Sebastien woeker, maar Nasser steeds voor

Dit was gister die sewende skof van die 2022 Dakar-veldtydren. Foto: MCH Photo/Toyota Gazoo Racing.

Die vurige Fransman Sebastien Loeb het gister die sewende skof van die moordende Dakar-veldtydren gewen, maar Nasser al-Attiyah (in sy Suid-Afrikaans geboude Toyota) is egter steeds die algehele voorloper.

“Dit was ’n baie moeilike skof en ons was aanvanklik ’n bietjie aan die slaap gewees, maar ons het genoeg gedoen om te sorg dat ons steeds ’n stewige voorsprong geniet,” het die gewild Katar-deelnemer gesê.

Ondanks Loeb se woekersessie is Al-Attiyah en Matthieu Baumel (navigator) se algehele voorsprong steeds amper 45 minute.

Intussen het meganiese probleme Suid-Afrika se Giniel de Villiers gekniehalter.

“Dit was ’n baie teleurstellende dag; ek weet nie meer wat om te doen om net ’n bietjie geluk aan my kant te kry nie,” het ’n gefrustreerde De Villiers gesê.

Die hoofoliepyp van die Suid-Afrikaner se voertuig het die gees gegee en die olie het binne ’n japtrap uitgeloop.

“Ek is baie dankbaar jeens Henk (Lategan) en almal wat vir ons olie gegee het. Dit was een ding om die pyp reg te maak, maar ’n ander ding om genoeg olie te kry. Ons het meer as ’n uur só verloor.”

Tog is hy steeds oorgehaal om sy beste te gee.

  • Uitslae van die sewende trajek:
  1. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin 03:09:32
  2. Nasser al-Attiyah en Matthieu Baumel 03:14:58
  3. Carlos Sainz en Lucas Cruz 03:17:15
  4. Stephane Peterhansel en Edouard Boulanger 03:19:12
  5. Yazeed al-Rajhi en Michael Orr 03:19:35
  6. Bernhard ten Brink en Sebastien Delaunay 03:22:26
  7. Lucio Alvarez en Armand Monleon 03:23:09
  8. Mattias Ekstrom en Emil Bergkvist 03:24:14
  9. Nani Roma en Alex Haro Bravo 03:25:22
  10. Vladimir Vasilyev en Oleg Uperenko 03:27:37.
  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grens ·

Daai e-tron elektriese Audi’s is vinnig, net jammer hulle wiele val so baie af, letterlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.