‘Baby Shark’ binnekort ʼn vollengte fliek

‘n Skermgreep uit die video.

Aandag alle ouers wat onophoudelik saam moes doo-doo-doo-doo-doo-dans op die oorwurm “Baby Shark”: Kry jou oorproppies reg want dié aansteeklike trefferlied gaan volgende jaar in ʼn vollengte fliekformaat beskikbaar wees.

Paramount+, die ViacomCBS-stroomdiens, het onlangs op Twitter ʼn nuwe reeks oorspronklike kinder- en gesinsprogramme onthul, onder meer die Baby Shark-fliek, drie Spongebob Squarepants-rolprente asook ʼn nuwe Transformers-animasiereeks.

Dié kindertrefferlied is oorspronklik as ʼn kampvuurliedjie in die VSA gesing en het wêreldwye bekendheid in 2016 verwerf toe Pinkfong, ʼn Suid-Koreaanse vermaakmaatskappy, ʼn weergawe van die liedjie uitgereik het met ʼn YouTube-musiekvideo waarop kleurvolle haaie saam sing en dans. Die video het dadelik soos ʼn veldbrand versprei en gevolglik kinders en ouers regoor die wêreld se ore (en drome) gevul met die onmiskenbare doo-doo-doo-doo-doo-deuntjie.

Dié rolprentweergawe is egter nie die eerste fliekformaat van “Baby Shark” nie. Die YouTube-video se sukses het gelei tot twee Baby Shark-televisiereekse asook ʼn kortfliek. ʼn Musiekspel getiteld “Baby Shark Live” is in 2019 bekendgestel en Baby Shark-karakters pronk ook op al wat ʼn produk is, van klere, beddegoed en stortroom tot lekkergoed en kitspap. In Maart 2020 is daar selfs ʼn nuwe interaktiewe weergawe van die liedjie bekendgestel wat kinders aanmoedig om hul hande behoorlik te was tydens die Covid-19-pandemie.

In November 2020 het Pinkfong se weergawe ʼn mylpaal behaal en die mees gekykte YouTube-video van alle tye geword, met meer as sewe miljard trefslae. In Januarie vanjaar het dit die eerste YouTube-video geword wat tien miljard trefslae gehaal het.

Dit is egter nog nie duidelik of die Baby Shark-fliek in 2023 eksklusief op die Paramount+-stroomdiens of ook vir ʼn beperkte tyd in teaters sal draai nie.

Daar is egter geen twyfel nie dat dit die liedjie sal insluit wat vir ewig in jou (of jou kind) se kop sal vassteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.