandelsvoertuig met 2 556 verkope.

Gary McCraw, direkteur van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada), is verstom oor die 12 agtereenvolgende maande se groei.

“Ons is spesifiek bly oor die sterk verteenwoordiging van die handelaarnetwerk wat verantwoordelik is vir 89,7% van die totale hoeveelheid voertuie wat in Desember verkoop is. Dit is fantastiese nuus vir handelaars wat steeds herstel van die nasionale inperkings. Wat verstom is die feit dat dié groei bereik is in ʼn jaar waarin Toyota ongeveer 70 000 eenhede se produksie verloor het weens die rampspoedige oorstromings in KwaZulu-Natal wat sy aanleg vir vier maande buite aksie gestel het,” sê McCraw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Is bly vir die motorbedryf maar ek weet eerlikwaar nie waar mense die geld kry vir nuwe motors nie. Al wil ek hoe graag n nuwe wiele kry, is dit net onbekostigbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.