Waar dit vir BMW begin het  

As ʼn jong laaitie, omtrent nege jaar oud, het ek gereeld in my oom se werkswinkel gaan hand bysit. Hy was ʼn motorwerktuigkundige. Dit was my werk om enjins uitmekaar te haal en op die werkbank te pak en rangskik. Dan was daar ook onderdele was – ʼn oliekannetjie, ʼn kwas en ʼn bietjie petrol en só het ʼn mens maar geskrop tot al die ghries en olie afgewas is… ek het dit gehaat. My oom het in daardie stadium ʼn E12 BMW 5-reeks, ʼn 518i, gery. Die ander oom het ʼn 733i gehad – ons het soms met hom gery – wat ʼn weeldewa! Dis seker dan nie vreemd dat my eerste motor ʼn E30 316 BMW was nie.

Terug na die 5-reeks: Dit is waarskynlik die model wat vir BMW op die wêreldverhoog geplaas het. Tot vandag nog ʼn uiters gewilde model vir dié handelsmerk. BMW se eerste 5-reeks is in 1972 bekendgestel en was ʼn groot familie-sedanmotor. Nou in sy agtste generasie is die 5-reeks ʼn ware weeldewa.

Die ontwerp in mooi, interessant en met indrukwekkende lyne. Dit is egter die binneruim waar ʼn mens die luuksheid begin ervaar. Pragtige sitplekke wat jou laat voel jy rus in ʼn kokonnetjie. Die geboë skerm vertoon mooi al die inligting wat mens moontlik sou wou weet. Die ergonomie van die kajuit is, na sewe generasies, in die kol en ʼn mens is vinnig gemaklik.

In Suid-Afrika is daar drie modelle beskikbaar – ʼn 520d en twee i5 modelle, ʼn i5 40e en ʼn i5 M60. Die 20d is die enigste binnebrandmodel. Die 520d se 2.0 viersilinderturbodieselenjin bied 145 kW en 400 Nm. Die 520d se troefkaart is wel sy verstommende brandstofverbruik. BMW beweer ʼn verbruik van 5,1 ℓ/100 km en ons het tydens die bekendstelling bitter naby aan daai syfer gekom.

Die tweede model waarmee ons te doen gekry het by die bekendstelling is die lawwe i5 M60 xDrive. ʼn Barbaarse 442 kW en 795 Nm slinger die nuwe 5-reeks van stilstand tot 100 km/h in ʼn blitsige 3,8 sekondes en hy sal aanhou draf na ʼn elektronies-beperkte 230 km/h.

Op die pad toer die 520d die ligste. Hy voel meer delikaat as die vuurvreter M60. Ritgehalte in die 5-reeks is verstommend. ʼn Pragtige rit met goeie padhouvermoë – maar die stilte van die kajuit verbaas.

Die 5-reeks is egter ʼn luuksbuks – en dus het hy elke denkbare veiligheidstelsel. Selfs as ʼn mens met die outomatiese spoedkontrole ry en jy sit net jou rigtingwyser aan sal die 5-reeks self baan wissel. Indrukwekkend. In ander lande waar die wetgewing dit toelaat hoef ʼn mens nie aan die stuur vas te hou nie, en as ʼn mens net op ʼn spesifieke manier in die spieëltjie kyk dan wissel hy self bane.

Dié klas voertuig is pragtig en ry lekkerder as enige sportnutsvoertuig daar buite. BMW se 5-reeks, Mercedes-Benz se E-klas en Audi se A6 is almal pragtige rygoed – maar die 5-reeks is nou die jongste en innoverendste. Ek dink egter ʼn 530d sou die keuse in die reeks wees – maar daar is nie tans ʼn 6-silinder diesel beskikbaar nie.

Die reeks lyk só:

BMW 520d145 kW/ 400 Nm5.1 l/ 100 kmR1 247 893
BMW i5 eDrive 40250 kW/ 400 Nm15.9 kWh/ 100 kmR1 842 500
BMW i5 M60 xDrive442 kW/ 795 Nm18.2 kWh/ 100 kmR2 190 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km voertuigwaarborg, 8 jaar/ 100 000 km batterywaarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan. Elke i-BMW word met ʼn komplimentêre laaiboks verkoop wat by ʼn bestemming van jou keuse geïnstalleer word.

Ons sal weer tyd met die 5 deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

miraclealigner ·

Jinne – al daai geld en dié kar het nie eers sakkies agter die voorste sitplekke nie. Nee wat, dan ry ek eerder maar my Haval’etjie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.