Toyota onthul grootste onderdeledepot in Suidelike Halfrond

Deur Bernie Hellberg Jr.

As Suid-Afrika se nommereen-motorhandelsmerk is Toyota nie onbekend met groot syfers nie.

Syfers soos 60 000 – die aantal kilometer wat Toyota se 52 afleweringsvoertuie gesamentlik in ʼn dag aflê om onderdele reg oor suidelike Afrika van hul nuwe verspreidingsentrum in Boksburg te versprei. Of 2 700 000 – die aantal eenhede voorraad wat op enige gegewe tydstip in dié pakhuis geberg word, gereed vir verspreiding na ʼn netwerk van 277 Toyota-, Lexus-, en Hino-handelaars in Suid-Afrika en omliggende buurlande.

Fase 1 van dié pakhuis is formeel in 2012 geopen, en het sedertdien in ’n moderne verspreidingsentrum ontaard, met ’n aanvangskapasiteit van 40 000 m². Met die opening van Fase 2, het die grootte van Toyota se onderdeledepot verdubbel, wat dit in ’n megafasiliteit omskep het wat ’n kolossale 80 000 m² in vloeroppervlakte beslaan. Dit is gelykstaande aan 11 sokkervelde, wat dié fasiliteit amptelik die grootste pakhuis vir motoronderdele in die Suidelike Halfrond maak.

Andrew Kirby

“Ek is bly om bekend te maak dat die uitbreiding van die Atlas Parts Warehouse van R365 miljoen, wat twee jaar gelede afgeskop het, nou voltooi is,” sê Andrew Kirby, president en hoof van Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM). “Dit is vir my ook aangenaam om aan te kondig dat hierdie fasiliteit voortaan as die Toyota Africa Parts Centre, of die TAPC, bekend sal staan.”

“Die uitgebreide pakhuis bied ons die geleentheid om ons prosesse en bedrywighede op geoliede wiele te laat loop,” sê Anand Pather, TSAM se visepresident vir kliëntediens.

“Toyota is wêreldwyd bekend vir sy slim produksie- en bestuurstelsels, en wat ons hier doen, word met militêre presisie uitgevoer.” Pather sê verder die pakhuis het ongeveer R900 miljoen se onderdele in voorraad, wat vir daaglikse besending deur 493 personeellede bestuur word. “Nog ’n interessante feit is dat ons 220 plaaslike onderdeleverskaffers het. Ons stuur ongeveer 22 000 bestellyne na ons handelaarsnetwerk – waaronder Botswana, Lesotho, Namibië en Eswatini (BLNE) – en 3 500 bestellyne aan ons uitvoerkliënte.”

Vir Toyota is dit ook belangrik om te sorg dat sy nuwe fasiliteit selfonderhoudend kan wees. “Teen 2023 brei ons nie net ons sonkragopbrengs uit nie, maar voeg ook batteryberging by om verlengde bedryfsure te ondersteun, wat ons in staat sal stel om heeltemal van die Eskom-netwerk gespeen te kan word. Daarbenewens sal ons nuwe-energie-vervoer (NEV) vir ons handelaarsnetwerkverspreiding op die proef stel,” sê Pather.

Leon Theron, senior visepresident van verkope en bemarking van TSAM, voeg by dat TAPC ’n groot rol speel om Toyota se ambisieuse verkoopsteiken in die plaaslike mark te ondersteun. “Ons voertuigverkope-teiken vir vanjaar is 131 000 eenhede, en dit het ’n direkte impak op onderdeleverskaffing en ‑verspreiding. As jy na onderdele kyk, is ons verkoopsteiken vanjaar R7,2 miljard, en ons hoop om sowat 1,4 miljoen voertuie te diens. Onderdele speel ’n sleutelrol wanneer handelaars en klante ons evalueer – daarom streef ons daarna om uitstekende tellings in dié onderskeie indekse te behaal.”

Theron het tydens die bekendstelling ook alle belanghebbendes bedank vir hul onderskeie rolle in die uitbreiding van die onderdelefasiliteit: “Dit is die hoogtepunt van baie beplanning, harde werk, toewyding en sterk ondersteuning van ons sakevennote, sleutelbelanghebbendes, en natuurlik ons ​​spanlede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Ons volg Toyota se prosesse selfs in die sagteware bedryf. Dis uitstekend.

My Subaru het ‘n probleem met ‘n waterpyp. Dit gaan ses weke se wag kos vir ‘n nuwe pypie om uit Japan aan te kom. Dis totaal onaanvaarbaar. Dis dalk die ding wat my op die ou end sal maak ‘n Toyota koop sodat mens parte dieselfde dag kan kry en jou kar nie vir amper twee maande in ‘n werkswinkel moet staan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.