SYM NHX – Sinvolle beginnersfiets

(Foto: Brian Cheyne)

In die VSA kan jy in sekere deelstate al op 16 jou motorlisensie kry. Hier in Suid-Afrika is ons nie so gelukkig nie. Die enigste voertuig wat jy wettig kan ry op ons paaie is ’n motorfiets waarvan die kapasiteit nie 125cc oorskry nie. Die keuses in hierdie segment is redelik beperk, maar SYM het nou sy vierde 125 cc model in Suid-Afrika bekendgestel: die NHX 125. Dié nuweling lyk glad nie te sleg nie.

Behalwe vir ’n afleweringsfiets het SYM ook nog die Wolf T1 en die NHT 125 in sy 125 cc kategorie. Die nuwe NHX deel die meeste van sy komponente met die NHT 125, SYM se vertolking van ’n avontuurfietsie. Die NHX is egter uitsluitlik ’n padfiets, waar die NHT bedoel is as ’n dubbeldoel fiets.

Die enjin is ’n enkelsilindereenheid met brandstofinspuiting. Dit lewer maar ’n skamele 7,5 kW, maar die fietsie is so klein, dat dit meer as genoeg is om die NHT tot baie naby aan 120 km/h te kry. Op hierdie spoed sing die enjintjie teen ’n verbysterende 10 000 rpm!

(Foto: Brian Cheyne)

Die NHX is ’n kaalfiets, en die stilering is baie goed uitgevoer. Ek is nie ’n groot liefhebber van die houer om die agterwiel nie, maar op die NHX werk dit. Dit huisves net die nommerplaat en SYM het die flikkerligte steeds hoog, onder die saal monteer. Dit laat die fietsie mooi afgewerk voorkom. Die allooi wiele is ook ’n groot verbetering op die blink chroom wiele op die NHT. Al die ligte, insluitend die gestapelde voorlig, is LED-eenhede.

Die voorlig sit in ’n plastiekomhulsel wat lyk of dit van koolvesel gemaak is en hierdie tema word voortgesit op die brandstoftenk. Die instrumentasie is vervat in ’n klein, driehoekige, vloeikristaleenheid en is duidelik leesbaar. Onder dit is daar ’n USB-sok om ’n selfoon of GPS mee te laai. Die bougehalte van die fiets het weer eens nie teleurgestel nie.

SYM maak gebruik van ’n gekombineerde remstelsel. Dit verbind die voor- en agterremme sodat jy enige een van die remme kan trek en dit sal die ander een ook aktiveer. Die stelsel werk verbasend goed.

(Foto: Brian Cheyne)

Die NHX is ’n klein fietsie, maar glad nie beknop nie. Die ryposisie is ook heel gemaklik. Die fiets het net vyf ratte, wat die topspoed effe beperk, maar ek glo nie ’n ekstra rat sal soveel van ’n verskil gemaak het nie. Daarvoor het die enjin hopeloos te min krag. Die NHX maak egter vir alles op met sy ratse hantering. Vir so ʼn klein fietsie en so ʼn lae prys (R29 995) het die hantering my verbaas. Ek het hope pret gehad waar die pad ’n draai of twee opgelewer het.

Die SYM NHX behoort ’n ideale beginnersfiets te wees. Die is ook ideaal vir iemand wat pas 16 geword het en nie meer van ander mense afhanklik wil wees om êrens te kom nie.

Klik hier vir meer besonderhede.

(Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.