Help, my kind wil nie skool toe gaan

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Jy ken miskien die scenario soos die palm van jou hand: Sodra jy jou kind by die skool gaan oplaai, vertel hy reeds vir jou dat hy nie die volgende dag wil teruggaan nie. Wanneer die nuwe skooldag aanbreek is dit ʼn stryd om skoolklere aan te kry, tande te borsel en hom in die motor te kry sodat julle skool toe kan ry.

Dit is ʼn toneel wat daagliks in huishoudings reg oor die wêreld afspeel en indien jy hiermee kan vereenselwig kan jy jou daaraan troos dat jy en jou gesin beslis nie alleen is nie.

Volgens prof. Kobus Maree van die Departement van Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, is dit dikwels laerskoolleerders wat ongeneë is om skool toe te gaan.

Sy raad is dat dit uiters belangrik vir ouers is om op hulle eie reaksie en houding te let.

“ʼn Angstige ouer projekteer dikwels hulle gevoelens op hulle kinders sonder dat hulle dit eens weet. Kinders let baie op na ouers se optrede en liggaamshouding, en dit beïnvloed hulle eie gevoelens,” sê Maree.

Begin dus by die huis, sê hy. “As ouers bang is om hulle kinders skool toe te stuur, kan hulle verwag dat hulle kinders ook bang gaan wees. Hulle stuur dikwels onbewustelik ʼn boodskap na hulle kind wat hulle onveilig in die skoolomgewing laat voel.”

Om jou kind gerus te kan stel dat die skool die beste plek is waar hy homself daagliks kan bevind, is dit belangrik om daardie grondslag reeds tuis te lê.

“As ouer moet jy opgewondenheid oor die skool en die geleenthede wat daarmee gepaard gaan by jou kind kweek. Jy moet hom aanmoedig om dit te geniet, om maats te maak en sy potensiaal as leerder te ontgin.”

Kinders wat aan oordrewe angstigheid ly of wat gewoond daaraan is om geïsoleerd groot te word, byvoorbeeld as enkelkinders sonder maats of plaaskinders op plekke waar daar nie baie ander mense is nie, is meer geneig om met angstigheid ʼn skoolloopbaan te begroet.

“Dit is die ouer se werk om die kind gerus te stel dat die skool, die skoolhoof en die onderwysers alles onder beheer het – veral in ʼn tyd wat kinders weens die pandemie ook geïsoleerd grootword,” sê Maree.

“Moet nooit met jou kind ongeduldig of kwaai wees omdat hy nie wil skool toe gaan nie. Wees berekend ferm, maar benadruk dat hy ook self ʼn mate van beheer oor sy eie dag kan uitoefen en stel hom gerus dat mamma, pappa of ʼn ander betroubare volwassene daar sal wees wanneer die skooldag eindig.”

Dit is wel so dat sekere kinders makliker met hulle ouers praat oor hoe hulle skooldag verloop het as ander, maar dit is tog belangrik om jou kind uit te vra oor sy dag.

“Dit is ook noodsaaklik om seker te maak jou kind is gemaklik in die klas. Dit gebeur gereeld dat ʼn kind wat gereeld aandui dat hy nie wil skool toe gaan nie, deur ʼn ander maatjie geboelie of afgeknou word.

“As jy weet dit is nie jou eie angstigheid wat lei tot jou kind se gedrag nie, maak ʼn afspraak met die juffrou en in ekstreme gevalle kan die skoolhoof ook betrek word om uit te vind waar die probleem lê.”

Kinders tel soms die ure af voordat hulle weer kan huis toe gaan van die skool af. (Foto: Argieffoto/Unsplash)

Dit is uiters belangrik om op jou kind se gedragspatrone te let, benadruk Maree. “As jou seun of dogter na een dag van skool nukkerig terugkom en sê hulle gaan nie weer nie, kan jy ʼn ruimte van vertroue skep en hom of haar uitvra oor wat dié spesifieke dag by die skool gebeur het wat hom of haar so laat voel.

“As jy egter merk dat daar ʼn patroon is van ʼn kind wat nie wil skool toe gaan nie, moet dit gouer as later aandag kry en moet daar daadwerklik ingegryp word. Dit is normaal om angstig te wees oor jou kind se skoolloopbaan, want jou kind is die kosbaarste ding in jou lewe,” voeg Maree by.

“Tog moet ʼn kind ook weet dat dit nie in sy of haar beste belang is om sy lewe lank tuis te bly nie. Dit kan boonop ʼn lewenspatroon word as hy nie bemeester hoe om uitdagings in die lewe te hanteer nie.”

Hou patrone dop wat kop uitsteek. “Ouers moet eerlik met hulleself wees oor hulle eie gedrag en dit is nie ʼn slegte idee om dan self met iemand te gaan gesels indien jou angstigheid iets is wat jy nie self kan oorkom nie.”

Dit is baie belangrik dat ʼn kind ʼn juffrou as toeganklik moet ervaar. “Soms is dit so dat ʼn juffrou en ʼn kind net nie oor die weg kom nie, of dat ʼn juffrou ʼn kind herinner aan ʼn vrouefiguur wat hom elders in sy lewe bang gemaak het. In so ʼn geval is dit nie ʼn slegte idee om ʼn sielkundige te betrek om die situasie te beredder nie.”

Die goeie nuus, volgens Maree, is dat dit bitter selde gebeur dat die probleem van ʼn kind wat langtand skool toe gaan nie opgelos kan word nie.

“Dit is tog so dat die meerderheid van kinders skool geniet en dat diegene wat aanvanklik nie skool geniet nie, uiteindelik ook daarvan hou om deel te raak van die opwinding. Kinders wat aan skeidingsangs ly sal uiteindelik ook genot daaruit put om saam met maats in ʼn klasverband skool te geniet.”

Volgens Maree is dit ook belangrik dat onderwysers van hulle kant enige vreemde gedrag wat deur ʼn kind in die klas getoon word, moet aanmeld en aandag daaraan moet gee.

“’n Akkurate observasie van ʼn kind kan gedoen word sonder dat die kind bewus is daarvan of voel dat hy uitgesonder word.”

As jy besluit dat jy en jou kind ʼn professionele persoon op die gebied moet sien, is ʼn opvoedkundige sielkundige ʼn goeie persoon om na te draai vir raad en daad.

“Meeste skole het toegang tot goeie sielkundiges wat kan help om die probleem op te los. Soms is dit ʼn probleem wat vinnig opgelos kan word en soms is dit ʼn probleem wat na ʼn kundige op die volgende vlak verwys kan word.

“Die goeie nuus bly dat daar hulp is en dat dit nie ʼn onoplosbare probleem is nie.

“Skool moet lekker wees en dit is noodsaaklik dat ʼn kind dit ook só moet beleef, maar dit begin by die huis. Mamma en pappa moet die kind motiveer om die geleenthede wat hy kry aan te gryp, nuwe dinge te leer en sal sodoende die patroon van angstigheid suksesvol kan verbreek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kremetart ·

Ek het my kinders nooit laat voel skool is sleg nie. Altyd gemaak asof dit die beste plek op aarde is. En my kinders het skool geniet en geniet nog steeds. Altyd gevoel mens kan baie met sielkunde regkry.
My ouers het skool soos n slegte plek voorgestel en ek het dus nie van skool gehou nie. So, ja, ouers, moenie n kind bang maak vir n ding wat jy voor bang is nie. Maak jou kinders sterker as jyself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.