Motorverkope skop goed af in 2023

Die Toyota Corolla Cross

Ten spyte van stygende rentekoerse en die astronomiese pryse van nuwe voertuie, het motorverkope vir 2023 goed afgeskop.

Daar is verlede maand 2 127 (5,1%) meer voertuie verkoop as in Januarie 2022, ook 1 726 (4,1%) meer voertuie as in Desember. Selfs uitvoere het met 7,5% jaar op jaar gestyg en daar is 20 536 motors in Januarie uitgevoer.

Die topvyf-handelsmerke wat plaaslike verkope betref, is Toyota (12 532), Volkswagen (5 081), Suzuki (4 357), Nissan (2 927) en Hyundai (2 525). Die toptien word afgerond deur Renault (2 051), Kia (1 686), Ford (1 661), Haval (1 565) en Isuzu (1 527).

Die topvyf-passasiersvoertuie, toevallig ook die enigste modelle waarvan daar meer as eenduisend eenhede verkoop is, én slegs aan die topdrie-handelsmerke behoort, lyk só:

Toyota Corolla Cross2 042
Toyota Starlet2 037
Suzuki Swift1 499
Volkswagen Polo1 144
Volkswagen Polo Vivo1 054

Die topses-ligtehandelsvoertuie lyk só:

Toyota Hilux2 769
Isuzu D-Max1 273
Ford Ranger1 269
Toyota HiAce1 257
Nissan NP 200886
Mahindra Pik-Up819

Nissan se Navara, wat ook in enkelkajuit beskikbaar is, het in Januarie net 351 eenhede verkoop. Ford se enkelkajuit- en superkajuitweergawes is nou beskikbaar; ek is dus oortuig daarvan dat ons volgende maand ʼn beter prentjie uit Ford se stal sal sien.

Suid-Afrika het vyf groot uitvoerders en die meeste van hulle spesialiseer in een produk, byvoorbeeld BMW doen slegs die X3, Mercedes-Benz slegs die C-klas en Volkswagen slegs die Polo. Toyota is ietwat anders en vervaardig verskeie motors in hul aanleg, maar voer meestal net die Hilux uit en ʼn paar Corolla Cross- en Fortuner-modelle.

Die topvyf lyk só:

Toyota7 352
Volkswagen5 315
BMW4 700
Ford1 682
Mercedes-Benz773

Terwyl ons verskeie uitdagings in Suid-Afrika het, onder meer die talle rentekoersverhogings en logistieke uitdagings, wil dit lyk of die meeste vervaardigers positief is dat die halfgeleiermikroskyfiekrisis iets van die verlede is en hulle weer goeie toevoer van onderdele kan geniet. Indien dit kan gebeur, is die volgende uitdaging verskeping, maar verskeie vervaardigers voer allerhande planne in die mou om dié uitdaging die hoof te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Ek het onlangs die nuwe Ranger 2l diesel twin turbo toetsbestuur. Indrukwekkende voertuig met sy ontwerp, kwaliteit en verrigtinge. Hierdie voertuig voel ewe tuis op die teerpad en grondpad, self die rygerief en gemak is puik op grondpaaie. Dit is opmerklik dat VW besig is om sy markaandeel in SA te verloor, wat die rede daarvoor is kan by die VW handelaars uitgevind word. Na my mening is dit die gevolg van vergrype na geld. Suid Afrikaners kry meer vertroue in ingevoerde modelle en raak minder tradisioneel as dit by vervaardigers se name kom. Ek self besit al sederd 1983 net VW voertuie en hierdie huwelik staan nou einde se kant toe. Die groot rede is pryse van nuwe VW’s, instandhouding wat die hoogte inskiet, onderdele se pryse bly styg. Nee wat, hierdie vrou moet terug gaan na haar ouers toe, sy het te duur geword.

Grens ·

Stem saam met jou, VW se parte raak onbekosigbaar. Lys van parte vir ‘n polo onlangs was R10500 by VW . By Golfwagen R2000. Hulle gaan veseker pak slae kry hieroor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.