ʼn Praktiese sportnuts met Franse flair

Peugeot 5008. (Fotos: Verskaf)

Party keer word ʼn voertuig by die Maroela-kantoor vir toetsbestuur afgelaai wat ʼn mens net laat wonder: Hoekom? Daar is voertuie daar buite wat nie een ding beter doen as sy mededingers nie. Gelukkig is dit geensins die geval met die Peugeot 5008 nie.

Ja, die Franse het nie die beste handelsmerkekwiteit in Suid-Afrika nie weens ʼn moeilike geskiedenis en toe tegnies-gevorderde voertuie wat rekenaars eerder as ou mechanics nodig gehad het. Te danke aan Xavier Gobille, vorige MD van Peugeot Suid-Afrika, is reusevordering gemaak in daardie opsig. Dit sal nog tyd neem om die handelsmerk weer op te bou, maar dit is ʼn stap in die regte rigting.

Peugeot 5008. (Fotos: Verskaf)

Peugeot se nuutste mediumgrootte sportnutsvoertuig gaan beslis nie daardie proses belemmer nie. Die 5008 is ʼn mededinger vir die Rav4, die Sportage, die X-Trail, en die Tiguan, maar het ʼn spesifieke truuk in sy mou. Die 5008 het sewe sitplekke. Die enigste ander sportnutsvoertuie in dié klas wat dit bied, is die X-Trail en die Tiguan AllSpace.

Die ontwerp van die 5008 is regtig aantreklik met hoekige lyne. Dit is vir my ʼn manliker ontwerp en ek hou daarvan. Die binneruim is egter waar die 5008 uitblink. ʼn Pragtige en luukse kajuit wag op jou as jy die deur oopmaak. Puik bougehalte is aan die orde van die dag en die binneruim is toegedraai in lieflike leer en sagte materiale.

Peugeot 5008. (Fotos: Verskaf)

Franse voertuie was nog altyd voorlopers as dit kom by spesifikasievlakke in hul voertuie. Alles én die kombuiswasbak is daarbinne. ʼn Magdom lugsakke, al die veiligheidstelsels, elektroniese sitplekke met spoed- en klimaatbeheer – de lot… tot geheuestellings vir die elektroniese sitplekke wat ook kan masseer! Ja, die piepklein stuurwieletjie is nog steeds vir my ʼn moeilike een om aan gewoond te raak, maar ʼn mens raak hom naderhand baas.

Die 5008 word aangedryf deur ʼn 1.6-viersilinderturbopetrolenjin wat 121 kW en 240 Nm bied. Ek sou eerder die 2.0HDI koop indien dit my geld was, maar die petrol is beslis nie sleg nie. Die outomatiese ratkas wissel heel gemaklik deur die ratte, maar kan grof raak indien ʼn mens soos ʼn nar jaag. Die 1.6-turbo bied billike brandstofverbruik en kan lekker toer met ʼn groot gesin aan boord.

Peugeot 5008. (Fotos: Verskaf)

Die ritgehalte is weereens waar die Peugeot uitblink. Die rit is lieflik soepel sonder om slap te raak met uitermatige wilde bakrol. Padhouvermoë is in die kol vir ʼn mediumgrootte sportnutsvoertuig met sewe sitplekke.

Die Peugeot is maklik om op te som. Hy het luukshede soos die masseerfunksie en ʼn panoramiese sondak wat gewoonlik in duurder klasse eers te vinde is. Die enjin is nie asemrowend nie, maar die luuksheid is. ʼn Mens kan die enjin regstel en die diesel koop. Daar is bitter min 5008’s wat rondrits, so sy versekering sal lekker billik wees, én die kar self is so veilig soos wat kan kom.

Maroela se nuusredakteur het ook ʼn beurt gehad met die 5008. Ek hou daarvan om van tyd tot tyd ander mense se mening oor die karre te kry. Sy ry self ʼn Polo en was eers geïntimideer deur die grootte, maar die parkeersensors maak dit makliker. Die digitale kop-op-vertoon (HUD) wat aanwysings bied, was ook vir haar indrukwekkend,  maar die lekkerste van alles is die draadlose herlaaimatjie in die konsole wat ʼn mens se selfoon kan laai indien jou toestel daardie funksie het. Die masseerfunksie het haar ook lekker kalm in die verkeer gehou.

Die reeks lyk só:

Peugeot 5008 1.6T Allure121 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR539 900
Peugeot 5008 2.0HDi Allure110 kW/370 Nm4,8 ℓ/100 kmR559 900
Peugeot 5008 1.6T GT Line121 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR584 900
Peugeot 5008 2.0HDi GT Line110 kW/370 Nm4,8 ℓ/100kmR604 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Nissan X-Trail 2.5 4×4 Acenta Plus126 kW/233 Nm8,3 ℓ/100 km3 jaar/ 120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R488 500
Volkswagen Tiguan Allspace 1.4TSI Comfortline110 kW/250 Nm7,1 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R543 700
Mitsubishi Outlander 2.4 GLS Exceed123 kW/222 Nm8,2 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R559 995

Peugeot 5008. (Fotos: Verskaf)

Nie een van die mededingers kom naby die Peugeot as dit by spesifikasievlak kom nie. Die X-Trail en die Outlander het wel vierwielaandrywing, maar ʼn atmosferiese 2.5‑ en 2.4‑petrolenjin wat baie dors kan raak – én hulle het palwisseltransmissies (CVT) wat nie waffers is nie. Indien ʼn mens sewe sitplekke wil hê, dink ek die diesel 5008 is onoortrefbaar in dié segment indien mens nie vierwielaandrywing nodig het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Die Franse flair, je t’aime, bisous, vous nourriture, chocolat toi, net soos baie toebehore op die voertuig.
Dit is ‘n unieke voertuig vir unieke mense.
Conduire prudemment!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.