ʼn AMG met vier silinders

Maroela Media het onlangs die nuwe Mercedes-AMG C43 onder hande gehad.

Die ontwerp van die nuutste C-klas is aanskoulik en sportief genoeg, sonder om in te boet op die elegantheid wat sinoniem met Mercedes‑Benz is.

Die binneruim van die nuwe C-klas is beslis tans die leier in sy segment. Die paneelbord is pragtig ontwerp en uitgelê met uiters moderne raakskerms wat elke brokkie inligting vir jou uitbeeld presies soos jy dit wil hê.

Die C43 is gelaai met luukshede. Daar is verhitte en verkoelde sitplekke, klimaatbeheer en ʼn pragtige klankstelsel. Uit ʼn veiligheidsoogpunt is elke denkbare aktiewe en passiewe stelsel in die C-klas geprop om jou veilig te hou soos blindekolwaarskuwing, baandwaalwaarskuwing, botsingwaarskuwing met noodremhulp, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrapbeheer en stabiliteitsbeheer, Isofix – alles.

Dis onder die kap waar dinge begin interessant raak. Die charismatiese V6 uit die vorige C43 is vervang met ʼn weergawe van die sterkste twee liter‑, viersilinderturbopetrolenjin in die wêreld uit die A45 AMG. In die 43 bied dié enjin ʼn verstommende 310 kW en 500 Nm! Genoeg om die C43 van stilstand tot 100 km/h te slinger in ʼn ratse 4.6 sekondes en hy sal aanhou tot ʼn elektronies-beperkte 250 km/h.

In die C43 is dié enjin gekoppel aan Mercedes-AMG se 9-spoed‑dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas. Die kalibrasie van die twee saam, los ʼn mens met ʼn vurige buksie wat daarvan hou om hard gery te word… en as jy afkyk na die meters besef jy dat die C43 vinniger is as wat hy voel.

Daar is ʼn klein kantnota: In sekere verkeersituasies kan jy soms onkant gevang word deur die mengsel tussen die outomatiese aan-en-af-skakeling en die koppelaars in die ratkas, dan voel die dryfstelsel lomp en stamperig en beslis nie op sy beste nie. Maar, sit hom in Sport+- of Race-rymodus, trap die rempedaal hard met jou linkervoet, begrawe die versneller in die mat, laat die turbo druk opbou en los die rempedaal dan is die hel los.

Ek self weet nog nie hoe ek voel oor die feit dat hulle twee silinders weggevat het nie. Ek sal bieg dat die ek die geluid van die ses mis, maar dit is onweerlegbaar hoe doeltreffend die 2.0‑viersilinder is… én dat die grootste gros van kopers nie die twee silinders sal mis nie.

Ek sal die C43 só opsom: Hy wen my hart met die eerste oogopslag… hy is só mooi. Die enjin is werklik sterk en lekker tuis in die C43, die dryfstelsel kort net ʼn klein bietjie verfyning. Tussen sy mededingers is dit egter die een wat ek in my oprit wil hê.

Die C43 vergelyk só met sy mededingers:

ModelKrag0 – 100 km/h & topspoedDiensplan & waarborgPrys
Audi S4 TFSI quattro260 kW/500 Nm4,7 sek.

250 km/h

1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 097 900
BMW M340i xDrive285 kW/500 Nm4,3 sek.

250 km/h

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 363 207
Mercedes-AMG C43310 kW/500 Nm4,6 sek.

250 km/h

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 673 641

ʼn Mens kan waarskynlik argumenteer dat die Audi se prys nie geïgnoreer kan word nie. Die A4 is nou al ʼn bietjie lank in die tand, en BMW se binneruim kan geensins kers vashou by die van die C-klas nie. Gaan toetsbestuur almal, een gaan jou hartsnare roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marco ·

Die Mercedes is dalk beter as dit kom by die binneruim uitleg en hoe dit vertoon, maar in terme van bougehalte is beide die S4 en die M340i wel beter.

Koos 100 ·

Marco. Hoewel jy reg is, gaan dit hier meer oor die bestuurservaring. BMW is maar hier koning. Audi’s is nog altyd stuurtraag. Ek het nog nie die C43 bestuur nie, maar is oortuig dat die so tussen die S4 en BMW in sal pas. By gesê, 80% van kopers sal nooit hulle voertuie so ry dat die dinge gaan pla nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.