TVS Apache 310 RR – uitstekende liggewig

Die TVS Apache 310 RR. (Foto: Brian Cheyne)

In ’n land met meer as 37 miljoen motorfietse, is dit nie verbasend dat drie van die wêreld se grootste motorfietsvervaardigers in Indië geleë is nie: Hero, Bajaj en TVS. Hero is verreweg die grootste en het reeds modelle hier in Suid-Afrika. Die ander twee vervaardigers is plaaslik meer bekend vir hul verbintenis met die twee groot Europese vervaardigers, naamlik KTM en BMW. Bajaj vervaardig KTM se 125-, 250- en 390-reeks fietse terwyl TVS verantwoordelik is vir die BMW G 310-reeks. Met die kennis wat TVS opgedoen het met die G-reeks, het hulle nou een trappie verder gegaan en die BMW G 310 R omskep in die fiets wat dit kon gewees het: die Apache 310 RR.

Die goeie nuus is dat die Apache nou plaaslik beskikbaar gaan wees teen ’n uiters mededingende prys. Omdat ek vir ’n geruime tyd self ’n BMW G 310 GS gery het, was die ooreenkomste duidelik sigbaar. Die wiele, die raam en die uitlaatpyp kan jy weliswaar by BMW gaan koop. Dit gebruik selfs die 312 cc-enjin wat agterstevoor monteer is. Maar dit is waar die ooreenkomste eindig. Die Apache se stilering is uiters aantreklik. Dit grens amper aan afkyk by die Ducati Panigale. Die agterlig is soortgelyk gestileer en selfs die woorde “Race spec” op die rooi raam lyk soos Ducati se lettertipe. Elke lyn, elke bakpaneel vloei grasieus saam. As jy mooi kyk, sal jy sien dat selfs die silinderkop rooi geverf is. Daar is eenvoudig nie ’n hoek waar die Apache onooglik lyk nie. Jy kan jou TVS tussen superfietse parkeer en hy sal nie afsteek nie.

Die TVS Apache 310 RR. (Foto: Brian Cheyne)

Die instrumentasie is ligjare beter as op die Duister. Dit bestaan uit ’n volkleur-TFT-skerm wat vertikaal monteer is. My verbasing was groot toe ek sien daar is vier ryprogramme beskikbaar. Dit is nie sommer iets wat jy in hierdie klas kry nie. Boonop is dit nie net nog ’n foefie nie. In die reënprogram word die enjin se krag gesny om te keer dat die agterwiel gly as jy versnel. Die fiets kom ook standaard met Michelin-bande, so hierdie fiets is ernstig oor verrigting.

Die ryposisie is neutraal, en jy sit nie so ver vooroor soos wat die fiets se benaming jou sal wil laat glo nie. Die saal is ferm en baie breed agter. Selfs die handkontroles voel solied en van hoë gehalte. Die koppelaar is ook verbeter teenoor die model wat in die vroeë BMW’s was, so die koppelaaraksie is goed, en die klein RR versnel baie flink. Die rygehalte is uitstekend en soos my vertroue in die fiets se vermoë begin toeneem het, het ek die fiets net nog meer geniet. Hoewel die verrigting op papier dieselfde is as die BMW, is dit asof die TVS net soveel meer woema het. Op die snelweg wil die fiets net weghardloop, en die glimlag op my gesig het net groter geword. Al wat ek sou verander aan hierdie fiets is om die handvatsels vir die passasier te verwyder. Dit bederf die mooi lyne van die fiets. Verder kon ek nie fout kry nie.

Tans is daar net een handelaar in Suid-Afrika, maar die fiets word ingevoer deur ETG. Met hul finansiële ondersteuning behoort die handelaarnetwerk eersdaags uit te brei. Die Apache is beskikbaar teen slegs R79 995 en word gerugsteun deur ’n tweejaarwaarborg, ongeag die afstand wat jy aflê.

Vir meer inligting: https://www.tvsmotor.com/en/za

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakez ·

Ek sien jy het die “top speed” mooi uit ge-edit…ha ha ha!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.