Norden 901 Expedition is ʼn kakiebos in kosmostyd

(Foto: Brian Cheyne)

Hierdie tyd van die jaar is kosmostyd en oral waar jy ry, staan plate pienk en wit kosmosse. Pastelkleure wat mooi lyk; tog is die blomme nie juis gehard nie en verwelk hulle gou.

Husqvarna het verlede jaar die nuwe Norden 901 bekendgestel en hoewel ek beslis nie hierdie fiets met ’n kosmosblom wil vergelyk nie, het die hardebaard-vrotpadryers wél na iets meer gesoek. Iets taaier en meer gehard as ’n kosmosblom.

Iets soos ’n kakiebos. Iets soos die Husqvarna Norden 901 Expedition.

Husqvarna word deur dieselfde maatskappy besit wat KTM besit. Dit is dus net logies dat die Norden die meeste van sy meganiese komponente met die KTM 890 Adventure deel.

Husqvarna het egter sy eie ontwerpelemente na die Norden gebring. As jy die KTM en die Norden langs mekaar parkeer, sal jy moeilik glo die fietse kom uit dieselfde fabriek en deel soveel komponente.

Soos ons vantevore al berig het, het Husqvarna die standaard‑Norden mooi tussen die KTM 890 en 890 R laat inval, maar die Expedition bring weer ’n unieke model na die Norden‑reeks.

Dit is baie duidelik dat hierdie fiets meer vir lang, epiese toere ontwerp is. Die vering en lang lys standaardtoerusting op die Expedition maak dit ’n baie aantreklike model. Die fiets is gebou vir meer tegniese terrein, maar terselfdertyd het Husqvarna baie aandag aan die gemak van die ryer gegee.

Die Expedition is ’n groot fiets. Die enjin is dalk “net” 889 cc en is gebaseer op KTM se bewese LC8‑enjin, maar Husqvarna was baie liberaal met die verpakking. As jy die Expedition op sy hoofstaander laat staan, is die fiets amper net so hoog soos ek, en ek staan ses voet een in my stewels.

Die bakpanele is groot en lyk baie netjies in die blou afwerking. Die skerm is groter as die een op die standaard‑Norden en alles werk saam om die wind goed om die ryer te gelei.

Om die enjin is ’n stewige beskermingsplaat aangebring en dit beskerm terselfdertyd die brandstoftenk. Dié is oor die middel van die fiets gedrapeer en strek tot by die onderkant van die enjin. Alles dra by om die swaartepunt van die fiets so laag moontlik te kry.

Die saal is netjies met geel stikwerk afgewerk en is 875 mm hoog. Jy moet verkieslik lang bene hê as jy die Explorer wil baasraak.

Dan kom die Explorer verder standaard met twee 18 liter‑ sagte bagasiesakke. Die rame is reeds gemonteer en die sakke is baie eenvoudig om af te haal en op te sit. Ek het my bedenkinge oor die duursaamheid van die sakke, maar dit sal ʼn mens eers kan bevestig wanneer jy dit vol laai en op reis gaan.

Die standaardtoerusting sluit verder snelheidsbeheer, verhitte grepe en selfs ’n verhitte saal vir die ryer in. Die passasier se agterstewe gaan egter koud bly.

Vandat jy jou been oor die fiets gooi, kan jy sien dat Husqvarna beslis die ryer so gemaklik as moontlik wil hê. Die saal bied baie ondersteuning en is plat en uiters gemaklik. Die handvatsels is breed en die skerm hoog. Hierdie is beslis een van daardie fietse waarmee ek Kaapstad toe sal kan ry vir koffie en dan weer omdraai en die grondpad huis toe vat.

Kilometers word moeiteloos opgevreet en met die snelskakeling as standaard, is selfs ratwisseling geen moeite nie. Voor jou is ’n groot TFT-skerm en bo die skerm is daar plek om jou GPS of foon te monteer. Daar is ook ’n 12 V-sok om jou bybehore aan die gang te hou.

(Foto: Brian Cheyne)

As die teerpad ophou, kan jy een van twee ryprogramme kies: Off-Road of Explorer. Ja dis nie ’n tikfout nie, ek weet self nie hoekom Husqvarna nie hierdie program Expedition genoem het nie. In die Off-Road-program word die tolbeheer en sluitwering elektronies beheer en hierdie programme is nou al so verfyn dat jy selde meer as dit nodig sal kry.

As jy egter nie hou van die elektronika wat jou voorsê nie, is daar die Explorer-program. Hier kan jy self kies hoeveel hulp, indien enige, jy van die elektronika verwag. Om jou verder te help op die rowwe terrein, het die Expedition die nuutste WP XPLOR‑vering en die grondvryhoogte is ’n stewige 270 mm.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Norden is ’n lekker fiets. Ek het ’n baie lang sirkelroete daarmee gery: van teerpad tot grondpad met selfs ’n stuk modder en die fiets het elke terrein met gemak hanteer. In my hele dag se ry het ek seker nie eers begin raak aan wat hierdie fiets kan vermag nie.

Vir die meeste mense sal die standaard‑Norden dus meer as genoeg wees. Die prysverskil is ná die Expedition-model egter so gering, dat dit amper vanselfsprekend is om eerder die Expedition te koop. Dit bied baie fiets vir die prys, want jy hoef niks verder by te koop nie. Jy kan letterlik die tasse in die vertoonlokaal pak en op reis gaan.

Hierdie fiets se internasionale bekendstelling is plaaslik gehou en die ontvangs was uiters gunstig. Gaan loer gerus in by jou naaste Husqvarna-handelaar en gaan kyk of hierdie kakiebos nie dalk net die ideale fiets vir jou is nie.

  • Besoek die webwerf vir meer inligting.

(Foto: Verskaf/Husqvarna)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Hallo Brian
Noem asb die plekke waar jou artikels se foto’s geneem is.
Dankie

Brian ·

Die foto’s van die Norden is geneem in die Cullinan/Rayton omgewing. Daardie lang grondpad is die Brandbach pad. As jy uit Cullinan op die R513 in die rigting van Bronkhorstspruit ry, sal jy ‘n afdraai na links sien na Brandbach. Na so 5 km, draai jy weer links en dit vat jou weer in die rigting van Cullinan. Ek bly in die Noorde van Pretoria, so meeste van my artikels se foto’s word maar hier in die omgewing geneem.

Karel Kobus Kruger ·

Dankie, ek sal daai Cullinan grondpaaie bietjie gaan beproef. Ek ry gewoonlik op die paaie tussen Bapsfontein en Bronkhorstspruitdam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.