Rekords bly in die slag by Simola!

(Foto: Rob Till)

Die Simola-heuwelren het vanjaar vir die 12de keer plaasgevind en is gekenmerk deur verskeie rekords wat in die slag gebly het.

Andre Bezuidenhout, Franco Scribante en JP van der Walt was van die groot name wat in aksie was en wat Sondag met verskeie rekords, sertifikate, louere en hardeware weggery het.

Bezuidenhout is vir die vyfde agtereenvolgende keer as algehele wenner en “Koning van die heuwel” gekroon. Hy het sy enkelsitplek- Gould GR55 in ʼn verstommende 34,161 sekondes teen die heuwel van 1,9 km opgejaag. Om dít te bereik moes hy ʼn gemiddelde spoed van 201,18 km/h handhaaf – en dít van stilstand af.

(Foto: Rob Till)

Volgens Bezuidenhout het die span ter voorbereiding die afgelope ses weke hard gewerk en die renmotor getoets. In die finale ronde het al die deelnemers vinniger gegaan, en die toestande was perfek vir die opstel van die algehele rekord. Hy voel egter nou dat hy ʼn 34,1 bereik het, dat hy volgende jaar terug sal wees om te probeer vir 33 sekondes!

Scribante se 2021-drome is deur Peter Zeelie in die wiele gery. Vanjaar het Reghard Roets die stuur oorgeneem by Wilhelm Baard in die BB Motorsport Nissan GT-R. Roets en Scribante het verskeie kere mekaar se tyd gewen, maar Roets se GT-R was in die finale rondes nie lekker gesond nie. Scribante se GT-R was self nie perfek gewees nie, met ʼn paar elektroniese goggas en ʼn verlore vyfde rat wat dinge vir hom baie moeilik gemaak het. Vir die finale ronde het hulle besluit om al die elektroniese goggas af te skakel, en absoluut alles te gee. Hy sou óf wen óf die kar sou kalf. Scribante het die gemodifiseerde sedanmotor-klasrekord met 1,2 sekondes verbeter en in ʼn blitsige 38,129 sekondes oor die eindstreep gevlieg.

Jean-Pierre van der Walt het vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen. Verlede jaar het hy met ʼn Porsche GT3 gewen. Vanjaar het hy ʼn 2016 Porsche 911 Turbo S gekies as sy wapen. Dié model is ʼn standaardvoertuig en Van der Walt kon hom in 44,562 sekondes teen die bult opjaag.

Die twee Suzuki Swift Sport-buksies wat deur Reuben van Niekerk en Wesley Greybe gejaag is, het aanvanklik geen benul gehad van watse tyd hulle voor mik nie. Ons ander joernaliste was oortuig dat enigiets in die omgewing van ʼn minuut vinnig sou wees. Van Niekerk en Greybe het dadelik beïndruk met tye onder 60 sekondes, en die finale ronde het Greybe in die handrat 54,580 sekondes bereik en Van Niekerk in die outo 54,913 sekondes. Puik vir ʼn klein 1.4-turbovoertuig op padbande, soos hy uit die vertoonlokaal uitrol.

Suzuki het reeds sy betrokkenheid by 2023 se heuwelren as borg bevestig. Hulle het planne vir ʼn klas met motorfietse en dit sal sorg vir enorme toeskouerwaarde. Ek kan nie wag vir die volgende Simola-heuwelren nie.

Só lyk die finale tye:

Pad- en supermotors:

JP van der WaltPorsche 911 Turbo S44,562
Farhaad EbrahimToyota Supra45,916
Gordon NicholsonAudi R8 V1046,032
Garth MackintoshMcLaren 720S46,318
Feroz EbrahimToyota Supra47,437
Jared YeoPorsche Cayman S48,285
James TempleShelby Terlingua48,345
Ciro de SienaBMW i4 M5049,231
Jacques WheelerMcLaren Mp4-12C49,641

Gemodifiseerde sedanmotors:

Franco ScribanteNissan GT-R38,129
Charl JoubertLotus Elise39,278
Wade van ZummerenNissan GT-R41,605
Pieter ZeelieToyota MR242,060
Franco di MatteoJaguar XKRR42,243
Aldo ScribanteAudi S41:24.770

Enkelsitplek: ren- en sportmotors:

Andre BezuidenhoutGould GR5534,161
Robert WolkPillbeam Infinity V836,335
Devin RobertsonRadical Sr1 Prosport39,515
Byron MitchellFormula VW39,706
Andrew RackstrawFormula Ford39,765
Rui CamposShelby Can Am40,805
Megan VerlaqueSpeedcar Extreme46,828

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.