Nuwe Omoda beïndruk nie

Die Chinese vervaardiger Chery het vroeër vanjaar sy weelde-handelsmerk Omoda bekendgestel.

Ons het die debuutmodel, die Omoda C5, reeds onder hande gehad en nou is sy jongste model, die Omoda C5 GT, bekendgestel.

ʼn Windmaker‑ontwerp met ʼn opsionele bakpakket wat plaaslik gepas kan word. Dié pakket bied ʼn reusevlerk agterop wat só sleg vasgebout is dat ʼn mens die skroewe in die gaping tussen die oorspronklike vlerk en die nuwe een kan sien, en dit is onaanvaarbaar. Die aërodinamiese verspreider agter is nie té sleg nie en die versierings aan die kante lyk heel goed. Die goue sierwiele op die swart kar lyk mooi, só ook die goue aksente op die sierrooster – maar pas nie by elke kleur nie.

Die binneruim lyk netjies, en die Omoda C5 het nou uiteindelik ʼn stuurwiel waarop Omoda staan en nie Chery nie, want ʼn Omoda is nie ʼn Chery-motor nie – ja, vreemd. Daar is ʼn lekker raakskerminligtingstelsel en die USB-poorte onder die middelkonsole in sy eie spasie werk lekker. Die leersitplekke is gemaklik, al kan die passasiersitplek nie laer stel nie en lang mense sit met hul kop teen die dak. Die bestuurdersitplek kan darem lekker laag sak.

Onder die kap sit ʼn nuwe 1.6‑viersilinderturbopetrolenjin wat 145 kW en 290 Nm bied; dit klink goed, maar die kalibrasie van die versneller en ratkas laat veel te wense. Indien jy wil verbysteek, het jy twee aspekte om in gedagte te hou. Die eerste is ʼn vertraging van drie sekondes tussen wanneer jy die pedaal tot op die vloer trap en wanneer die enjin en ratkas begin versnel. Die ander is die baandwaalwaarskuwing wat aan die stuur begin ruk en pluk soos hy skrik vir die kantlyn of ander karre om jou op die pad.

Op die pad van Noordhoek deur Misty Cliffs in Kaapstad het die vering sy lelike kant gewys. Aanvanklik is die kronkelvere soepel en sag, maar die skokbrekers hard. Die oomblik wat die vering verskeie golwings en hobbels terselfdertyd onder beheer moet bring, raak dinge stamperig en benoud.

Uit ʼn veiligheidsoogpunt spog die Omoda met ʼn indrukwekkende groep stelsels. Ongelukkig biep en piep en kerm elkeen van daai stelsels onophoudelik. Chery sê dit is só om vir hul voertuie die beste veiligheidsgradering te kry. Dis ʼn bogstorie. Volvo is een van die veiligste motors – en daar is beslis nie só ʼn gelawaai as jy ry nie – ook nie by een van die Duitse handelsmerke, óf die Franse nie.

Neel Hariram, tegniese bestuurder by Omoda hier in Suid-Afrika, sê ons moet gewoond raak aan hoe die Chinese dinge doen. Ek stem nie saam nie. Die Chinese handelsmerke wil nou in Suid-Afrika en Europa indring. Hulle gaan ʼn produk moet bied wat in daardie gebiede aanvaarbaar is. Hy sê ook dat Omoda eerstens ʼn tegnologiemaatskappy is wat per toeval motors vervaardig – maar dis juis die punt, die tegnologie is presies wat die motor in die steek laat.

Ek sal die Omoda C5 GT só opsom: Die nuwe enjin is lekker sterk, maar die laaste 10% van die kalibrasie is swak. Teen R599 999 is die Omoda C5 GT nie goedkoop nie en sou beslis nie my keuse wees nie. Indien jy graag Chinees wil koop, gaan koop ʼn Chery Tiggo 7 Pro vir dieselfde geld – spesifiek die voorwielaangedrewe model… dis ʼn bakgat motor.

Die reeks lyk só:

Omoda C5 1.5T 230T Tech115 kW/230 Nm6,9 ℓ/100 kmR447 900
Omoda C5 1.5T 230T Lux115 kW/230 Nm6,9 ℓ/100 kmR477 900
Omoda C5 1.5T 230T Lux S115 kW/230 Nm6,9 ℓ/100 kmR479 900
Omoda C5 1.5T 230T Elegance115 kW/230 Nm6,9 ℓ/100 kmR507 900
Omoda C5 1.5T 230T Elegance S115 kW/230 Nm6,9 ℓ/100 kmR509 900
Omoda C5 1.6TGDI 290T GT145 kW/290 Nm6,8 ℓ/100 kmR589 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 10 jaar/1 000 000 km-enjinwaarborg vir die eerste eienaar sowel as ʼn 5 jaar/70 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adri ·

Dit klink vir my of ‘n ander produk dalk net ‘n beter kopie gaan wees.

Manie ·

1000 000 km enjin waarborg beteken niks as die bakwerk op 200 00 km uitmekaarval nie.

Grens ·

Weelde in hierdie geval beteken net nog ‘n paar extra LED’s wat flikker.

Danie ·

Die motor laat my dink aan al die ouens met die goue kettings en ringe als blink maar met oorgeblaaste goud. Niks werd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.