Suzuki sit stormloop voort

(Foto: Bernie Hellberg)

Ons het vroeër dié maand berig oor die bekendstelling van die nuwe vyfdeur‑Jimny by die Auto Expo in New Delhi, Indië. Maar hierdie bielie is nie vanjaar die enigste pyl in Suzuki se koker nie.

Saam met die vyfdeur-Jimny wat teen einde vanjaar hier behoort te land, het Suzuki ook sy splinternuwe oorkruis-sportnuts, die Fronx, sowel as die sessitplek‑XL6, wat byna so groot as die Grand Vitara (wat self dié jaar kom) is, gewys.

Suzuki Fronx

Maruti Suzuki is die markleier in nuwe voertuigverkope in Indië. Met byna 50%‑markaandeel oorheers hy die mark daar en stel hy ook die pas vir ander markte wat motors uit dié land ontvang. Suid-Afrika is een van dié markte.

Ons kry verskeie modelle van Indië, onder meer die Suzuki S-Presso, Baleno, Vitara Brezza, Ertiga en ʼn rits ander.

Die bekostigbaarheid van motors wat van Indië uitgevoer word, het Suzuki SA gehelp om hier die derde grootste verspreider van veral kompakte karre te word. Dit beteken egter ook dat ons aangewese is op dit wat in die Indiese mark gebeur: soms is sekere modelle beskikbaar vir uitvoer en ander kere weer nie.

Só het dit gekom dat die Vitara Brezza eersdaags met die nuwe Suzuki Fronx vervang sal word.

(Foto: Bernie Hellberg)

Sy koddige naam ten spyt, die Fronx is ʼn algeheel moderne voertuig met stylvolle lyne en byderwetse tegnologie. Die kompakte sportnutsmark ontplof behoorlik in hierdie stadium en Suzuki glo dat die Fronx nie net ʼn gepaste plaasvervanger vir die gewilde Vitara Brezza sal wees nie, maar selfs nóg beter hier kan verkoop.

Al is die Fronx gebou op die Suzuki Baleno HEARTECT-platform, staan die outjie wat ons in Indië gesien het effens hoër en beslis meer regop as die Baleno. Dit is duidelik aan sy swart wielboogbekleding, dakrelings en silwerkleurige glyplate en verspreiderelemente dat hy gemik is op kopers wat hul avontuurlustige sy wil wys.

(Foto: Bernie Hellberg)

Anders as die Vitara Brezza se boksagtige ontwerp, lyk die Fronx baie meer sportief met LED-agterligte wat strek oor die breedte van die luikrug, moderne hoofligte, en groter wiele.

(Foto: Bernie Hellberg)

Tydens die malligheid van die Auto Expo het ons nie kans gehad om die Fronx van naby te beskou nie. Op die oog af lyk sy kajuit soos nog ʼn tegno-triomf van Suzuki, wat onder meer insluit ʼn 9 duim-raakskerm, premium-gehalte klankstelsel en Suzuki se Connect-app wat jou toelaat om funksies soos die lugreëling en hoofligte van ʼn afstand te beheer of selfs die deure oop te sluit.

Alhoewel Suzuki SA hom nog stom hou oor watter enjin-opsies hier beskikbaar sal wees, is die Fronx met twee nuwe enjins vir die Indiese mark bekendgestel: ʼn 1.2 liter‑ atmosferiese inlynviersilinder, en ʼn 1.0 liter‑turbo- aangejaagde driesilinder.

Suzuki XL6

Nóg ʼn verrassing vir die Suid-Afrikaanse mark was Suzuki se aankondiging dat die sessitplek‑XL6‑sportnuts, wat reeds ʼn tyd lank in Indië verkoop word, ook vir Suid-Afrika oorweeg word.

Die XL6 is op die gewilde Ertiga-veeldoeler (MPV) gegrond, maar word daarvan onderskei deur verhoogde rithoogte en unieke ontwerpelemente soos swart plastiekbakbekleding, 16 duim-allooiwiele en ʼn eiesoortige sierrooster met chroomafwerking.

Die XL6 pas bo die Ertiga, maar onder die nuwe Grand Vitara in die Suzuki-modelreeks. Daar is nog nie sprake van watter enjin hier gebruik sal word nie, maar in Indië word die XL6 met ʼn 1.5 liter‑ atmosferiese enjin verkoop, met die keuse van óf ʼn vyfspoedhandrat, óf sesspoed-outomaties.

Meer inligting oor die Fronx en die XL6 sal nader aan hul bekendstelling beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Baie insiggewende artikel. Die tendens is duidelik: Indien nuwe voertuie nie plaaslik vervaardig of uit die Ooste ingevoer word nie, moet jy oor diep sakke beskik. Of baie ander sakke.

Wielspore ·

Toe die eerste Toyota Avanza in SA bekend gestel is het ons een gekoop, so ‘n skitter donkerblou 1.5 model. Baie ekonomies en lig op brandstof, enjin krag was maar min, het baie kere die aircon afgesit omdat die kar spoed verloor teen opdraendes. Daar was geen onkoste vir instandhouding omdat die diensplan dit betaal het. Ek het die petrol pedaal meestal diep ingetrap en die enjin het aangehou om sy beste te lewer, foutloos. Die model word in Indonesië vervaardig. Verbruikers kan met gerustheid oor beweeg na die goekoper vervaardigers. Ek self is ‘n VW bewonderaar en ry tans ‘n 2022 VW Caddy Kombi 2.0, uitstekende voertuig. VW produkte raak nou net te duur, die Caddy is moontlik my laaste VW want ek kan net nie byhou met stygende pryse.
Lekker ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.