Ses maande met ’n Ford Ranger

Ford het ons ʼn wyle terug genader om ʼn Ford Ranger oor ʼn langer tydperk op die proef te stel. Ons was gretig, maar het een voorvereiste gehad, naamlik dat die laaibak moet kan sluit as ons kameratoerusting daarin gelaai is.

Ford het ingestem om vir ons ʼn Ranger Thunder vir ses maande lank te gee. Dit is die reeksleier – ʼn dubbelkajuit, 2.0 BiTurbo 4×4-outo, donker grys, leer bekleedsel, sitplekverwarmers, CarPlay en Android Auto – die lot.

As die motorjoernalis by Maroela Media word ek gereeld bederf, maar nou sou amper almal by die kantoor toegang kry tot die bakkie. Die jonger nuusneuse wat gereeld hof toe moet gaan en dies meer kan nie uitgepraat raak oor hoe luuks die bakkie is en hoe lekker hy ry nie.

Ek het hom gebruik toe ek getrek het en tussen my en die buurman het dié Ranger waarskynlik meer tuinvullis weggery as enige ander dubbelkajuit Ranger.

Ons het altesaam 11 186 km met die Ranger gery. In die dorp handhaaf hy so 11,2 l/100 km en op die oop pad nader aan 8,6 l/100 km. Daar was nooit enige tegniese foefies nie, behalwe ʼn klapgeluid as jy skerp draai.

Voordat die bakkie vir ʼn groot reistog Kaap toe ingespan is, was hy gou by Lazarus Centurion net om seker te maak alles is geolie en gesmeer. Die klap is toe gestel – dit word veroorsaak deur die stuurkolom – maar die werktuigkundige het dadelik geweet wat dit is.

Teen die huidige brandstofprys voel die bakkie kwaai op sous, maar dis eerder die nare dieselprys. Die bakkie staan nou op 29 785 km en voel nou eers lekker ingeloop. Die afskorting in die bak werk lekker as jy min goed inlaai, maar as jy al die spasie nodig het, neem die afskorting én die stoorplek vir die rolluik baie van die laaispasie in beslag.

Die Ranger Thunder reeks lyk só:

Ford Ranger Thunder 3.2TDCi147 kW/470 Nm8,2 l/100 kmR759 200
Ford Ranger Thunder 2.0BiTurbo157 kW/500 Nm7,8 l/100 kmR783 700
Ford Ranger Thunder 2.0BiTurbo 4×4157 kW/500 Nm8,1 l/100 kmR839 900

Die hele reeks kan 3,5 ton sleep. Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km‑waarborg en 6 jaar/90 000 km‑diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grens ·

Die enigste Thunder in daai ford is wanneer jy die ratkas hoor breek.

VaalDonkie ·

So kom ry een van hierdie bakkies eenkeer op my alie to ek oppad terug huis toe is van ‘n lekker vakansie op Plett. Ek sit toe maar my Subaru Forester XT in 4de rat en ry so ver vir hom weg dat daai Ford net so ‘n klein swart kolletjie in my truspieeltjie is. Want 192kW (by die wiele) is darem nog baie meer as 157kW by die “krukas” (dis nou die afrikaanse woord vir “crank shaft”). Maar nou ja. Ten minste dink die omies hulle kan kom traai en dit maak die langpad lekkerder.

Andre ·

Ek moes gereeld my Lumina bakkie se spiere bult teen oorywerige Ford manne. Lyk my jy verander in iets anders as jy in ‘n ranger inklim.

Wielspore ·

As mens kyk na die hoeveelheid Rangers op die pad is daar beslis vertroue en ondersteuning in die produk. Ford is soveel deel van ons land se geskiedenis as die diamante van Kimberley, op een of ander staduim het jou pad met ‘n Ford gekruis. Ons buurvrou oorkant die pad het haar klein Kia verkoop vir ‘n Ranger, aan die begin is bakkie stadig en mik-mik die erf binne gery en nou na so bietjie ervaring en vertroue gaan die wa met vertroue die erf binne. Ek self hou nog die oor teen die grond om te sien wat kom uit die samewerking tussen VW en Ford met die nuwe reeks wat in SA gebou gaan word. Na my mening is dit ‘n veer in die hoed vir SA en sy mense dat beleggers en vervaardigers die vertroue het om ‘n nuwe produk hier te vervaardig. Terselfde tyd glo ek ook dat die produk van uitstaande gehalte gaan wees omdat dit gebou gaan word in ‘n nuwe aanleg met die nuutste tegnologie. Ons hoop van harte dat SA verbruikers gaan baatvind by goeie pryse.

JohanR ·

Ek dink net dat ‘n Toyota bakkie gee jou meer vir jou geld, en dan kan daai nuwe GWM-P reeks nie geïgnoreer word nie. Baie vir jou geld en veel goedkoper as ‘n Ford Ranger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.