Triumph van krag tot krag met nuwe 400-reeks

In ’n bedryf waar kwaai meegeding word om voor die kompetisie te bly, en waar 200 pk-missiele algemeen raak, is ek verheug om te sien dat Triumph al hoe meer modelle na die meer praktiese deel van die mark bring.

Tot onlangs was sy kleinste model die 765-driesilindermodelle. In 2021 het Triumph twee 660 cc-motorfietse bekendgestel: die Trident en die Tiger Sport. Met hierdie modelle het hulle twee oogmerke gehad. Eerstens wou hulle ryers lok wat vir jare nie motorfiets gery het nie, en dit oorweeg het om nou weer te begin. Tweedens, en dalk belangriker, om nuwe ryers aan Triumph bekend te stel. Die 660-reeks is uiters bekostigbaar en glad nie ’n vuurvreter nie. Nou het Triumph hulle net nog wyer gegooi met hulle nuwe 400 cc-fietse, en ek dink dit is ’n wonderlike skuif. Hierdie fiets is aan die einde van Junie bekendgestel, en binne ’n paar dae was daar reeds meer as 10 000 bestellings in Indië alleen geplaas!

Mense is snaakse wesens. Kyk maar op sosiale media hoe lojaal ryers teenoor hulle gekose handelsmerk is. Die kanse is baie goed dat wanneer iemand hulle heel eerste motorfiets koop, hulle lojaal sal bly aan daardie handelsmerk. Triumph se 400-reeks gaan van vroeg in 2024 plaaslik beskikbaar wees, en dit is die ideale platform om jong en nuwe ryers aan Triumph bekend te stel. So bou jy lojaliteit.

Die twee modelle wat bekendgestel is, is die Speed 400 en die Scrambler 400 X. Hierdie twee modelle vul dus die Triumph-reekse mooi aan. Die Speed 400 is die kleiner weergawe van die Speed 900 en 1200, terwyl die Scrambler 400 X die Scrambler 900- en 1200-reeks sal aanvul. Alhoewel hierdie fietse ontwerp en ontwikkel is deur Triumph in Engeland, sal die vervaardiging in Triumph se aanlegte in Indië en Thailand gebeur, met die hulp van een van Indië se grootste motofietsvervaardigers, Bajaj.

Die kwaliteit en afwerking van hierdie nuwe fietse behou steeds Triumph se uiters hoë standaarde, en Triumph het, soos verwag, baie aandag aan die fynste detail gegee. Die hele silhoeët van die 400 is pure Triumph. So het die nuut ontwikkelde 398 cc‑enkelsilinderenjin ook gepoleerde verkoelingsvinne soos die groter fietse. Die enjin lewer ’n gesonde 40 pk met 37,5 Nm se wringkrag.

Alhoewel die twee modelle die meeste van die meganiese komponente deel, het Triumph tog aan elke model sy unieke karakter gegee. Albei is ontwerp vir gemak, en die Speed 400 het ’n toeganklike 790 mm‑saalhoogte teenoor die Scrambler X se 835 mm. Die fietse weeg 170 kg en 179 kg onderskeidelik. Terwyl die Speed 400 toegerus is met liggewig 17”‑allooivellings, het die Scrambler ’n groter 19”‑voorwiel en heelwat meer reikafstand op die vering. Die Scrambler se voetrusse is ook laer en breër as op die Speed, wat dit makliker maak om regop te staan op die Scrambler.

Die twee modelle deel dieselfde elektronika met ’n elektroniese versneller, traksiebeheer en ABS. Hulle deel ook dieselfde instrumentpaneel. Dit bestaan uit ’n groot analoog-spoedmeter en ’n vloeikristal-eenheid wat die res van die inligting aandui. Dit lyk volledig, dog kompak.

Triumph gaan van krag tot krag, en met hierdie fiets dek hy nou ’n groot deel van die mark. Triumph bied ook ’n volledige katalogus van ekstra bybehore om jou 400 jou eie te maak. Daar is nog geen aanduiding van prys nie, maar dit behoort uiters kompeterend te wees. Ek sien baie uit na hierdie fiets en sodra een beskikbaar raak, sal ons meer breedvoerig kan berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.