Sessilinder slaan ʼn ses

(Foto: Verskaf)

Ek het al tot vervelens toe geskryf oor Duitse motors en hul uitermatig harde vering. Nie net op sportiewe sedanmotors nie, maar selfs luikrûe en groot sportnutsvoertuie. Laasgenoemde is juis bedoel om prakties te wees. Gemaklik, met plek vir die hele gesin – goeie grondvryhoogte en ʼn lekker sterk enjin.

Mercedes-Benz het so pas die jongste opknapping aan sy GLE-reeks hier in Suid-Afrika bekendgestel. GL is sy sportnutsreeks, met die volgende klasse: A is die kleinste, B is die 7-sitplek- kompakte nutsbuks, C is die middelslag-gesinsvoertuig, E die luukser groot familiemotor en S sy heel luuksste en grootste nutsvoertuig. Jy kan amper sê dit het alles begin by GLE – jare gelede in die vorm van die ML in die Jurassic Park-flieks.

Die jongste opknappings behels ʼn aantreklike ontwerp, veral die voorste aansig. Die nuwe ligte lyk werklik mooi. Die binneruim is grootliks onveranderd, maar die nuwe stuurwiel is baie mooi en sy funksies intuïtief. Die nuwe MBUX-sagtewarestelsel is ook heelwat meer gebruikersvriendelik.

Onder die kap is dit egter waar die werklike verskil inkom. Die nuwe 450d-V6-turbodieselenjin is puik. Gepaard met die 48 V-hibriedstelsel werk dit voorwaar goed. Dié V6 bied 270 kW en 750 Nm, met ʼn bykomende hupstoot van 15 kW en 200 Nm vanaf die hibriede motor. ʼn 9-spoed- outomatiese ratkas voorsien krag aan al vier wiele. Mercedes-Benz beweer ʼn brandstofverbruiksyfer van 8.6 l/100km. Ons het tydens die bekendstellingsroete 9.3 l/100 km gehandhaaf.

Die tweede en moontlik grootste troefkaart in die Merc se mou is die ritgehalte en padhouvermoë. Ons GLE 450d Coupé 4Matic het op 20″-wiele met 275/50/20-bande gery. Die soepel rit was werklik indrukwekkend en ʼn reuseverbetering op enige Duitse sportnuts waarmee ek onlangs gery het, behalwe dalk Merc se eie GLC 220d. Oor die Robinsonpas tussen Hartenbos en Oudtshoorn wys dié GLE vir ons ʼn paar dinge. Nie nét is sy rit soepel nie, maar daar is geen bakrol as jy hom haastig in ʼn draai injaag nie. Mens kies eenvoudig ʼn koers en die GLE hou perfek daai lyn, sonder bakrol – mét ʼn soepel rit. Dit kán gedoen word.

Die GLE-reeks bied ʼn enorme veiligheidspesifikasie: nege lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer. Dan kom die magdom aktiewe stelsels soos baandwaal en blindekolwaarskuwing, asook botsingwaarskuwing met noodremhulp ook nog by.

Ons het ook tydens die bekendstelling met die gewone GLE – nie die koepee nie – gery. Hy word aangedryf deur ʼn 2.0-viersilinderturbodiesel en 48 V-hibriedstelsel. Dié enjin bied 198 kW en 550 Nm. Die 300d geniet ook die hibriede motor se hupstoot van 15 kW en 200 Nm. Ongelukkig is dié eenheid met 21″-wiele toegerus en bande wat 3 bar gepomp was. Dit is presies die soort voertuig wat vir die Duitsers ʼn slegte reputasie besorg het.

Dié motors sal jou egter ongeveer R2 miljoen uit die sak jaag. Indien jy hierdie tipe geld kan uithaal, kan jy letterlik enige motor koop wat jou hart begeer – selfs ʼn Ferrari (al is dit tweedehands). Nietemin het Mercedes met die nuutste opknapping sy beste voet voor gesit. Die GLE hoef geensins vir sy mededingers terug te staan nie. Gaan toetsbestuur beslis een.

 

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz GLE300d 4Matic198 kW/500 Nm7.7 l/100 kmR1 964 600
Mercedes-Benz GLE300d 4Matic 7-sitplek198 kW/500 Nm7.7 l/100 kmR1 984 000
Mercedes-Benz GLE450d 4Matic270 kW/750 Nm8.6 l/100 kmR2 041 500
Mercedes-Benz GLE450d 4Matic 7-sitplek270 kW/750 Nm8.6 l/100 kmR2 060 900
Mercedes-Benz GLE450 4Matic280 kW/500 Nm10.8 l/100 kmR2 075 400
Mercedes-Benz GLE450 4Matic 7-sitplek280 kW/500 Nm10.8 l/100 kmR2 094 800
Mercedes-Benz GLE450d 4Matic Coupé270 kW/750 Nm8.6 l/100 kmR2 340 500

 

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km- waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die GLE deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.