Velar vs. XC60: Watter inprop-hibried span die kroon?

Terwyl die meeste Eerstewêreldlande hul bes probeer om elektriese voertuie deur wetgewing op die res van die wêreld af te dwing, dink ek die perfekte oplossing is reeds beskikbaar – die inprop-hibried (PHEV).

Ons het onlangs twee mediumgrootte luukse sportnutsvoertuie onder hande gehad – ʼn Range Rover Velar en ʼn Volvo XC60. Albei het ʼn inprop-hibriede dryfstelsel en is elektriese motors met ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin. Al is die formule of resep eenders op papier, kon dié twee voertuie nie meer van mekaar verskil nie. Kom ons vergelyk hulle.

Ontwerp:

Range Rover Velar P400e Dynamic HSEVolvo XC60 T8 Recharge Ultimate
5/54/5

Ek persoonlik verkies die ontwerp van die XC60, meer konserwatief en net ʼn doodgewone motor. Maar ek, met my boep én bles, weet nie veel van ontwerp nie. Dié wat weet, sal die uiters moderne ontwerp van die Velar verkies met sy deurhandvatsels wat toevou in die deur. Oor die algemeen kry ʼn mens deesdae die indruk dat Range Rover se hoogste prioriteit die ontwerp is.

Binneruim:

Range Rover Velar P400e Dynamic HSEVolvo XC60 T8 Recharge Ultimate
5/55/5

Albei voertuie het pragtige binneruimtes, al verskil die doel effens tussen die twee. Die Volvo se ergonomie beïndruk en die eenvoudigheid van die ontwerp is gerusstellend. Die Range Rover se nuwe skerms is wel ʼn fees en die afwesigheid van knoppies en tierlantyntjies dra by tot die uiters sjiek ontwerp. Albei is pragtig en luuks, maar daar is nie ʼn sitplek in enige ander voertuig só gemaklik soos ʼn Volvo-sitplek nie.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Range Rover Velar P400e Dynamic HSEVolvo XC60 T8 Recharge Ultimate
3/55/5

In dié afdeling is Volvo se onteenseglik aan die wenkant. Ek het nou al met verskeie PHEV Volvo’s gery en almal kan werklik by 1,8 ℓ/100 km handhaaf op die gekombineerde siklus. Altans, as ek net werk toe en huis toe ry elke dag is my brandstofverbruik 0 ℓ/100 km. Ek laai hom net elke aand. Die Range Rover aan die ander kant is bitter moeilik om beter as 5 ℓ/100 km te handhaaf. As jy nét te veel vet gee, dan spring die binnebrandenjin aan die gang. Die Volvo kan selfs 120 km/h op die snelweg toer slegs op elektries. Volvo se oorskakeling tussen elektries na petrol of andersom is ook gladder as in die Velar.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Range Rover Velar P400e Dynamic HSEVolvo XC60 T8 Recharge Ultimate
4/55/5

Terwyl albei motors uiters veilig is en beter padhouvermoë bied as wat enige bestuurder van ʼn luukse sportnutsvoertuig ooit sal benodig, is die ritgehalte in die Velar skrams agter die Volvo. Dit kan toegeskryf word aan die Velar se beheptheid met ontwerp. Die 21”-wiele is enorm, en dit beïnvloed die rit sleg. Die Volvo op sy 19”-wiele toer pragtig en heelwat sagter as die Range Rover op die slegte Gauteng-paaie.

Opsomming:

Range Rover Velar P400e Dynamic HSEVolvo XC60 T8 Recharge Ultimate
17/2019/20

Die twee voertuie verskil heelwat van mekaar. Teen veel minder geld, kwyt die Volvo hom perfek van sy taak as ʼn luukse sportnutsvoertuig met ʼn inprop-hibriede dryfstelsel.

Prys:

Range Rover Velar P400e Dynamic HSEVolvo XC60 T8 Recharge Ultimate
R2 202 700R1 390 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.