Toyota se nuwe Cruiser het Suzuki-DNS

Vir die meeste mense is die naam Cruiser sinoniem met ʼn legendariese veldryvoertuig wat gebruik kan word om die wêreld van hoek tot kant plat te reis.

Party mense is oortuig dat hulle ʼn Cruiser met ʼn stukkie bloudraad en ʼn tang kan regmaak, maar ek dink dit is ʼn bogspul –ʼn Cruiser breek in die eerste plek nooit nie.

Toyota het ʼn ooreenkoms met Maruti Suzuki in Indië om sy bekostigbare produkaanbieding te verbeter. Eers was dit die Starlet en nou is dit die Urban Cruiser. Dit is op die Suzuki Vitara Brezza geskoei wat ook onlangs in Suid-Afrika bekend gestel is.

Ek het al tyd met die Suzuki deurgebring en dit is beslis ʼn “cruiser” vir die stad. Dit is ʼn lekker ruim, bekostigbare buksie wat vir die meeste gesinne puik waarde sal bied. Die ontwerp is heel netjies, en die binneruim bied sitplek vir vyf.

Die spesifikasievlak in die Urban Cruiser beïndruk. Daar is elektriese ruite vir al vier deure, klimaatbeheer, twee lugsakke, ABS en remkragverspreiding. Op die luukser modelle is daar ʼn raakskerminligtingstelsel met Apple CarPlay en Android Auto, sowel as outomatiese ruitveërs en ligte.

Onder die kap is daar een enjin en twee ratkaste beskikbaar. Die buksie trek voorwaar lekker en bied 77 kW en 138 Nm. Daar is ʼn 5-spoed-handrat of 4-spoed-outo beskikbaar. Op die pad voel die tjor regtig gretig. Aanvanklik – as ʼn mens in die Urban Cruiser klim uit ʼn stiller turboaangejaagde voertuig – klink die enjin effens dreunerig op die snelweg, maar jou ore raak dit vinnig gewoond.

Op die pad is dit eenvoudig: Die buksie ry lekker, bied goeie spasie en Toyota-gemoedsrus teen ʼn fantastiese prys. Moet beslis nie die Toyota Urban Cruiser oorslaan as jy tans in die mark is nie.

Die reeks lyk so:

Toyota Urban Cruiser 1.5 Xi handratR247 900
Toyota Urban Cruiser 1.5 Xs handratR267 800
Toyota Urban Cruiser 1.5 Xs outoR289 000
Toyota Urban Cruiser 1.5 Xr handratR294 500
Toyota Urban Cruiser 1.5 Xr outoR315 700

Die reeks word gedek deur Toyota se 3 jaar/100 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Ons gaan beslis meer tyd met die Urban Cruiser deurbring en sal hom dan teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Die een is, net soos die Scarlet, ‘n Suzuki. Geen Golf word ‘n Porsche deur ander kentekens op te plak nie. Dis nie ‘n slegte Suzuki nie, maar sal nooit respek as Toyota afdwing nie.
Wanneer kom die Toyota’s met Suzuki kentekens uit? Daar is reeds 2 Suzuki’s in die Toyota stal.
Ford en Mazda het ook so ‘n huwelik in die 90’s gehad, en meer onlangs het Mercedes dit probeer met die Nissan bakkie. Dit het in albei gevalle nie goed uit gewerk nie. Gelukkig het Ford en Mazda herstel na die egskeiding.

andre ·

Daar is reeds 2 Toyotas is die Suzuki stal.Die Rav4 en die nuwe Corolla stasiewa .
Ek ry beide nuwe Corolla en Swift. Hier by ons teen die see wemel dit nog van 30 jaar en ouer Jimny’s.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.