Porsche se Cayenne vier 20 jaar

Ek onthou nog duidelik hoe almal 20 jaar terug in hul moue vir Porsche gelag het oor die nuwe Cayenne. Dit was beslis nie die mooiste eendjie nie … maar iets wat ek tot onlangs nie geweet het nie, is hoe bekwaam daai eendjie was.

Die Cayenne is 20 jaar oud. Die eerste generasie is saam met Volkswagen se Touareg ontwikkel. As ons vandag daarna kyk is die materiale seker nie fantasties nie, maar beslis soos ʼn tenk aanmekaargesit.

Die eerste Cayenne wat ek onder hande gehad het, was die derde generasie. ʼn Cayenne S met ʼn 2,9 V6-turbopetrolenjin. Aanvanklik het die Cayenne my kop deurmekaar gemaak. Ek kon tóé nie verstaan hoekom die Cayenne bestaan nie. Die Porsche Cayenne is eerstens ʼn Porsche, tweedens ʼn sportmotor – en derdens is dit net per toeval dat hy soos ʼn sportnutsvoertuig lyk met vyf sitplekke en ʼn groot kattebak.

By die onlangse vieringe het ons ʼn Cayenne S Platinum Edition onder hande gehad. Die bougehalte is van die beste wat ek al ooit in die bedryf beleef het. Ek persoonlik is dol oor die gewone sportnutsbakstyl bó die koepeeweergawe.

Die binneruim is bitter luuks, maar tog baie ingetoë. Alles is presies op sy plek, en alles is mooi in rytjies. Heel Duits, en ek hou daarvan. Mens is dadelik gemaklik agter die stuur. Ek het al telkemaal geskryf oor die feit dat elke Porsche, ongeag model, presies soos ʼn Porsche voel. Dié Cayenne stel nie teleur nie. Dit is werklik ʼn fantastiese motor.

Onder die kap sit daar steeds ʼn 2,9 V6-turbopetrolenjin. Hy bied 324 kW en 550 Nm. 0 – 100 km/h neem ʼn ratse 4,9 sekondes en hy sal aanhou snol tot ʼn indrukwekkende 265 km/h. Dit is egter net een gedeelte van die prentjie. Nie nét kan die Cayenne sy sokkies optel en snol nie, maar sy padhouvermoë is pure plesier en pret. Mens kan werklik die Cayenne soos ʼn sportmotor deur ʼn draai stoot en hy klou vir ʼn vale. Waar die toordery inkom, is die feit dat selfs al klou hy soos ʼn neet, is sy rit soepel en nie uitermatig hard nie. Die perfekte balans.

Die eerste generasie Cayenne het ʼn laestrekratkas gehad. Ons het die voorreg gehad om drie ou Cayenne’s op ʼn 4×4-baan te neem. Een ou diesel en twee turbo’s. Die een is met ʼn Powerflow-uitlaatpyp toegerus. Daai V8 stuur hoendervleis teen jou rug op, oor jou skouers en in jou nek op soos hy sit en brul.

Soos ons rustig op die hindernisbaan rondbrul dink ek, hierts – hoekom skaf ek nie ʼn Cayenne Diesel vir vroulief aan nie? Hy sal seker die woonwa rekmerke trek, is só gebou dat hy ʼn ewigheid sal hou – én hy kan sy sokkies oprol. Ek soek een.

Die huidige Cayenne-reeks bestaan uit twee bakstyle, gewone Cayenne en koepee. Daar is die intreemodel, dán S; GTS; E-Hybrid; Turbo; Turbo S e-hybrid en die reeksleidende turbo GT. Daar is ʼn Platinum Edition van die intreemodel, S, GTS en E-Hybrid. Die reeks begin by R1 545 000 en eindig by R3 500 000 vir die Turbo-GT.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.