Nissan se titaan wys sy ouderdom

(Foto: Verskaf)

As mens dink aan die grootste, mees bekwame viertrekvoertuie staan twee uit. Nissan se Patrol en Toyota se Cruiser 200. Albei is nou al redelik lank in die tand, maar daar sal eersdaags ʼn nuwe Cruiser wees – die 300.

Nissan het so pas ʼn opgeknapte Patrol vir ons gestuur vir ʼn paar dae. Dit is ʼn enorme buks dié. As mens in hom ry, kyk jy af op selfs die dubbelkajuite en bakkies. Dis fantasties. Die visuele opknapping het helaas nie my asem weggeslaan nie, maar ek is nie die teikenmark nie; so ek sal maar my opinie vir myself hou.

Aan die binneruim is daar nog weelde wat uit die vroeë 2000’s kom. Dit is luuks, maar dit voel nie modern en nuut nie; dit voel oud en 100% Japannees, maar tog rateltaai. Die gebrek aan eenvoudige toerusting soos Apple CarPlay is swak. Daar is drie rye sitplekke. Die voorstes voel eerder soos ʼn kolossale luukse rusbank wat jy in jou sitkamer vind as ʼn motorsitplek. Die tweede ry is netjies en groot, selfs met DVD-skerms en oorfone toegerus, en dan kom die jongstes heel agter in die derde ry.

(Foto: Verskaf)

Dit is in die enjin-afdeling waar die Patrol die finale spyker in sy eie doodskis slaan. Dit is ʼn atmosferiese 5.6 V8 wat 298 kW en 560 Nm bied. Dit klink dalk heel goed, maar mens kry dit deesdae uit ʼn turboviersilinder. Die V8 klink mooi, en hy kan haastig wees as jy die versneller begrawe, maar hierdie voertuie word nie só gery nie. ʼn Lekker turbodiesel sou meer gepas wees vir Suid-Afrikaanse toestande en rygewoontes. In Doebai is die Arabiere mal daaroor om met die Patrol in die duine te jaag, maar hul petrol is spotgoedkoop. Hier op die platorand, rustig tussen 120 en 130 km/h, bied die Patrol tussen 14,2 en 15,4 ℓ/100 km wat  bitter sleg op die oop pad is . Die krag lê ook heel bo in die toerestrek, en as mens hom só ry gaan jy sukkel om 30 ℓ/100 km te handhaaf. Selfs met sy allemintige 140 ℓ-brandstoftenk gaan jy sukkel om 1 000 km te haal.

Op die pad wen die Patrol weer ʼn paar punte terug. Al is die wa so groot voel hy nie onbeheerbaar lomp en groot nie. Die vering is lieflik soepel en die rit luuks. Die Patrol beskik wel oor fantastiese 4×4 vermoë en as dit is waarvoor jy hom wil gebruik, sal dit meer sin maak.

Dit is ongelukkig eenvoudig om die Patrol op te som: Dis nou tyd vir ʼn nuwe een met ʼn turboaangejaagde sessilinderenjin met ʼn hibridiese dryfstelsel en ʼn nuwe binneruim. Die Patrol teiken ʼn klein nismark, maar ek voel dat die Cruiser die beter opsie is in Suid-Afrika.

Die Patrol lyk só:

Nissan Patrol 5.6 V8 LE AWD298 kW/560 Nm14,4 ℓ/100 kmR1 530 900

Die Patrol word gedek deur ʼn 6 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Land Rover Defender 110 P400 HSE294 kW/550 Nm9,9 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 405 978
Toyota Land Cruiser 200 4.5D-4D V8 VX-R195 kW/650 Nm10,2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste-diensplan

R1 544 200
Lexus LX570270 kW/530 Nm14,5 ℓ/100 km7 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 894 100

Tussen dié mededingers is ek in twee geskeur tussen die betroubaarheid van die Cruiser en die fantastiese Defender. Die Defender het die turbo-krag wat baie sterker voel hier op die platorand. Hy’t die ultra-moderne binneruim… hy’t alles, maar het hy die betroubaarheid?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gato ·

Dit is soos die Engelse sê n “no brainer” om ‘n keuse te maak hier. Dit is nou as jy diep sakke het en die duur speelgoed kan bekostig. Land Cruiser is my eerste, tweede en derde keuse. Kyk maar op Youtube oor die (on) betroubaarheid van die nuwe Rand Lover.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.