Nuwe TVS-model: Goedkoop, maar alles behalwe generies  

(Foto: Brian Cheyne)

Met die skynbaar onuitputlike vraag na afleweringfietse stroom daar net meer en meer kleinkapasiteitfietse die land in.

Ek het onlangs met die TVS Apache 300 RR gery en was baie beïndruk met die hele ryervaring. Die bougehalte en afwerking van die fiets was ook baie goed. Toe ek egter die geleentheid kry om met die Apache RTR 200 4V te ry, was ek nie baie entoesiasties nie. In hierdie deel van die mark is die klem op bekostigbaarheid, en nie veel aandag word aan stilering gegee nie. Die fiets moet jou kruideniersware veilig van die winkel na jou voordeur kry, en nie veel meer nie. Die RTR 200 is egter nie wat ek verwag het nie.

Die RTR is ʼn kaalfiets, en die stilering is aggressief, met skerp lyne en lyk glad nie sleg nie. Die hooflig herinner nogal aan dié van die KTM Duke, en beskik oor dagryliggies. Dit is egter as jy op die fiets sit dat jy besef dat hierdie nie net sommer ʼn 200 is wat aanmekaargeflans is om vinnig te kan verkoop nie. Die saal bied baie ondersteuning en beloof om gemaklik te wees op die langpad. Op die regterkantste handvatsel is daar ʼn ‘Mode’-knoppie, wat ek nie op ʼn fiets van R41 999 verwag het nie.

Die RTR het drie ryprogramme wat jy met die ‘Mode’-knoppie stel: Rain, Urban en Sport. Op so ʼn klein fiets is dit seker onnodig, maar vir onervare ryers kan dit baie help. In Rain en Urban word beide die kraglewering en toere beperk. In Sportmodus word die enjin vrye teuels gegee, en dan lewer die RTR 21 pk. Ek was verder verras toe ek sien dat die klein TVS verstelbare Showa-vurke voor het!

Die instrumentpaneel kan ook koppel met ʼn slimfoon, en dan maak daar ʼn hele nuwe wêreld oop. Die TVS-sagteware kan navigasieaanduidings op die skerm vertoon, maar dit is nie waar dit eindig nie. Dit gebruik die GPS in jou foon om jou 0-60 km/h tyd te meet en meet selfs jou leunhoek as jy om ʼn draai gaan. Die skerm gee volledige kennisgewings van boodskappe of oproepe ontvang.

Die TVS het ʼn sagte brom en klink ook nie soos ander 200’s nie. Die fiets versnel baie flink, en sal jou maklik voor die verkeer kan hou. Op die snelweg is die fiets heel opgewasse vir die spoedgrens. Die ratkas het egter net vyf ratte, en hulle is redelik kort ook. Teen opdraandes raak die TVS amper moedeloos, maar as die pad gelyk word, of selfs effe afdraande is, dan galop die Apache behoorlik. Selfs met geesdriftige ryery het die fiets steeds 33 km/ℓ gelewer!

(Foto: Brian Cheyne)

Die RTR is dus alles behalwe ʼn generiese afleweringsfiets. Ek sal hierdie fiets hoog kan aanbeveel vir mense wat pas begin motorfiets ry, of wat geld wil spaar op hul daaglikse pendel. TVS is ook een van Indië se grootste motorfietsvervaardigers, so ek twyfel glad nie aan die fiets se betroubaarheid nie.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.