P vir perfek?

GWM het 15 jaar gelede in Suid-Afrika wortelsgeskiet. ʼn Nederige begin met ʼn koste-effektiewe produkaanbieding was Great Wall Motors se strategie. Ná die eerste dekade het GWM sy handelaarsnetwerk lekker gevestig, en die groeipyne van die eerste klompie jare oorleef.

GWM het ʼn wyle terug die P-Series in Suid-Afrika bekendgestel. ʼn Mooi ontwerp met hope tegnologie, ʼn gevorderde 2,0-turbodieselenjin en ʼn 8-spoedratkas… en nie enige ratkas nie, ʼn ZF 8-spoed outo – een van die beste ratkaste wat vandag beskikbaar is.

Dis in die binneruim waar die luuksste LT-modelle ʼn mens beïndruk. Die deurgestikte leerbekleedsel vertoon uiters luuks. Terwyl jy lekker gemaklik sit, bied die indrukwekkende 360 grade kameras vir die bestuurder ʼn puik uitsig wanneer ʼn mens die P-Series parkeer. Wanneer ʼn mens uit ʼn parkeerplek terugstoot, is daar agterkruisverkeerwaarskuwing wat sal verseker dat jy nie in ʼn voetganger, fietsryer of ander motoris vasry nie. Ook deel van dié veiligheidsuite is baanbeheerstelsel met blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing met noodremhulp en aanpasbare spoedkontrole.

Verder is die binneruim van die GWM P-Series gepeper met innoverende tegnologie soos ʼn draadlose laaimatjie vir jou slimfoon, stembeheer vir verskeie funksies, sleutellose toegang tot die voertuig en dan al die gewone luukshede soos klimaatbeheer, spoedkontrole, elektriese vensters en dies meer.

Nog ʼn puik funksie van die GWM is die ingeboude trappie in die laaibak se klap. ʼn Mens gebruik die trappie om maklike toegang te kry tot die laaibak agter sonder om op jou knieë te probeer opstruikel.

Die 2,0-viersilinderturbodieselenjin bied ʼn lekker 120 kW en 400 Nm. Daar is slegs ʼn outomatiese ratkas beskikbaar, maar twee dryfstelsels – 4×2 en 4×4. Die 4×4-model is met ʼn laestrekratkas toegerus.

Dis op die pad waar die GWM P-reeks verder beïndruk. Die breë kajuit bied gemaklike sitplek vir vyf mense. Die ritgehalte is lekker soepel en die kajuit lieflik stil met min wind of padgeraas wat die kajuit binnedring.

Die reeks lyk só:

GWM P-Series 2.0TD dubbelkajuit 4×2 LSR515 950
GWM P-Series 2.0TD dubbelkajuit 4×4 LSR565 960
GWM P-Series 2.0TD dubbelkajuit 4×2 LTR589 950
GWM P-Series 2.0TD dubbelkajuit 4×4 LTR640 950

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en ʼn 5 jaar/100 000 km-diensplan.

Klik hier om jou naaste handelaar te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Francois ·

Ek ry nou die Steed 5 en kyk elke oggend vol verwagting in die motorhuis of my bakkie nie dalk deur die aand groot geword het en nou n “P-reeks” geword het nie… Nie dat ek die geld het nie, maar sou baie graag so bakkie wou koop maar nou het die bouer wat die huis gebou het, die motorhuis 0,5 meter korter as die standaard 6,0 x 6,0 meter gebou, en sal die bakkie nie inpas nie….. Probleem dus opgelos…geen nuwe bakkie nie…

JohanR ·

Jy lees van ‘n kinkel in die kabel. Jy sal ‘n kinkel in jou motorhuis se deur moet sit Francois.

Manie ·

Gaan alles nog heel wees na ‘n rowwe rit deur Kgalagadi, Botswana en Namibia?

VaalDonkie ·

Ek wag maar tot iemand anders daai toets doen. Ek ry in elk geval nie daar nie, maar ek sou graag wou weet my bakkie kan dit doen. Want anders kan ek net sowel maar ‘n plat kar gekoop het.

Manie ·

Dis waar ek taamlik gereeld rondry, asook rowwe Karoo agterpaaie, dus wil ek gemoedsrus hê.

Wielspore ·

Die meeste dubbelkajuit 4×4 Bakkies ry 98% van die tyd op teerpaaie, die 2% is daardie uitstappie na die buiteland. Koste effektief kon jy net sowel ‘n Bakkie gehuur het vir die buitelandse uitstappie. Die 98% van die tyd word die Bakkie net gebruik om ander mense te beindruk. Nogal ‘n duur prys om te betaal vir status. Ek self besit ‘n Amarok 4×2 DC wat net so lekker op die teerpad en grondpad ry, dan is hy nog ekonomies ook.

Manie ·

My bakkie ry ook meestal teerpad, maar heel dikwels ook grondpad, want dis waar ek kuier, die afgeleë plekke waar die paaie meestal rof is. Dan wil ek ten minste weet dat dit my daar en terug gaan bring en wil nie sit en naels kou nie.

Veritas ·

Ek dink dis ‘n baie goeie vraag. Ek vermoed die bou gehalte is miskien nog nie heeltemal op die standaard van die Japanese handelsmerke nie, maar vir my is die verbetering in bou gehalte opmerklik in die laaste 10 jaar. Ek was ‘n hele paar jaar terug by die GWM garage in New Road, Midrand. Die bou gehalte was nie so goed nie, die panele was nie reg opgeline nie en die venster se winder het op die demo model afgeval. Ek dink daai dae is lankal verby en ‘n mens moet nie die Chinese en hulle handelsmerke onderskat nie. Ek is nie in die mark vir ‘n bakkie nie, maar ek persoonlik sal eerder ‘n 8 jaar oue Hilux of Isuzu koop voordat ek die Chinese trokkie aanskaf, as ek daai grond paaie gereeld sal aandurf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.