Motorverkope: Toyota is terug

Toyota is ʼn paar maande terug in ʼn ramp gedompel toe sy fabriek in Prospecton oorstroom het.

Dit het Toyota ʼn paar maande geneem om weer op die been te kom, maar die vervaardiger was reeds verlede maand weer die voorste motorverkoper met 11 138 eenhede en 23,5% in markaandeel. Dit is 5 044 ligte handelsvoertuie en 5 753 passasiersvoertuie.

In die tweede plek is Volkswagen met 6 693 plaaslike verkope. Volkswagen vervaardig die wêreld se regterhandstuur-Polo’s in sy aanleg in Kariega. Die derde plek word deur Suzuki ingeneem met ʼn sterk 4 164 eenhede. Hyundai neem die vierde plek met 3 129 eenhede en Nissan die vyfde plek met 2 644 verkope in. Die top tien word afgerond deur Renault (2 350), Ford (2 341), Isuzu (2 122), Kia (2 035) en Haval (1 797).

Die top vyf passasiersvoertuie in Suid-Afrika verlede maand was die Volkswagen Polo Vivo (2 359), die Toyota Urban Cruiser (1 905), die Suzuki Swift (1 369), die Volkswagen Polo (1 286) en die Toyota Corolla Cross (1 129). Die top vyf ligte handelsvoertuie was die Toyota Hilux (3 417), die Ford Ranger (1 791), die Isuzu D-Max (1 789), die Nissan NP200 (1 397) en die Toyota Hi-Ace (1 008).

Suid-Afrika se sterkste uitvoerders in Augustus was Volkswagen (9 129), Ford (6 923), Mercedes-Benz (4 998), BMW (3 300) en Toyota (3 196).

Motorverkope het weer mooi kop opgetel ná 2021 en met 14,2% gestyg vanjaar. Uitvoere het ʼn reusesprong gegee met ʼn 57%-verhoging van 10 402 eenhede in 2021 na 28 662 eenhede in 2022.

Namate die motorbedryf in die regte rigting begin beweeg en die halfgeleier-mikroskyfiekrisis verbygaan, sal ons beter toevoer van nuwe voertuie in die mark sien. Die oomblik dat dit gebeur, sal tweedehandse voertuie se waarde drasties val. Die tweedehandse mark se pryse is tans buitensporig sterk weens die gebrek aan voorraad van nuwe motors.

Eers ná nuwe voertuie weer teen ʼn goeie tempo die mark binnekom, sal die hele bedryf weer begin stabiliseer en herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.