Rav4-reeks geskommel …

(Foto: Verskaf)

Ons het verlede jaar ses weke met ʼn Rav4 GX-hibried deurgebring. Dit was ʼn besonderse ervaring en na my mening ʼn bitter slim strategiese skuif vir Toyota om hibriede voertuie so bekostigbaar moontlik beskikbaar te stel.

Toyota het nou ʼn effense U-draai gemaak. Die hele GX-reeks is verwyder. Die intreemodelle is nou albei GX-R-weergawes, een 2.0-petrol en ʼn 2.5-hibried. Dan is daar drie VX-modelle: 2.0-petrol, 2.5-petrol en 2.5-hibried. Die hele reeks, behalwe die 2.0-VX, geniet vierwielaandrywing.

Die Rav4-reeks se ontwerp is vir my steeds baie mooi. Japannees, dog stylvol. Die binneruim is ergonomies uitgelê – en die nuwe leerbekleedsel voorwaar luuks. Die bougehalte is ook fantasties aan die Rav4. Die binneruim is toegerus met ʼn magdom luukshede van digitale instrumente tot verkoelde sitplekke op die GX-R en verkoelde én verhitte sitplekke op die VX. Verder is klimaatbeheer, Apple Carplay en Android Auto, spoedkontrole en dies meer alles standaardtoerusting.

Ons het tydens die bekendstelling die 2.5-GX-R-hibried onder hande gehad. Die hele kragbron, petrol saam met die elektriese motors, bied 163 kW en 221 +e Nm. Dit is eintlik nie só eenvoudig nie. Die 2.5-petrolenjin bied 131 kW en 221 Nm. Die voorste elektriese motor bied 88 kW en 202 Nm, en die agterste elektriese motor bied 40 kW en 121 Nm. Mens kan wel nie alles bymekaartel nie, want dit hang af van hoeveel krag daar in die battery gestoor is. Versnelling word voorwaar sterk ervaar, al is die topspoed beperk tot 180 km/h.

Juis op die pad stel die Rav4 al sy troefkaarte ten toon. Egalige kraglewering, sterk versnelling, stil kajuit en sagte vering maak die Rav4 ʼn lieflike kar om te ry. Padhouvermoë is in die kol vir dié soort voertuig – en al die veiligheidstelsels wat standaard is, is gerusstellend.

Dit is vir my baie maklik om die nuwe Rav4-reeks op te som. Dis ʼn puik voertuig – veral die hibriede modelle waarmee ons nou al telkemale 6.2 l/100 km gehandhaaf het – ongeag bestuurstyl. Dit is egter ʼn jammerte dat die 2.5-GX-hibried van die reeks verwyder is, want hy was R100 000 goedkoper as die GX-R.

Die reeks lyk nou só:

Toyota Rav4 2.0 GX-R CVT AWD127 kW/203 Nm6.7 l/100 kmR606 600
Toyota Rav4 2.0 VX CVT127 kW/203 Nm6.5 l/100 kmR617 000
Toyota Rav4 2.0 GX-R CVT Hybrid E-Four163 kW/220 +e Nm4.8 l/100 kmR644 100
Toyota Rav4 2.0 VX outo AWD152 kW/243 Nm7.3 l/100 kmR702 300
Toyota Rav4 2.5 VX CVT Hybrid E-Four163 kW/220 +e Nm4.8 l/100 kmR723 200

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg en sesdienste-diensplan. Hibriede modelle kry ʼn 8 jaar/195 000 km-batterywaarborg by.

Ons sal weer tyd met die Rav4-hibried deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Miskien as my 15 jaar oue Subaru Forester eendag die gees gee en ek ‘n nuwe kar moet koop.

Brendon Staniforth ·

Dagsê VaalDonkie

Dankie vir jou kommentaar. Ek sien daar is ‘n hibriede Subaru Forester. Ek wonder of hy sy weg tot Suid-Afrika sal vind.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.