Outlander ʼn onderskatte juweel

Mitsubishi is geen nuwe handelsmerk in Suid-Afrika nie en het al deur die jare heen enorme sukses hier geniet. Die handelsmerk het egter deur ʼn moeilike tyd gegaan, maar vir die afgelope jaar lyk hul verkope belowend.

Mitsubishi se Outlander is werklik ʼn juweel – maar nog altyd heelwat onderskat in Suid-Afrika. Die Outlander PHEV het wêreldwyd talle toekennings verower en toe ek my vroeg vanjaar in Skotland en Ierland bevind, was die aantal Outlanders op die paaie verstommend.

Ons het nou uiteindelik die jongste model in Suid-Afrika beskikbaar. Ongelukkig steeds nie die PHEV-inprophibried nie. Werklik ʼn mooi motor. ʼn C-segment-sportnutsvoertuig met twee troefkaarte in sy mou – eerstens sy vierwielaandrywingstelsel en tweedens die derde ry sitplekke wat ʼn sesde en sewende sitplek bevat.

Terwyl die ontwerp mooi en stylvol is, is die binneruim luuks en ergonomies met ʼn enorme spesifikasievlak. Elke denkbare luuksheid is in die Outlander gestop wat dit uiters gemaklik maak om in die dorp die kinders mee te karwei – óf die langpad aan te durf!

Onder die kap sit ʼn nuwe 2.5-viersilinderpetrolenjin wat 135 kW en 245 Nm bied. Dit, gepaard met Mitsubishi se CVT-palwisseltransmissie, bied verbasend goeie brandstofverbruik. Aanvanklik, as mens se insette op die versneller nie egalig is nie, kan die ratkas vreemd reageer, maar sodra mens dit onder die knie het, werk dit piekfyn.

Die ritgehalte is puik, ten spyte van die 20″-sierwiele. Die 210 mm-grondvryhoogte is heel goed, naasbeste in sy klas agter die Forester se 220 mm. Jare terug, indien mens goeie ritgehalte gehad het, was goeie padhouvermoë nie moontlik nie. Die Outlander tref ʼn puik balans tussen die twee.

Ek sal die Outlander só opsom. Daar is amper geen C-segment-sportnutse met vierwielaandrywing én sewe sitplekke oor nie – mens moet dan na die groter D-segment-sportnutse soos Fortuner, Everest, mu-X en Pajero Sport kyk – en daai voertuie met dieselfde tipe spesifikasie kos heelwat meer. Dis ʼn puik voertuig en moet beslis oorweeg word indien jy in die mark is vir só ʼn tipe voertuig.

Die reeks lyk só:

Mitsubishi Outlander 2.5 GLSR729 995
Mitsubishi Outlander 2.5 AspireR759 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Nissan X-Trail 2.5 Acenta Plus 4WD135 kW/244 Nm7,8 ℓ/100 km3 jaar/150 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km- diensplan

R782 700
Volkswagen Tiguan Allspace 2.0TSI 132 kW 4Motion Style132 kW/320 Nm8,9 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R797 300
Mitsubishi Pajero Sport 2.4 DiD 4×4133 kW/430 Nm8,1 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R819 990
Isuzu mu-X 3.0TD LSE 4×4140 kW/450 Nm7,6 ℓ/100 km5 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R927 700
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 VX150 kW/500 Nm7,9 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste- diensplan

R942 900
Ford Everest 2.0 BiTurbo Sport 4×4154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R1 020 300

Dit is almal sewesitplek-opsies. Die Mitsubishi, Isuzu, Toyota én Ford is almal leerraamvoertuie wat op bakkie-boeties geskoei is en bied ʼn totaal ander ervaring as die Outlander, X-trail en Tiguan. Daar is sewe sitplekke beskikbaar in die Peugeot 5008, maar sonder vierwielaandrywing en weer met vierwielaandrywing in verskeie C-sportnutse, maar sonder sewe sitplekke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos 100 ·

Ten spyte van die risikos, is die Toyota Fortuner 2.4 4×4 die beste keuse in die prysklas. Net sowat R3000.00 duurder 25kw minder krag maar 155nm meer krag. 4×4 soek krag nie kw nie!En BAIE beter herverkoop waarde. Nee wat, as die Outlander wil verkoop moet sy prys met so R100 000.00 sak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.