Toyota sinoniem met dié 4×4-kompetisie

(Foto: Stephan Reiners)

Toyota is al meer as 30 jaar die naamborg van die jaarlikse Rust de Winter 4×4 Jamboree – ʼn gesinsdag waar deelnemers met die taaiste 4×4’s opdaag en kompeteer om met die louere weg te stap.

Toyota neem ʼn handjievol joernaliste elke jaar saam om in standaard uit-die-boks Toyota’s deel te neem. Die eerste jaar het almal hulle vergaap aan die mal ouens wat met Prado’s deelgeneem het. En daarna vir drie jaar na mekaar was dit Fortuners.

Dit werk net makliker om my derde kind te pos na die agterste ry sitplekke sodat almal lekker vashouplek het en niemand op iemand anders se sitplek indring nie.

Vanjaar se formaat was min of meer dieselfde as in vorige jare. Saterdag is die gimkana-deel aan die beurt waar jy deur tien mensgemaakte hindernisse moet navigeer terwyl jou navigator een of ander toertjie doen of speletjie voltooi. Ek is elke jaar verbaas om te sien hoe die standaardvoertuie vaar… en vanjaar het ek geen skade nie!

Sondag neem ʼn mens deel aan die bergroetes. Daar is twee – ʼn groot draai deur die berge (wel, ʼn heuwel vir die Kapenaars wat regte egte berge ken). Op dié roete kan dinge plek-plek taai raak, maar die vloot Fortuners en Hilux’e het dit lag-lag gemaak.

Die meeste mense sal nooit dié tipe hindernisse aandurf met hul eie daaglikse rygoed nie. Met ʼn speelding, ja. Toyota bewys egter hiermee dat die voertuie absoluut daartoe in staat is om te gaan waar jy wil – hang net af hoe braaf jy is!

Elke jaar kamp ons daar in woonwaens… en elke jaar moet die manne van Toyota 14 woonwaens soontoe sleep en terug. Ek besluit toe dié jaar om my eie Swing te sleep. Ek het ʼn GR Hilux gebruik soontoe. ʼn Bobaassleeptuig (veral omdat die woonwa so te sê leeg was) – maar die unieke vering en skokbrekers agter in die GR-S maak beslis ʼn verskil teenoor die ander Hilux-modelle. En die 165 kW en 550 Nm maak kinderspeletjies van watrek. Dis nie ver nie – maar oor die 85 km soontoe het ons ʼn goeie 11,2 ℓ/100 km gehandhaaf met die woonwa.

Ek en vroulief kon derde in die media-afdeling klaarmaak, en sien uit om weer volgende jaar om die titel mee te ding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.