Sleeptoets: Pajero Sport ʼn puik sleepgenoot  

Foto: Brendon Staniforth

Vir party mense word ʼn voertuig meer as net ʼn ryding. Party is regtig lief vir hul tjorre. Daar is ook fases waardeur ʼn mens beweeg. In my jong dae was dit óf ʼn Golf óf ʼn Kadett. Hoe warmer hoe beter. Hoe meer die dinge geraas het, hoe beter. Ai… dankie tog ek het grootgeword.

Dan begin ʼn mens ʼn bietjie meer geld verdien, en só begin die voertuig veiliger, luukser en vinniger word. Ek is ʼn pa van drie kinders en ons is nou in die fase van kamp en gesinsvakansies. Daar is vir my min dinge so lekker soos om die gesin in ʼn lekker ryding te laai, die woonwa te haak en die pad te vat.

Foto: Brendon Staniforth

Ons gaan elke Junie/Julie-vakansie ATKV Eiland Spa toe, en het nou al die voorreg gehad om met verskeie sleepmotors te trek. Mitsubishi was gaaf genoeg om in Desember 2020 vir my ʼn Pajero Sport 2.4DI-D 4×4 Exceed te leen.

Die Pajero Sport is ʼn groot sportnutsvoertuig wat op ʼn leerraam sit – soos die drie ander mededingers in die segment, Fortuner; Everest en MU-X is hy óók op sy bakkieboetie – die Triton – gegrond.

Die Pajero Sport bied, soos die ander, sewe sitplekke, ʼn lekker sterk dieselenjin, ʼn outomatiese ratkas en vierwielaandrywing. Tussen die vier het die Pajero Sport die laagste sleepkapasiteit teen 2 700 kg, maar gelukkig weeg my woonwa net meer as ʼn ton. Ons het vir twee weke gekamp, so die voertuig en die wa was maar swaar gelaai.

Foto: Brendon Staniforth

Ons het op 20 Desember die pad gevat, N1-Noord uit Pretoria in Naboomspruit se rigting. Wel, Mookgophong, of Mookgopong – albei spellings word gebruik op bordjies in en om die dorp. Ja nee. Aanvanklik was ek nie uitgeboul nie. Die Pajero Sport het oorgenoeg krag – maar 15,2 ℓ/ 100 km teen 106 km/h is kwaai.

Ons het van die oord af ʼn hele paar keer die pad gevat dorp toe. Langs die oord is daar ʼn fantastiese grondpad tot in Naboom. Sonder die woonwa kry ons dadelik nader aan 10 ℓ/ 100 km – steeds nie fantasties nie.

Foto: Brendon Staniforth

Met die terugkeer huiswaarts gedra die Pajero Sport en wa hul sommer baie beter. Ons was seker net té swaar soontoe. Ons sleep weer so net oor 100 km/h en kry 12,5 ℓ/ 100 km. Daar was seker met die eerste sleeptog ʼn wilde kopwind.

As ek met die toetsmotors sleep, sleep ek aspris sonder my stabiliseerder om te voel hoe die onderstel hom gedra. Daar was geen merkbare geswaai nie, al kan ʼn dwarswind die sleepsel ʼn bietjie rondpluk.

Die Pajero Sport het ʼn puik klimaatbeheerstelsel en ʼn indrukwekkende veiligheidspesifikasievlak met sewe lugsakke. Daar is lugreëling vir die twee agterste rye sitplekke, en genoeg USB-poorte om ál die kinders se toestelle gelaai te hou.

Foto: Verskaf

Voor in die kajuit is daar Apple CarPlay en Android Auto wat die volwassenes besig hou. Die inligtingskerm wat ʼn mens kan verpersoonlik werk fantasties om vir jou presies te wys wat jy wil sien, en hoé.

Die Pajero Sport het om verskeie redes aan my hartsnare getokkel. Die Pajero Sport se 4×4 vernuf is waarskynlik die beste in ʼn klas saam met Toyota se Fortuner, dis ʼn puik sleepvoertuig én is nie een van die twee gewildstes (Toyota en Ford) nie… en bied dus ʼn kleiner diefstal- en kapingrisiko. Indien jy in die mark is vir só ʼn voertuig – gaan toetsbestuur beslis die Pajero Sport – dis ʼn puik sleepgenoot, al is hy effens swaar op diesel.

Die reeks lyk só:

Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D outo133 kW/ 430 Nm8,1 ℓ/ 100 km7 lugsakke2,7 tonR624 995
Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D 4×4 outo133 kW/ 430 Nm8,1 ℓ/ 100 km7 lugsakke2,7 tonR674 995
Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D 4×4 outo Exceed133 kW/ 430 Nm8,1 ℓ/ 100 km7 lugsakke2,7 tonR704 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en vyf jaar/ 90 000 km diensplan

Isuzu MU-X 3.0 4WD outo130 kW/ 380 Nm7,9 ℓ/ 100 km6 lugsakke3 ton5 jaar/ 120 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplanR747 900
Toyota Fortuner 2.8GD-6 4×4 outo150 kW/ 500 Nm7,9 ℓ/ 100 km7 lugsakke3,3 ton3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R785 800
Ford Everest 2.0SiT 4WD XLT outo132 kW/ 420 Nm7,1 ℓ/ 100 km7 lugsakke3,1 ton4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R679 400

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

amot ·

Brendon, miskien moet jy die brandstof syfers bietjie vergelyk met sy mededingers met dieselfde wa. Die 12.5 l/100km (8km/l) wat jy met die karavaan gekry het is gemiddeld vir die tipe voertuig met ‘n karavaan. Ek het al wyd en syd gelees maar beter gaan jy nie sommer kry nie.

Die 15 l/100km is ook darem nie normaal nie. Ek het met ‘n ou 3.2 Pajero gesleep (Palma) en as die wind regtig erg was van voor het ek dalk daar gedraai, dié kere kan ek egter op my een hand tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.