ʼn Saluut aan nostalgie

Ek weet nie of dit is omdat ek begin ouer word nie en of dit is omdat ek weet die binnebrandenjin sal nie meer lank oorleef nie – maar daar is min dinge wat die hare in jou nek so kan laat regop staan soos die gebrul van ʼn kruisvlak-kruk atmosferiese 5.0 V8 op die R44 tussen Gordonsbaai en Hermanus.

Ford Suid-Afrika kon sy hande op 100 eenhede van die Mustang California Special kry. Die eerste CS het in 1968 in Kalifornië die lig gesien. Verskeie visuele opknappings het dié Mustang uniek gemaak.

Die nuutste model het ʼn swart sierrooster, ʼn splitser op die voorste buffer, ʼn drukvlerk agter op die kattebak, lugopenings aan die kante agter die deure, vier uitlaatpype en vyf-speek‑sierwiele wat die Mustang aan die buitekant uniek maak. Aan die binneruim is daar verhitte en verkoelde voorsitplekke wat in Miko-suède oorgetrek is – ʼn sintetiese materiaal wat van herwinde poliëster gemaak is. Daar is rooi stiksels op die sitplekke wat hom van die gewone 5.0 GT onderskei.

Onder die kap sit ʼn 5.0 V8 wat 330 kW en 529 Nm bied. Die krag word aan die agterwiele gestoot deur ʼn 10-spoed‑wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas. Van 0‑100 km/h neem ʼn blitsige 4,5 sekondes en die Mustang behoort sy bene tot ver bo 250 km/h te kan strek. Dié inligting is egter net syfers op ʼn skerm. Die gebrul, en vibrasies wat deur jou boude, voete en hande gaan as jy ʼn Mustang se halsband losmaak en die versneller in die mat begrawe, sing heeltemal ʼn ander deuntjie. Dit maak glad nie saak hoe vinnig hy is nie; hy moet net só klink terwyl hy dit doen.

Ritgehalte in die Mustang is nie so hard soos ʼn mens met van die meer moderne sportmotors ervaar nie vanweë sy MagnaRide-veringstelsel. Die Mustang is meer van ʼn GT (Grand Tourer) as deur en deur ’n sportmotor. Ja, moderne tweedeursportmotors soos BMW se M440i is waarskynlik heelwat vinniger, maar hy is nie halfpad so koel nie.

ʼn Mustang bly eenvoudig onmiskenbaar. Daar is ʼn handjievol voertuie wat met dieselfde faam kan spog. Dink Volla, Mini, Jeep – en Mustang. Talle ander vervaardigers het met minder sukses probeer om ʼn handelsmerk nuwe lewe te gee met ʼn ikoniese ontwerp en gefaal – maar nie die Mustang nie. Ek hoop ons sien nog minstens een generasie Ford Mustang met ʼn 5.0 V8.

Die Mustang lyk só:

Ford Mustang 5.0 GT FastbackR1 084 900
Ford Mustang 5.0 GT-CS California Special FastbackR1 154 900
Ford Mustang 5.0 GT ConvertibleR1 159 200

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km‑waarborg. Diensplanne is opsioneel beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

krodedil ·

Brendon as jy self eers agter die stuur van ‘n Mustang V8 geklim het haal hulle jou moeilik daaruit want glo my jy klim nie vanself uit nie. Bly jy het hom geniet. Ek wag in spanning vir die Ranger met 300kW.

JohanR ·

Is daar ‘n stink ryke wat een vir my kan koop…..Ramaphosa, Rupert, Motsepe, NDZ, Ace, Mantashe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.