Die koronakrisis het onderwys onherroeplik verander

onderwys-appel-pen-merkwerk

Argieffoto.

Deur Melanie Buys en André Badenhorst

Onderwys sal nooit weer dieselfde wees nie. Die pandemie het heelwat tydelike aanpassings geverg, maar het ook sekere elemente van onderwys onherroeplik verander. Ons het eerstehands beleef hoe inperkings die toekoms versnel: Skole moes moontlikhede skep om aanlyn met leerders te kommunikeer, leerders moes skielik self verantwoordelikheid neem om by skoolwerk uit te kom en ouers moes plan maak dat kinders internettoegang en data kry vir meer as net WhatsApp en speletjies.

Ouers, leerders en onderwysers sien om verskillende redes uit om weer  ʼn normale en voorspelbare skoolroetine te volg, maar die speelveld (en klaskamer) lyk nou heel anders:

1.    Rol van tegnologie

Tegnologie is hier om te bly. Sosiale media (soos WhatsApp-groepe) is nou deel van die leerproses, en word selfs in arm gemeenskappe gebruik om met leerders te kommunikeer en ouers ingelig te hou. Werkopdragte en notas word verkieslik elektronies gedeel, en onderwysers van alle ouderdomme is al gesout in die opneem van videolesse. Die behoefte aan aanlynlesse het daartoe gelei dat Die Wolkskool in 2020 met meer as 120 000 inskrywings gegroei het!

Tegnologie stel onderwysers in staat om tydrowende kennisoordrag buite klastyd te laat gebeur. Gevolglik is daar meer tyd in die klas vir vaslegging van begrippe, debattering en verdere navorsing. Lesse wat aanlyn beskikbaar is om weer en weer te kyk en leerders toelaat om vooruit te werk, maak inoefening maklik en vordering teen eie tempo ’n werklikheid.

Sommige onderwysers het wel die krisis misbruik om lyf weg te steek, maar ander het die geleentheid gebruik om vertroud te raak met tegnologie om klasse aanlyn aan te bied, video’s te maak, en elektroniese lesmateriaal en toetse te skep.

Baie onderwysers het vooraf vervaardigde, kurrikulumbelynde inhoud – soos Die Wolkskool – gebruik om hul werklas te verlig, sodat hulle kon fokus op probleemoplossing.

Skole het in hierdie tyd die noodsaaklikheid van ’n digitale strategie besef. Planne vir stabiele internettoegang is gemaak en deur middel van goedkoop toestelle, selfs slimfone, gereël. Skenkings van ou toestelle uit die gemeenskap word bloot “wolkgereed” (cloud ready) gemaak. Omdat meeste verwerking deesdae in die wolk gebeur, hoef toestelle nie baie kragtig te wees nie en is dit relatief goedkoop om aan skole se basiese behoeftes vir aanlyn leer te voorsien.

Data is die nommer een-vereiste vir kontinuïteit van onderrig. Leerders wat nie data of internettoegang tuis het nie, kan leerinhoud by die skool aflaai. Daar is selfs skole wat in die toekoms ʼn permanente aanlyn skool, parallel met die tradisionele skool beplan.

2.    Waarde van die onderwyser

Melanie Buys is hoof van ontwikkeling by die SOS. (Foto: Verskaf)

Die inperking het die belangrike rol van onderwysers in kinders se lewe en ontwikkeling onderstreep. Toegewyde ouers het moeite gedoen om hul kinders tuis te help en is deur effektiewe kommunikasie vanaf die skool ondersteun. Kritieke vaardighede wat normaalweg deur ’n professionele onderwyser ontwikkel word, het in dié tyd deur die krake geval. Die regte grondslag vir lees- en syfervaardighede is bepalend in leerders se prestasie in latere grade.

Leerders wat selfgerig kon werk, het tydens die inperking uitstekend gevaar. ʼn Paar het selfs in die eerste kwartaal reeds die hele jaar se Wolkskoolinhoud voltooi. Ongelukkig is daar leerders wat meer struktuur nodig het, en nie in die tyd van afsondering die mas kon opkom nie, ten spyte van aanlyn hulp. Hierdie leerders baat veral by die ervare leiding en aanmoediging van ʼn onderwyser.

Die werklike waarde van die onderwyser is baie meer omvattend as blote kennisoordrag: Onderwysers is tegelyk motiveerders, fasiliteerders, beraders, maatskaplike werkers, rolmodelle en lewensafrigters wat nie met tegnologie vervang kan word nie. Wanneer leerders egter vooraf (aanlyn) aan die feite blootgestel word, het onderwysers meer geleentheid om dieper leer in die klas te hanteer.

3.    Rol van die staat

Met Covid-19 is die staat se beperkte kapasiteit en rol in Suid-Afrika ontbloot. Skole kan/moet nie meer op staat reken in ’n krisis nie. Swak leierskap op nasionale vlak het vir grootskaalse onsekerheid gesorg. Dit het ’n verlammende effek op skoolgemeenskappe wat nie eienaarskap neem van hul omstandighede nie en toelaat dat die staat te veel voorskryf.

