Jong Stadsboer Veldskool: Die begin van ʼn nuwe geslag boere

(Foto verskaf)

Die eerste kwartaal het met ʼn dolle vaart afgeskop; dit voel of die jaar al nege maande lank aan die gang is en jy moet wegbreek, anders gaan die jaar eenvoudig te lank raak.

Klink dit vir jou bekend?

Dan is die Jong Stadsboer Veldskool net die plek om jou gefokus te kry vir die akademiese jaar wat voorlê.

Vanaf 24 tot 30 Maart 2024 in die hartjie van die Waterberge, so klipgooi anderkant Vaalwater, vind jy Berchtesgaden Game Ranch & Lifestyle Farm, die tuiste van die veldskool. Hierdie geleentheid, waarvan daar elke jaar net twee plaasvind, word vinnig vol bespreek sou wikkel en skryf in! As die liedjie “Bosveld TV” jou persoonlike kenwysie is, dan moet jy die pad volg na Berchtesgaden se Jong Stadsboer Veldskool.

Ongeveer 200 kilometer buite Pretoria vind jy ʼn ongelooflike Bosveldbestemming. Uit die liefde vir die natuur en die bewaring van ons fauna en flora, word daar vir die sesde jaar tyd spandeer met studente wat inskryf vir die Jong Stadsboer Veldskool – aangebied in God se skepping. Alle graad 8 tot 11-leerders is welkom om hierdie week by ons aan te sluit. Hier vind jy dit wat nie in die stad beskikbaar is nie.

Vars melk uit Jersey se spene (Foto verskaf)

Hier sal jy op daaglikse basis meedeel in die aktiwiteite van wild- en veeboere en dit wat hand-aan-hand daarmee gepaard gaan en bestuur moet word. Buiten die praktiese kant van die boerderybedryf, leer jy ook vaardighede soos noodhulp, oorlewing, sterrekunde, reptiele, skietkuns en vele ander.  Op die Boerplaas sal jy saam boer en meemaak in die daaglikse aktiwiteite van die skape, beeste, boerbokke, varke, hoenders en perde. Het jy al ʼn glas vars melk, reguit vanuit Jersey se spene geproe?

Menige jong boer wil ná hierdie week skool opskop en hier bly. Jy sal jou maters, wat langs jou op die skoolbank sit, ligjare vooruit wees – want jy het geboer!

Met die moontlikheid dat daar hanslammers sal wees, sal hulle daagliks melk uit jou hand drink. Daar word ewe veel tyd bestee aan wild, veldkuns en die gevare van sekere plantspesies.

Ná ʼn besige dag kan jy uitsien na ʼn nagrus in stilte; geen geraas van vliegtuie wat kom land of vragmotors wat op die snelweg verbyjaag nie.

Alles draai egter ook nie net om boerdery nie. Jy kan uitsien na sterrekuns en die uitspansel, ʼn nag se uitslaap in die bos, tradisionele wyses van vuurmaak, die pret van ʼn plaasdam en vlotbou en vele meer. Ná die dag se aktiwiteite tussen die boerplaas en wildplaas, sal jy die rustigheid van die lodge met kenmerkende stilte van die nag ervaar.

ʼn Boer moet natuurlik ook goed kan eet om krag vir die volgende dag te kan opbou – ʼn aktiwiteit wat die plaaskombuis baie goed mee vertroud is.

Die kurrikulum en inhoud van hierdie veldskool word met groot noukeurigheid beplan en opgestel deur ʼn span met ʼn wye vlak van kennis en akkreditasie van elke aspek wat behandel word. Alle Jong Stadsboere deel in die praktiese ervaring saam met die teoretiese kennis wat hulle kan saamneem stad toe en daar kan uitleef – al is dit net in jou agterplaas.

Liewe ouer: indien jou kind energiek is, ʼn liefde vir die natuur het, ʼn passie vir boerdery aanvoel en hom-/haarself wil uitleef in die buitelug met al die avonture, sal hierdie week by Berchtesgaden definitief vir hulle wees. Geleenthede buite die retoriek van ʼn skoolprogram is skaars waar die kinders die blootstelling van die natuur kan ontvang en werklik die plaaslewe eerstehands kan ervaar.

  • Volledige inligting is op die Facebook-blad
  • Skryf vandag in deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected] of stuur ʼn WhatsApp na 083 250 7989.
  • Besoek gerus ook Berchtesgaden se webbladsy en die onderskeie Facebook bladsye van Berchtesgaden, die Boerplaas en ook die Veldskool. Lees die kommentaar van ouers wie se kinders hier was en die groot positiewe inpak wat dit op hulle lewe gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.