ʼn Lekker én goedkoop bakkie

Soos met enige tipe voertuig beweeg die bedryf deur fases. In ʼn stadium was piepkleinbuksies wat saggies aan die brandstof teug die ding om te hê. Deesdae is dit ʼn sportnutsvoertuig. Dis ʼn jammerte, want meeste van die sportnutsvoertuie ry nie so lekker soos hul sedan-eweknieë nie.

Bakkies het ook deur hul eie fases beweeg. Ek onthou toe alle bakkies plat was. Meeste van hulle enkelkajuit. Party langasafstand, en party kortasafstand. Toe word daar begin om die Hilux’e so hoog te bou. Dit was nog 2.2 viersilinderpetrolenjins. Hulle was stadig, én bitter dors.

Tans is die neiging na enorme krag, en hiperluukse bakkies. Ongelukkig gaan enorme pryse daarmee gepaard. Daar is heelwat bakkies tussen R900 000 en R1 miljoen. Party is al oor die miljoen. Mitsubishi het egter die antwoord.

Ons het onlangs tyd met ʼn Mitsubishi Triton 2.4 dubbelkajuit GL deurgebring. Hy het dieselfde enjin as sy duurder boeties, maar is net geprogrammeer met bietjie minder krag en toegerus met ʼn 5-spoed handrat en is dus heelwat goedkoper.

Die ontwerp is heel netjies. Aan die binneruim is gewone bekleedsel – geen leer nie. Ek hou baie daarvan, dis nie koud in die winter nie, en dit sweet nie in die somer nie. Die bestuursposisie is gemaklik, en die res van die kajuit is heel ergonomies uitgelê.

Die gewone luukshede soos elektriese vensters, lugreëling, ʼn raakskermklankstelsel met Apple CarPlay en Android Auto is daar. Aan die veiligheidskant is daar sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en twee lugsakke.

Dit is alles net ʼn klein stukkie van die groter prentjie. Die harmonie van al daai dele is perfek. Die bakkie is lieflik gemaklik, en bitter lig op diesel. Die ratverhoudings is perfek gekalibreer dat die 5-spoed handrat lekker werk. Moenie dat die 100 kW jou bluf nie. Die bakkie voel heeltemal sterk genoeg en ry soos ʼn droom. Die 2.4 viersilinderturbodiesel bied 100 kW en 324 Nm. Die wringkrag is egter beskikbaar tussen 1 500 en 2 500 r/min. ʼn Pragtige strek in die toere om in te ry.

Die sleepkapasiteit op die bakkie word deurgegee as 1 400 kg. Heelwat minder as die 3 100 kg van die duurder Triton-model. Ek’t kers opgesteek by Mitsubishi en wou weet wat die rede daarvoor is. Het die goedkoper GL-model ʼn laer gehalte ewenaar, of sleepstang? Nee, dit is doodeenvoudig ʼn spesifikasie wat van Japan af kom weens die minder krag. Ek sal dan sê daar is geen rede hoekom dié Triton nie 2 000 kg kan sleep nie. Ek dink die manne by Mitsubishi in Japan is bietjie konserwatief met hul syfers.

Dié bakkie is werklik lekker. Én goedkoop! Gewoonlik beteken goedkoop sleg, maar nie hier nie. Daar is twee ander voordele. Dit is nie ʼn Hilux of ʼn Ranger nie – so dit is beslis ʼn laer risiko in terme van diefstal en kaping – so selfs jou versekering gaan minder wees. En minder pyn by die pomp. Daar is dus absoluut nie een ding fout met die bakkie nie. Kan ek ʼn witte kry, asseblief?

Die Triton-reeks lyk só:

Mitsubishi Triton 2.4DI-D enkelkajuit GL100 kW/324 Nm8 ℓ/100 kmR419 995
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit GL100 kW/324 Nm8 ℓ/100 kmR494 990
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit133 kW/430 Nm7,5 ℓ/100 kmR599 990
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit outo133 kW/430 Nm8,2 ℓ/100 kmR619 990
Mitsubishi Triton 2.4DI-D Xtreme133 kW/430 Nm7,6 ℓ/100 kmR688 990
Mitsubishi Triton 2.4DI-D 4×4 outo133 kW/430 Nm8,2 ℓ/100 kmR689 990
Mitsubishi Triton 2.4DI-D 4×4 Heritage133 kW/430 Nm8,3 ℓ/100 kmR729 990
Mitsubishi Triton 2.4DI-D 4×4 Xtreme133 kW/430 Nm8,3 ℓ/100 kmR758 990

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Pik up 2.2CRDe dubbelkajuit S10103 kW/320 Nm7,9 ℓ/100 kmTwee lugsakke4 jaar/ 120 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R397 999
GWM P-Series 2.0TD dubbelkajuit DLX120 kW/400 Nm8,1 ℓ/100 kmSes lugsakke5 jaar/ 100 000 km-waarborg en -diensplanR463 950
Ford Ranger 2.2 TDCi dubbelkajuit Hi-Rider XL handrat118 kW/385 Nm6,5 ℓ/100 kmTwee lugsakke4 jaar/ 120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R490 000
Nissan Navara 2.5DDTi dubbelkajuit SE120 kW 403 Nm7,2 ℓ/100 kmTwee lugsakke6 jaar/ 150 000 km-waarborg

6 jaar/ 90 000 km-diensplan

R514 500
Isuzu D-Max 1.9TD dubbelkajuit LS handrat110 kW/350 Nm7,3 ℓ/100 kmSewe lugsakke5 jaar/ 120 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R533 900
Toyota Hilux 2.4 dubbelkajuit Raider handrat110 kW/400 Nm7,1 ℓ/100 kmSewe lugsakke3 jaar/ 100 000 km-waarborg

9 dienste diensplan

R551 100

Tussen dié mededingers sal ek die Mitsubishi, Nissan, Isuzu of Toyota oorweeg. Die Ford word eersdaags vervang. Die Isuzu en Toyota lyk dalk duur – maar bied sewe lugsakke teenoor die res se twee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

vuurvliegie ·

Baie kopers het nie die finansiele vermoee om meer as R400 000 te spandeers op ‘n voertuig nie.
Ek persoonlik dink daar is ‘n groot mark vir dierdie prysklas as die vervaardigers bereid is om ‘n goeie bakkie teen ‘n bekostigbare prys te bemark. Almal het gelag oor die Mahindra maar die bakkies word net meer en meer op ons paaie want hulle is reg geprys vir dit wat jy kry. Sterkte aan Mitsubishi

pompies ·

Die P series lyk ook na n goeie koop, het al n hele paar van hulle gesien op die pad.

Manie ·

Net goedkoop vir diegene wat R12 000.00 per maand motor toelae kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.