SA se motor van die jaar gou gekroon

Die beoordeling vir die jaarlikse Motor van die Jaar-kompetisie het onlangs op die Zwartkops-renbaan plaasgevind.

Daar is vanjaar 21 finaliste in die tien kategorieë waarin daar meegeding word. Daar is egter geen kandidate in de kategorie vir intreevoertuie nie. Dit is veral in die afdelings vir kompakte gesinsmotors, gesinsmotors en elektriese en hibriede voertuie waar sake kan warm raak met die meeste finaliste wat in die drie kategorieë meeding.

“Hierdie finaliste is die room van die oes in Suid-Afrika, en ons kan nie wag om te sien wie bo uitkom nie,” sê Mabuyane Mabuza, voorsitter van die 2023 Motor van die Jaar-komitee.

“Vanjaar se finaliste sluit ’n groter verskeidenheid handelsmerke in, wat die kompetisie baie meer opwindend maak.”

Die kategoriewenners en die algehele wenner van die Motor van die Jaar-kompetisie word op 1 Junie aangekondig.

Luikrûe

Die Renault Clio 5 is die enigste finalis in die kategorie.

Kompakte gesinsmotors

Hier sal vier voertuie sake uitspook. Dit is die BAIC Beijing X55, Nissan Qashqai, Opel Mokka en VW se Taigo.

Gesinsmotors

Vyf voertuie sal hier teen mekaar meeding. Dit is die Alfa Romeo Tonale, Chery Tiggo Pro 8, Honda Civic RS, Hyundai Tucson en Kia Sportage.

Luukse sportnutse

Die Jeep Grand Cherokee L en Kia Sorento sal mekaar in die kategorie die stryd aansê.

Sportnutse

Die Ford Everest is die enigste finalis in die kategorie.

Dubbelkajuitbakkies

Ford se Ranger en Isuzu se D-Max sal sake uitspook om as die bakkiekoning gekroon te word.

Luukse motors

Mercedes-Benz se S-klas is die enigste finalis in die kategorie.

Verrigtingsmotors

Die Audi RS3 is die enigste finalis in die kategorie.

Elektriese en hibriede voertuie

Die Audi e-tron GT en RS e-tron GT, die Haval H6 Hybrid, die Toyota RAV4 E-Four en die Volvo XC40 P8 Recharge ding in die kategorie mee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.