Suzuki se GSX-S1000GT beloof pure ryplesier

(Foto: Suzuki)

In die motorwêreld staan die letters GT vir “Grand Tourer”. Dit is gewoonlik ’n luukse sportmotor wat uiters gemaklik ry. Die tipe voertuig waarmee jy, sonder om twee keer te dink, van Johannesburg af Kaapstad toe sal ry, want jy het gehoor van ’n nuwe koffieplekkie.

Suzuki het ook nou ’n GT-motorfiets tot hul bewese 1 000 cc-reeks gevoeg, en ek is opgewonde om hierdie fiets te ry. Met die onlangse Hayabusa-toer het dit duidelik geblyk dat Suzuki weet hoe om ’n gemaklike, langafstand‑fiets te maak.

(Foto: Suzuki)

Die enjin is Suzuki se 999 cc-viersilinderenjin wat ook diens doen in die GSX-R en GSX-F; geen twyfel dus oor sy betroubaarheid en uiters gladde verrigting nie. Natuurlik het Suzuki die enjin aangepas om in sy nuwe rol te pas. Dit beteken egalige kraglewering vir langafstand toer, maar tog genoeg krag as jy sy sportiewe kant wil beproef.

Die hele uitlaatstelsel is herontwerp om aan Euro 5-standaarde te voldoen en tog steeds ’n aangename klank te hê. Snelskakeling is standaard, en as ek moet oordeel aan die stelsel wat op die Hayabusa is, dan gaan dit baie goed wees.

(Foto: Suzuki)

Natuurlik het Suzuki al hul nuutste elektronika na die GT gebring. Die elektroniese versneller het Suzuki in staat gestel om ’n wye reeks ryprogramme aan die ryer te bied. Omdat dit ’n doelgemaakte toerfiets is, is die fiets toegerus met spoedbeheer. Suzuki het uit hul pad gegaan om vibrasies te verminder op al die plekke waar die ryer kontak het met die fiets om die ryervaring so aangenaam as moontlik te maak.

Suzuki was tot op hede agter wat hulle instrumentasie betref. Ek is bly om te sien dat hulle nou ’n volkleur TFT-skerm op die GT gesit het. Dit kan met jou foon koppel en die hele skerm kan gebruik word vir navigasie. Knap gedaan, Suzuki – die nuwe skerm lyk goed.

Die stilering van die GT is aggressief en die twee klein LED-hoofligte lyk ook baie goed. Suzuki het ook ’n hele rits doelgemaakte bybehore vir die GT, wat sytasse insluit.

Die Suzuki GSX-S1000GT sal later vanjaar beskikbaar wees en pryse sal dan bekend gemaak word. Ek hoop om tyd op hom te deur te bring sodat ek terugvoer oor die ryervaring kan gee.

Spesifikasies:

Enjin999 cc-viersilinder
Gewig (Nat)226 kg
Kraglewering112 kW (152 pk) @ 11 000 rpm
Wringkrag106 Nm @ 9 250 rpm
Tenkkapasiteit19 l
Saalhoogte810 mm

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

Suzuki is die beste. Mooiste en vinnigste fietse op die pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.