Nuwe modelle van Ducati en BMW

Die Ducati Diavel V4

Net soos Covid-19 ons geleer het dat ons met gemak tuis kan werk, het dit ongelukkig ook ’n uitwerking gehad op hoe ons deesdae van nuwe motorfietsmodelle te hore kom. Voor die pandemie moes ons almal maar geduldig wag vir die EICMA-motorfietsskou wat elke jaar in Milaan gehou word. Daar was altyd groot opgewondenheid en honderde nuwe modelle is bekend gestel. Nou het die groot vervaardigers soos BMW en Ducati besef dat daar meer waarde in virtuele bekendstellings is wat sekerlik ’n baie groter gehoor bereik.

Ducati

Die Ducati Diavel V4

Ducati het in die aanloop tot EICMA elke paar weke ’n nuwe bekendstelling gehad. Dit was meestal net ’n klein kosmetiese verandering aan ’n model of ’n nuwe variant van ’n bestaande model. Sy jongste bekendstelling is egter ’n heel nuwe model: die Diavel V4.

Ducati se V4-Grandturismo-enjin van 1 158 cc is dieselfde enjin wat diens doen in die Multistrada V4 en dit is ’n formidabele kragbron. Ek is oortuig daarvan dat Ducati die hulp van die Tetris- wêreldkampioen ingespan het om al hierdie nuwe komponente te verpak in ’n motorfiets wat steeds die onmiskenbare lyne van die Diavel behou het. Die enjin oorheers die ontwerp en daar is ’n magdom veranderinge aan die detail aangebring. Die flikkers is geïntegreer in die handvatsels en die voorlig herinner aan die vorige model. Die agterligte is in die stert onder die saal ingebou en vertoon uiters modern. Jy kan egter nie die vier uitlaatpype en die enorme 240 mm- breë agterband miskyk nie.

Die 5″-TFT-instrumentepaneel is ’n groot verbetering op die vorige Diavel en kan dien as ’n navigasiestelsel. Die Diavel was nog nooit ’n subtiele, teruggetrokke fiets nie en die nuwe V4-weergawe sit net die tradisie voort.

BMW

Die BMW R 1250 R

Seker een van BMW se onderwaardeerde juwele is die R 1250 R. Dit is ’n ongelooflike lekker fiets om te ry. Of jy gou winkel toe gaan of deur ’n bergpas ry, hierdie fiets is eindelose pret. Hierdie model het ’n klein bywerking gekry vir 2023. Die enjin bly onveranderd en is steeds die 1 254 cc-bokserenjin en lewer, selfs met Euro 5-regulasies, steeds 100 kW. Afgesien van ’n paar nuwe verfskemas het  BMW heelwat aandag aan die elektronika gegee. Die fiets beskik selfs oor ’n ECO-modus wat help om die fiets so ekonomies moontlik te hou. Ek kan net nie sien dat ’n fiets met hierdie dinamiese vermoë enigsins besadig gery gaan word nie.

BMW het ook sy aanpasbare kopligtegnologie as ’n opsionele ekstra op die R 1250 R bekend gestel. Die koplig kantel saam met die fiets om die binnekant van die draai te verlig. Die TFT-skerm bied ook nou ’n alternatiewe “Sport”-skerm as standaardtoerusting. Dit wys vir jou hoe ver jy die fiets in die draai leun en hoeveel die sluit- en tolbeheer inmeng soos jy ry. BMW het ook nou ’n USB-sok as standaard op die R. Ander opsionele ekstras is verhitte sitplekke en speekwiele.

Die R 1250 R is ’n fiets wat die meeste kopers miskyk, maar ek kan onomwonde sê dat almal wat ek ken wat só een ry, net met lof van hom praat.

Die EICMA-skou skop 8 November af en dan sal ons sien wat die ander vervaardigers vir ons vir 2023 opdis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Ducati vertoon baie mooi en specs is goed volgens my, hoewel ek n Bmw Gs ry is mededinging en kompetisie n goeie ding. Sal hul syfers dophou, sterkte.

Eclectus ·

Die Diavel V4 het pas die X Diavel S op my wenslys vervang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.