Terugblik op moeilike jaar in motorfietsbedryf

Honda CB500X (Foto: Brian Cheyne)

Teen die tyd dat jy hier lees, is Kersfees verby. Die geskenksakkies is mooi opgevou en gebêre vir volgende jaar, en ons moet begin beplan vir 2024. Die motorfietsmark in Suid-Afrika het weereens ’n maer jaar beleef te wyte aan ons swak ekonomie en omdat mense eerder hul geld aan ander, belangriker dinge bestee.

Ek het met ’n verkoopsman gesels en een van sy klante het bloot sy kwotasie vir sonpanele aangebied as versagtende omstandighede hoekom hy nie sy motorfiets nou kon koop nie. Daar is egter ’n merkbare skuif in die mark waaroor ons opgewonde kan raak, en dit is dat mense nou kleinerkapasiteitmotorfietse begin oorweeg.

Aan die einde van 2022 het Honda die nuwe CB500X bekendgestel, en dit het ’n rukkie geneem voor hy een van Honda se topverkopers geword het. Ek het hierdie fiets op ’n kort wegbreeknaweek gevat na Kaapsehoop, en besef dat jy selde meer as dit nodig sal kry. En, hoe meer van hierdie fietse op ons paaie verskyn, hoe beter.

Hero Pulse (Foto: Brian Cheyne)

Ek was selfs oor die uiters tegniese Breedsnek met ’n 200 cc- Hero Pulse. Op hierdie rit was daar ’n man op ’n Hero ECO 150 cc-fiets wat al meer grondpaaie en bergpasse aangepak het as baie van die ryers op groot avontuurfietse.

Suzuki het ook sy klein 250 cc-V-Strom bekendgestel, en een van my vriende besit een. Dit is ’n uiters bekwame klein fietsie, en sy brandstofverbruik van 45 km/l is nie te versmaai nie.

Suzuki VStrom 250 SX (Foto: Brian Cheyne)

Die jaar 2024 beloof om hierdie deel van die mark verder uit te brei met die bekendstelling van Triumph se nuwe 400 cc-fiets. Hierdie fiets is wêreldwyd uiters goed ontvang, en ons behoort vroeg in die nuwe jaar ons eerste indrukke daarvan te kan lewer. Triumph het al begin terg met ’n opvolger vir die Daytona, en dit beloof om iets baie spesiaal te wees. Ek was ook bevoorreg om TVS se nuwe 310 RTR te gaan ry in Taiwan, en hierdie fiets loop behoorlik oor van nuwe tegnologie.

Daar is ook ’n oplewing in die middelslag-kategorie (fietse bo 500 cc en onder 1 000 cc). In 2023 het Honda die nuwe 750 Transalp en Hornet bekendgestel, en kort daarna het Suzuki sy nuwe 800-platform bekendgestel met die GSX-S8S en V-Strom DL80 DE. Ek het KTM se SMT 890 eerstehands ervaar in Europa.

Vir 2024 het die Oostenrykse vervaardiger drie nuwe Dukes op pad, naamlik die 390, 990 en 1390 Super Duke. Triumph behoort vroeg in 2024 ’n bygewerkte weergawe van die Tiger 900 plaaslik beskikbaar te hê, en dit beloof ook om ’n baie goeie produk te wees.

Triumph Tiger 900 (Foto: Verskaf)

Die grootste nuus van die jaar, sover dit ons plaaslike ryers betref, was seker die bekendstelling van die nuwe BMW 1300 GS. As ek egter na die kommentaar luister, het die nuwe fiets heelparty tandekry-probleme. Dan is ek altyd dankbaar dat Suid-Afrika ons fietse later kry, sodat hierdie klein jakkalsies uit die weg geruim kan word. Dit is nou een fiets wat homself verkoop hier.

BMW R 1300 GS (Foto: Verskaf)

Ek het vroeër vanjaar die elektriese BMW-motorfiets gery, en daar is ’n opwaartse tendens sover dit elektriese fietse betref. Ek hoop om in 2024 nog ’n elektriese bromponie te kan toets met ’n unieke battery, so hou maar Maroela Media dop.

Dan wil ek in besonder melding maak van een vervaardiger wat 2023 op ’n baie hoë noot afsluit, en dit is Ducati. Hulle het die renbane van die wêreld heeltemal oorheers en hul trofeekaste vol silwerware geprop. Om dit te vier het Ducati ’n paar spesiale weergawes van die Panigale bekendgestel in die kleure van die wenspan. Hulle het ook hul toetrede tot Motocross-wedrenne aangekondig. Daarvoor het hulle ’n enkelsilinder-enjin ontwikkel wat ons in 2024 in die nuwe Hypermotard 698 sal sien.

Ducati se spesiale weergawes van die Panigale (Foto: Verskaf)

Hoewel 2023 maar swaar was vir ons bedryf, stroom die nuwe modelle steeds in, en ek sien vreeslik uit na al die nuwelinge wat op ons bodem gaan land. Kom ons hoop ons kan Durban se hawe uitsorteer dat hierdie fietse kan land!

Vir al die getroue lesers van hierdie motorfietsrubriek wil ek ’n voorspoedige 2024 toewens, en mag jul motorfietsritte veilig wees en vervulling bring!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.