Vuurvreter van formaat!

(Foto verskaf)

Die opkoms van die sportnutsvoertuig het verskeie segmente in gedrang geplaas. Die C-segment‑sedanmotor waarmee die meeste Suid-Afrikaners grootgeword het, bestaan amper glad nie meer nie. Soos Corollas en Jettas, selfs die Sierra of Sapphire of Cortina voor hulle. ʼn Segment wat selfs erger geraak is, is die C-luikrug soos Golf, Focus en RunX.

Renault het egter ʼn laaste hoera vir die segment in die vorm van die Renault Megane RS 300 Trophy. ʼn Vuurwarm blitsbuks met ʼn 2.0‑turbo-bomklapper onder die kap, ʼn dubbelkoppelaar- outomatiese ratkas, voorwielaandrywing met klouerige rubber en ʼn sportsitplek. Die eindresultaat is ʼn luikrug wat sportmotors van twee keer die prys ore kan aansit.

Die ontwerp is netjies. Sportief en doelgerig – darem sonder onnodige aggressiewe lyne of vinne. Die groot sierwiele waardeur ʼn mens die rooi remknypers sien uitsteek, gee vir jou die idee dat hier iets aan die gang is.

Die binneruim is lekker ruim vir ʼn luikrug en die Recaro‑sportsitplek bied fantastiese steun. Ongelukkig begin ek self ʼn bietjie breed raak om lekker in die sitplekke te pas. Die lapbekleedsel en Alcantara op die stuurwiel is nog leidrade dat dié Megane ernstig opgeneem moet word.

Ek is nie mal oor ʼn groot raakskerm wat elke funksie beheer nie, maar die sagteware op die nuutste weergawe van Renault se inligtingstelsel is ʼn wesenlike verbetering op die vorige een.

Sodra jy die Megane aanskakel en die aanvanklike geblaf hoor, gevolg deur ʼn konstante gegrom, weet jy sommer: Dit gaan pret wees. Volkswagen het met hulle GTI die vrrrrrpha‑sêding gewild gemaak. Dis die klank wat soos die kar hard versnel en wanneer hy ratte wissel, ʼn groot klapgeluid maak. Dis vrrrrrpha en dié RS 300 Trophy het ook nie ʼn tekort hieraan nie.

Onder die kap sit ʼn 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin wat 221 kW en 420 Nm bied. Dit sorg vir ʼn 0‑100 km/h‑versnelling in net 5.7 sekondes. Die Trophy sal dan ook aanhou snol tot ʼn blitsige 255 km/h.

Soos jy voet in die hoek om die eerste draai kom, besef jy die onderstel van die Trophy en die stuur is uit ʼn ander wêreld. Dié RS het wat Renault 4Control noem. Vierwielstuur. Die agterwiele draai teen lae spoed in die teenoorgestelde rigting – en op hoëspoed in dieselfde rigting. Dit veroorsaak dat ʼn voorwielaangedrewe kar draai soos ʼn agterwielaangedrewe kar en nie die geringste stuurtraagheid wys nie. Baie indrukwekkend.

Op die pad toer die Megane werklik lekker… ja, effens hard vanweë sy sportiewe vering, maar beslis nie onuithoudbaar nie. Soos met die meeste moderne motors beskik die Trophy ook oor ʼn magdom veiligheidstelsels om dinge in die regte rigting op die pad te hou.

Ek sal die Trophy 300 só opsom: Die kar kos baie geld, maar is waarskynlik die laaste van sy soort. Hy loop soos ʼn windhond én is netjies genoeg om aan jou skoonouers voor te stel.

Die Trophy 300 lyk só:

Renault Megane RS 300 TrophyR949 999

 

Die kompetisie lyk só:

BMW 128ti180 kW/380 Nm6,8 ℓ/100 km0‑100 km/h in 6.3 sek.

Topspoed 243 km/h

R789 260
Volkswagen Golf GTI180 kW/370 Nm7 ℓ/100 km0‑100 km/h in 6.4 sek.

Topspoed 250 km/h

R793 500
Toyota GR Yaris 1.6T GR-Four Rally198 kW/360 Nm7,6 ℓ/100 km0‑100 km/h in 5.5 sek.

Topspoed 230 km/h

R848 600
Hyundai i30 N206 kW/392 Nm8,9 ℓ/100 km0‑100 km/h in 5.4 sek.

Topspoed 250 km/h

R848 900
Toyota GR Corolla 1.6T GR-Four Core221 kW/370 Nm8,4 ℓ/100 km0‑100 km/h in 5.5 sek.

Topspoed 230 km/h

R849 400
Volkswagen Golf R235 kW/400 Nm7,8 ℓ/100 km0‑100 km/h in 4.8 sek.

Topspoed 250 km/h

R945 100
Honda Civic Type R235 kW/420 Nm8,4 ℓ/100 km0‑100 km/h in 5.5 sek.

Topspoed 272 km/h

R999 900

Hier is ʼn lekker handvol mededingers. Die Megane en Honda Civic is albei voorwielaangedrewe met dieselfde krag as die ander vierwielaangedrewe modelle. Elkeen is in sy eie reg spesiaal. Gaan toetsbestuur almal – een gaan jou hartsnare roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.