V4 kry ’n stofpad-variant

Die Ducati Multistrada V4 is, en bly, steeds een van my gunstelingmotorfietse. Die Ducati-DNS loop diep deur die fiets, en die ryposisie en ryervaring is eenvoudig perfek vir my. Alhoewel Multistrada letterlik “vele paaie” beteken, is hy tog meer op padgebruik gerig. Nou het Ducati die jongste weergawe van die Multistrada V4 bekend gestel, naamlik die Multistrada V4 Rally. Volgens Ducati is die Rally ’n onstuitbare reisgenoot, of jy nou alleen ry, of met ’n passasier.

Die Multistrada V4 is reeds ’n formidabele fiets, maar Ducati het met die Rally meer op stofpaaie gefokus. Daarvoor het Ducati die vering meer reikafstand gegee, wat natuurlik ook die grondvryhoogte verhoog het. Die elektronika het nou ’n toegewyde ryprogram vir grondpad en dit werk saam met die semi-aktiewe vering. Laasgenoemde verstel ook outomaties soos die lading op die fiets verander. Speekwiele is ononderhandelbaar op ’n fiets in hierdie klas en daar is ook beter beskerming om die enjin. Die brandstoftenk vat 30 liter, wat beteken dat jy baie ver sal kan verken.

Vir die gerief van ryer sowel as passasier het die Rally ’n groter skerm om die wind in toom te hou. Die agterkant van die fiets is verleng en die bagasie sit verder terug om dit vir die passasier gemakliker te maak. Ducati bied hoër en laer sitplekke om enige ryer te akkommodeer. En vir korter ryers het die semi-aktiewe vering ’n oulike toertjie: as jy stop, sak die hele fiets sodat jou voete vas op die grond kan staan. Dit maak dit ook makliker om die fiets van sy systaander af regop te kry. ’n Hoofstaander is standaard op die Rally om kettingonderhoud te vergemaklik.

Die Multistrada V4 was die eerste motorfiets ter wêreld wat met radar toegerus is. Dit beteken die Rally het aanpasbare spoedbeheer en blindekolmonitering. Die 6.5” TFT-skerm kan vir navigasie aangewend word as jy dit aan Ducati se toepassing koppel. Die fiets het vier ryprogramme, naamlik Sport, Touring, Urban en Enduro. Die Enduro-program is verder verfyn vir optimale beheer op grondpaaie. Dit beperk die krag en baie van die elektroniese vangnette omdat jy juis die fiets anders gaan ry. So skakel Ducati byvoorbeeld die sensor af wat bepaal of die voorwiel in die lug is. As jy ’n steil bult uitry, is die laaste ding wat jy wil hê dat die krag sny omdat die fiets dink die voorwiel is in die lug!

Die V4 Granturismo-enjin lewer steeds 170 pk teen 10 750 rpm en beskik oor die vermoë om die agterste twee silinders te deaktiveer as die fiets staan en luier. Dit help nie net om die hitte van die enjin in toom te hou nie, maar dit help ook met die brandstofverbruik. Vir die Rally het Ducati hierdie eienskap verder verfyn. As jy stadig ry in tegniese terrein, skakel die agterste twee silinders af om brandstof te bespaar en uitlaatgasse te beperk. Sodra die lading op die enjin meer raak, aktiveer die agterste silinder weer vir maksimum bruikbare krag.

Die Multistrada V4 Rally doen dus sy naam gestand en behoort vir meer paaie geskik te wees. Ducati het ook ’n volledige katalogus van bybehore beskikbaar om jou V4 Rally in ’n ware wêreldreisiger te omskep. Die fiets behoort teen Februarie volgende jaar beskikbaar te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Die vorige Ducati fietse se dienste het jou sak behoorlik geruk, hoop dit is nou beter.

Brian ·

Die V4 enjin gebruik tradisionele kleppe, so die groot dienste behoort minder te wees. Nou moet ek dadelik bysê, die persepsie dat Ducati dienste duur is, is nie altyd so akkuraat nie. Ek ry self een, en my inloopdiens was goedkoper as my klein BMW 310 s’n was. Triumph s’n is ook duurder. En ander vervaardigers het ook ‘n diens waar die kleppe verstel moet word, so dit is nie iets uniek aan Ducati nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.