In die eerste maande van die inperking het skole geen ondersteuning van die staat ontvang nie – selfs die staat se voedingskemas het opgedroog. Latere ingryping was dikwels meer beperkend as wat dit van hulp was. Skole moes hul eie planne maak en hul eie bronne en ondersteunende netwerke gebruik. Gemeenskapsorganisasies, ander funksionele skole, besighede en nieregeringsinstellings het kwesbare leerders en skole tydens die krisis ondersteun.

Internetinfrastruktuur wat deur die Wes Kaapse Onderwysdepartement by skole voorsien word, help baie. In ander provinsies moet skole egter self plan maak en nie vir die staat wag om met oplossings vorendag te kom nie.

4.    Rol van ouers in leer

Meeste ouers het moeite gedoen om hul kinders tuis te help en sommige skole het effektief met ouers gekommunikeer om dit moontlik te maak. Geen mens verwag dat ouers die rol van ʼn opgeleide onderwyser oorneem nie, maar hulle is ’n belangrike skakel in die leerproses. Vir ouers was die skielike, noue betrokkenheid by die onderrig van hul kinders, ’n steil leerkurwe. Die Wolkskool is oorval met boodskappe van dankbaarheid vir hul ondersteuning en aanlyn hulpbronne.

’n Ondersoek deur Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS)  het bevind dat daar ’n groot behoefte bestaan dat skole meer leiding gee aan ouers om hul unieke bydrae – in tandem met die onderwyser – te lewer.

5.    Vakinhoud

André Badenhorst is ’n navorser by die SOS en tans besig met sy PhD in selfgerigte leer. (Foto: Verskaf)

Meer is nie noodwendig beter nie – dit is die grootste les van 2020! Die dae is verby dat beter onderwys aan groter kennisoordrag gemeet word. Deesdae is inligting vrylik beskikbaar met die druk van ʼn knoppie. Dit gaan nou oor die aanleer van digitale vaardighede en die vermoë om die regte kennis te identifiseer, daardie kennis toe te pas om probleme op te los, en te leer uit foute wat in die proses gemaak word. So word selfgerigte, lewenslange leerders geskep.

Internasionaal fokus onderwysinstellings op vaardighede wat relevant is vir die Vierde Industriële Revolusie (4IR), waar kunsmatige intelligensie (KI) aan die orde van die dag is. Die Suid-Afrikaanse kurrikulum, die KABV (CAPS), maak ook voorsiening daarvoor. Die inkorting van die kurrikulum tydens 2020 is ’n bewys dat die oormatige klem op oordrag van kennis oorbodig is. Onderrig behoort te fokus op die aanleer van kernvaardighede soos samewerking, kritiese denke en ondernemerskap.

Die toekoms

In 2020 is die veranderingsproses in onderwys super versnel. Onderwysers was verplig om die eerste tree met digitale tegnologie te neem. Nou is die ys gebreek. Tegnologie kan nie onderwysers vervang nie, maar stel hulle in staat om die kwaliteit en impak van hul onderrig te verhoog en groter samewerking van leerders te kry, juis omdat hul onderrig by die digitale leefwêreld van kinders aansluit. Covid-19 het sy tol geëis, maar het ook, soos met elke krisis die geval is, moontlikhede ontsluit wat voorheen ondenkbaar was.

  • Melanie Buys is hoof van ontwikkeling by die SOS. André Badenhorst is ’n navorser by die SOS en tans besig met sy PhD in selfgerigte leer.
  • Die Wolkskool bied ʼn volledige aanlyn kurrikulum vir leerders van graad 1 tot 12, en twaalf verskillende vakverenigings bied professionele ondersteuning aan onderwysers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ameli ·

Dis net v my sleg ons skool gaan normaal aan weer, maar by my kind se skool het elke onderwyser v elke vak n whatsup groep gestig en my kind se foon hou nie op met boodskappe nie, hy raak moedeloos v al die boodskappe dit gaan net aan en aan, skool begin 7uur kom kwart voor 2 uit. Hoekom word die werk nie in klas gedoen nie, dan moet hy tot die lesse op videos kyk ma die werk word nie in klas behandel nie.
Dan praat ek nie v die sport groepe nie

Maalstroom ·

Dit is so dat die pandemie nuwe uitdagings aan die onderwys stel. Primêre en sekondêre skool afstandsonderrig is vir ons ongewoon, maar bestaan al dekades.
School on the Air in Australië het byv. al in 1951 begin oor die radio.

Johannes Gutenberg se bewegende drukpers het in die 15de eeu die moderne Kommunikasie Revolusie ingelui. Dit het gelei tot die die Wetenskap Revolusie en die Kennis-gebaseerde Ekonomiese Revolusie. Omdat dit juis die massa verspreiding van kennis en inligting d.m.v. die boekdruktegnologie moontlik gemaak het.

Die databasisse en onderrigbronne wat nou op die Internet beskikbaar is, is die nuwe “biblioteke”.

Maar die Internet is geen plaasvervanger vir die georganiseerde voorbereiding en gedissiplineerde aanbieding vir die aanleer van basiese kennis, kundigheid en vaardighede nie. Daarsonder verval “kritiese denke” in lukrake probeer-en-tref “kreatiwiteit”, en “ondernemerskap” en “samewerking” in swak beplande, hoë-risiko bestuurs en bedryfs-praktyke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.