Hoe sien ek om na my bejaarde ouers?

Argieffoto (Foto: Andrea Piacquadio/Pexels)

Wanneer dit kom by die versorging van jou bejaarde ouers is daar verskeie opsies wat oorweeg kan word. Sommige volwasse kinders kies om self na hulle ouers om te sien, terwyl ander mense ʼn tuisversorger aanstel of hulle plaas hulle ouers in tehuise of versorgingsoorde.

Om egter self die versorging van jou bejaarde ouers oor te neem, hetsy om finansiële redes of ander oorwegings, behels ʼn paar aspekte wat in gedagte gehou moet word.

In die eerste plek verg dit toewyding om jou bejaarde ouers by jou of hulle huis te versorg. Dit is ʼn groot verantwoordelikheid en jy moet uit die staanspoor kans sien daarvoor.

As jy die besluit geneem het, dan lê daar nog uitdagings voor, soos of hulle eers in hulle eie huis gaan aanbly en of hulle by jou gaan intrek, is daar reeds ʼn kamer of woonstel vir ma en/of pa, moet daar veranderinge aan die huis aangebring word, het julle ʼn aksieplan vir mediese onkoste, wie is die ondersteuningsnetwerk en wat gebeur wanneer hulle nie meer onder jou sorg kan wees nie.

Maroela Media het by kenners gaan aanklop vir raad oor hoe om hierdie proses aan te pak, wat om in gedagte te hou en watter organisasies hulp aanbied.

Wanneer benodig jou ouers versorging?

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van maatskaplike ontwikkeling, sê daar is nie klinkklare antwoorde op die vraag oor wanneer jy moet begin om na jou bejaarde ouers om te sien nie.

Sommige mense besluit baie vroeg om hulle ouers in te neem, en volgens Hermann is dit altyd beter om eerder vroeër daarmee te begin.

Volgens Natasha van Tonder, maatskaplike werker by Ons Tuis, is duidelike en sigbare tekens van agteruitgang, en wat moontlik ʼn aanduiding is dat jou ouers versorging benodig, goed soos vergeetagtigheid, wanneer hulle nie meer self inkopies doen, kosmaak, bad of stort nie, of wanneer jy vir hulle kos vat, maar hulle eet dit nie.

Argieffoto (Foto: Burak Şipşak/Pixabay)

“Die belangrikste deel in hierdie proses is wel om met jou ouers te gesels en te hoor wat hulle behoeftes en gedagtes hieroor is,” sê Hermann.

Sodoende kan jy ʼn beter idee kry van die soort versorging wat hulle gaan benodig. As daar broers, susters of ʼn eggenoot in die prentjie is, is dit natuurlik ook die beste om met hulle te gesels en vas te stel wat moontlik is.

Sy voeg by dat volwasse kinders deurgaans sensitief moet wees vir die emosies wat hulle ouers dalk mag ervaar, en om ʼn bietjie meer geduld met hulle te hê.

“Dit is vir baie ouer mense moeilik om uit hulle huise te trek, omdat hulle veilig voel in daardie omgewing wat hulle ken, veral as hulle vir jare in dieselfde huis en omgewing gebly het.”

Praktiese riglyne vir tuisversorging van bejaardes

Praktiese aspekte wat jy in gedagte moet hou, is onder meer om relings in en om die huis, veral in die badkamer by die stort en toilet, aan te bring en matte met ʼn rubberonderlaag te kry sodat jou ouer nie gly en val nie.

Maak seker dat jou ouers nie te veel en gereeld trappe hoef te klim nie, want hulle liggame kan dit nie meer so maklik hanteer nie.

Jy sal ook dalk jou spyskaart moet aanpas omdat sommige ouer mense spysverteringsuitdagings ervaar. Dit is belangrik dat hulle steeds kos inneem wat vir hulle die nodige voedingswaarde bied.

Dan is daar die kwessie rakende finansies.

“Volwasse kinders kan nie skielik aanspraak maak op hulle ouers se pensioengeld nie. Jou ouers se geld is nie joune nie,” sê Lize-Mari Buys, maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand.

bejaardes-01

Argieffoto (Foto: Pixabay/Pexels)

Wanneer voltydse versorging nodig is

Hermann sê van die vrae wat baie mense ondersoek, is watter tehuis die beste in hulle ouers se behoeftes gaan voorsien en of hulle dit sal kan bekostig.

Sy en Van Tonder moedig mense aan om vooraf navorsing te doen en te bevestig of die ouetehuis wat oorweeg word, wel by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer is.

Hierdie oorgangsfase kan soveel makliker en soomloos gebeur as jy weet waar om vir raad aan te klop.

Buys stel voor dat jy in jou omgewing by ʼn dienssentrum vir bejaardes aanklop wat jou kan help met die nodige voorbereiding. Mense kan ook Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers nader vir raad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.