TGB-vierwielers – nuwe speler in die landboubedryf

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het nog altyd ’n heilige vrees vir ’n vierwielmotorfiets gehad. Met die gevolg dat ek nog nooit in my lewe op een gery het nie. Vier rondes op ’n ronde baan by ’n kermis tel nie. Toe ek dus die uitnodiging kry om TGB se nuwe toevoeging tot die Suid-Afrikaanse mark te kom toetsbestuur, en dit nogal op Gerotek, was ek verstaanbaar op my senuwees.

As ek dink aan ’n vierwieler dan dink ek aan ontspanning en mense wat op naweke dongas en slote aanvat. Tog het hierdie voertuie ’n groot rol te speel in die landboubedryf. Met die prys van diesel wat die hoogte in skiet, is dit nuttig om te weet dat jy ’n TGB kan aanwend op die plaas. Ek was aangenaam verras toe ek die vermoë van TGB se Blade-modelle gesien het.

(Foto: Brian Cheyne)

Ons het eers ’n kort inligtingsessie bygewoon om te verstaan presies waar hierdie nuwe voertuie vandaan kom en wie die verspreiders is.

Taiwan Golden Bee (TGB) was eers verantwoordelik vir die vervaardiging van Vespa-komponente en het later uitgebrei en hul eie navorsing en ontwikkeling begin doen. Hulle het hul eie CVT-ratkaste onwikkel en vandaar uitgebou. TGB het ’n baie groot teenwoordigheid in Europa en hulle vierwielfietse word aangewend in die mynbedryf in Australië. Daar kan dus geen twyfel wees oor die betroubaarheid van hierdie fietse nie. Die Taiwanse ambassadeur in Suid-Afrika, sy eksellensie Anthony Ho, was ook teenwoordig by die bekendstelling.

(Foto: Brian Cheyne)

ETG Logistics is die maatskappy verantwoordelik vir die invoer en verspreiding van die TGB-modelle. ETG is gestig in 1967 en is bedrywig in 48 lande wêreldwyd – 29 van hierdie lande is in Afrika waar hulle baie nou betrokke is by landbou.

Die twee modelle wat pas bekendgestel is, is die Blade 600 SE.X 4×4 en die Blade 600 AR EPS 4×4. Die AR-model sal nie ontuis lyk langs enige boer se bakkie nie, waar die SE-model meer gemik is op die ontspanningsmark. Dit is egter net die begin, want ETG beplan ook om later TVS-motorfietse in te voer. TVS is die Indiese maatskappy wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van BMW se 310-reeks fietse.

Albei modelle beskik oor ’n 561 cc enkelsilinderenjin wat 42 perdekrag lewer. Aandrywing is deur TGB se eie CVT-ratkas. Hierdie voertuig beskik oor vierwielaandrywing, ’n trekstang en selfs ’n wen-as voor. Ons eerste kennismaking was met die AR-model met sy laaibak. Die laaibak kan 200 kg dra en het ’n eenvoudige meganisme om dit te laat kantel. Die kort roete wat ons gery het, was uiters tegnies, maar geen probleem vir die TGB nie.

Vandaar was ons op die SE.X model by Gerotek se hellings en dik sand. Om te bewys dat die fietse selfs stabiel teen hoë spoed is, het ons op ’n reguit stuk pad gery om die fiets se topspoed te beproef.

TGB bied baie goeie waarde met goeie spesifikasies en ’n twee jaar waarborg. Daar is tans tien handelaars wat teen April 2022 sal uitbrei na 30 handelaars.

Pryse is soos volg:

TGB Blade 600 SE.X EPS 4×4R183 500
TGB Blade 600 AR EPS 4×4R195 500

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Perdeby ·

En my maatskapy voer elektriese Scooter en Quats in , en die quads is baie kragtig. Wildsplase gebruik dit want daar is geen geraas, wat die wild kan verwilder nie, en hulle is die helfde van die prys waat jy dit ook in 4×4 kry. Baie gewild

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.