WeBuyCars: Só lyk verkope per provinsie

(Foto: WeBuyCars)

WeBuyCars, een van Suid-Afrika se grootste motorhandelaars, verkoop tans meer as 9 000 motors per maand.

Die motorhandelaar het 88 271 motors die afgelope jaar verkoop in vergelyking met die 59 177 motors in 2020. WeBuyCars het die afgelope 20 jaar gegroei tot die land se tweede grootste tweedehandsemotorhandelaar en het reeds meer as 1 300 mense in sy diens.

WeBuyCars het ook vroeër vanjaar Johannesburg se bekende Ticketpro Dome in Northgate gekoop en gaan dit in ʼn reusevertoonvloer omskep.

Vanweë die getal maandelikse verkope en danksy sy data-ontledingsvermoë het WeBuyCars beduidende verskille in verbruikersgedrag van verskillende streke regoor die land opgemerk.

“Ons data wys dat ʼn voertuig waarskynlik vyf tot ses keer in sy bestaan van eienaar sal verwissel. Die eienaars van nuwe voertuie hou die voertuie vir sowat ses jaar terwyl die eienaars van tweedehandse voertuie vir sowat drie jaar aan hul motor vasklou,” sê Faan van der Walt, uitvoerende direkteur van WeBuyCars.

Die afgelope paar maande se koopneigings dui daarop dat 43% van aankope in Gauteng plaasgevind het, 25% in die Wes-Kaap en 19% in KwaZulu-Natal.

In KwaZulu-Natal koop en verkoop voertuigeienaars hul voertuie meer gereeld as inwoners van ander provinsies. Hulle hou hul voertuie vir ongeveer vier jaar en maak dan staat op bankfinansiering om ʼn nuwe voertuig aan te skaf.

In die Wes-Kaap betaal kopers eerder kontant vir hul voertuie en hou hul voertuie baie langer. In Gauteng is daar ʼn goeie balans rakende die twee scenario’s hierbo.

“Toe WeBuyCars 20 jaar gelede gestig is, was die doel nie om só groot onderneming te word nie, maar ʼn kombinasie van geluk, omstandighede en ʼn goeie begrip van die bedryf het ons toegelaat om ʼn onderneming te word met ʼn omset van naby R12 miljard.”

WeBuyCars gebruik sy data om besluite te neem soos watter voertuie in watter provinsies verkoop moet word. In Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos- en Wes-Kaap en Mpumalanga is Volkswagen die gewildste handelsmerk. Ford is tops in die Vrystaat en Limpopo en Toyota in die Noordwes en die Noord-Kaap.

Wanneer WeBuyCars sy kopers in ouderdomsgroepe verdeel is die groep van tussen 30 en 44 jaar oud die groep wat die meeste motors koop. Dié groep koop 37% van alle voertuie. Tweede is die groep van 45 tot 59 jaar oud wat 28% van voertuie koop. Die groep wat die minste voertuie koop is diegene tussen 75 en 89 jaar oud met 2,6% van verkope.

Die meeste voertuie wat WeBuyCars verkoop kos tussen R40 000 tot R80 000, gevolg deur motors wat tussen R120 000 en R200 000 kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael ·

Ongelukkig Wanneer jy ‘n kar by hulle koop en iets breek aan die kar dan is hul reaksie eenvoudig net dat dit nou jou probleem is. Het verlede jaar ‘n 2010 model kar daar gekoop. ‘n Week later kom die dryfas los en slaan ‘n gat in die ratkas. Die verkoopsman se reaksie was eenvoudig dis nou my probleem en ek moes toe maar die R22 000-00 betaal om die kar weer aan die loop te kry. Het met hul probeer onderhandel en selfs regsadvies gekry maar hulle het ‘n regsafdeling teen wie gewone verbruikers soos ons nie ‘n kans staan nie. Ek bly maar weg van hulle af nou

SlinkseKoljander ·

Grootste klug ooit, sal nooit by hulle iets koop.
Hulle gee jou ook niks as jy jou kar wil verkoop nie, nee wat stap verby.

Kattebol ·

Ek het my karretjie splinternuut gekoop in Oktober 2007. Sy kilometer lesing staan vandag op 80 238km na 14 jaar! Ek het onlangs van versekeringsmaatskappy verander en hulle wou nie die kilometer lesing glo nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.