Koshuiskamervensterdrome

lees-venster-stocksnap-pixabay.jpg

Foto: StockSnap/pixabay.com

Gee my iets om voor te staan
Lei my op om vooruit te gaan
Vandag, môre en elke dag, in geloof lê al ons krag.

Hierdie woorde maal oor en oor in Reinhard* se gedagtes terwyl hy op die naat van sy rug lê en by sy koshuisvenster uitstaar …

Sol-Tech, Sol-Tech
Hier’s my twee hande, ek gee wat ek het
In sy almag, is geloof my krag
Sol-Tech elke dag.

Reinhard is en was nog altyd lief daarvoor om met sy hande te werk; sy Hemelse Vader het vir hom ʼn talent gegee, en hierdie jong seun het dit al vroeg in sy lewe besef. Daarom wil hy juis ook proe hoe dit smaak om by Sol-Tech te studeer. Buite sy koshuiskamervenster sien hy hoe die son sy kop uitsteek en die dag groet. Hierdie son groet ook Reinhard se toekoms, en hy voel hoe die genade van ʼn wonderwerk oor hom spoel, want hy weet daar is mense aan sy kant; hy weet dat sy God, sy ouers en sy Helpende Hand daar sal wees om sy voorspoed te verseker.

Foto verskaf deur Sol-Tech

Die vorige dag het Reinhard nog getwyfel of sy drome om ʼn hardwerkende man te word, gaan waar word. Maar vanoggend word hy wakker met ʼn lied in sy hart, want mense het hardop getuig: Hier is my hand, ek wil vir Reinhard help om ʼn toekoms vir homself en sy toekomstige gesin in Suid-Afrika te skep.

Die opwinding in Reinhard se hart is aansteeklik vir die res van sy koshuismaats. Almal weet: Reinhard gaan Sol-Tech toe wanneer hy klaar matriek geskryf het!

Vandag is mooi en kosbaar, maar sy verlede was nie altyd so nie. Reinhard en sy gesin was jare lank in die greep van armoede vasgevang. Hy moes al baie drome prysgee. Daarom is hierdie Sol-Tech-droom ʼn wonderwerk vir hom. Hierdie donker stilte van armoede het hom met tye oorweldig, maar deur die krag van liefde, diensbaarheid en geloof kan armoede oorwin word. Reinhard weet dit goed, want hy loop al vyf jaar lank ʼn pad saam met Solidariteit Helpende Hand.

Reinhard ken die krag wat daarin lê as mense begin saamstaan en opstaan vir jou, hy het dit gesien en beleef. Alles het begin  by die Helpende Hand-tannie by die sentrum wat haar hand vir hom uitgesteek het. Hy weet dat Helpende Hand se Bemagtig-ʼn-kind-projek die rede is waarom hy vandag met dankbaarheid en toekomsvooruitsigte by sy koshuiskamervenster kan uitkyk. Hy weet, en nou wil hy teruggee.

Sol-tech

Foto: Adéle Changuion

Ons kinders het almal stories om te vertel, maar Reinhard se storie het my diep geraak. Ons stap al vir sy hele hoërskoolloopbaan ʼn pad saam met hom. Ons ken nie net sy behoeftes nie, ons ken ook sy drome. Bemagtig-ʼn-kind-projek het daardie bruggie gebou te danke aan die gemeenskap wat saamgestaan en geskenk het aan die fonds. Die behoefte was nog ʼn laaste jaar se koshuisverblyf, waar hy veilig kan werk en leef, waar hy kan droom en dink, waar hy elke dag drie borde kos kry en waar sy kamervenster sy jong hart stilmaak en sy drome laat seëvier. Noudat die behoefte aangeraak is, nou droom ons saam met Reinhard oor sy toekoms.

Hoe mooi is dit nie, hierdie droom om in Afrikaans by die beste privaat beroepsopleidingskollege te studeer. Hierdie drome en stories is vir my suksesverhale wat boekdele oor Solidariteit Helpende Hand se Bemagtig-ʼn-kind-projek spreek. As ons nie omgesien het na die behoefte nie, sou die droom dalk nooit eens in Reinhard se hart gebore kon word nie, want wat sou die moontlikheid gewees het om te kan gaan studeer as hy nie eers sy skoolloopbaan suksesvol kon voltooi nie? Koshuisgelde is gegee, en nou kan drome verwesenlik word.

student-seun-janeb13-pixabay.jpg

Foto: janeb13/pixabay.com

Wat mooi is, is dat dit egter nie net die Bemagtig-ʼn-kind-projek is wat volle verantwoordelikheid vir Reinhard se behoeftes geneem het nie, maar die betrokke Helpende Hand-streek, -tak en -sentrum het ook hul hande uitgesteek om hom oor die afgelope vyf jaar te help.

Reinhard, ek wens vir jou net die beste toe: keuring by jou Sol-Tech-tuiste, arms vol sukses, kinders wat jy self kan bemagtig omrede jy bemagtig was, nog baie koshuiskamervensterdrome in 2023, en ʼn voorspoedige toekoms. Mag jy ook in jou lewe as student en volwassene nou jou hand uitsteek en hardop getuig: Hier is my hand, nou wil ek help.

Wanneer jy tussen die hoenders en die werf op die Sol-Tech-plaas wandel, moet nie jou Helpende Hand-familie vergeet nie. Want vir jou sal ons altyd onthou. Ons kinders is nie net vir ons nommers nie, hulle is nie net vir ons ʼn behoeftebepaling of -ontleding nie. Hulle is vensters vol drome, en ons wil dit saam met hulle leef.

In Afrikaans word ons opgelei om ʼn toekoms voor te berei
Met waardigheid en integriteit
Boer drome ver vooruit
Sol-Tech elke dag.

Besoek gerus www.bemagtignkind.co.za, en vat hande met ons om nog kinders soos Reinhard te bemagtig.

Reinhard* is ʼn skuilnaam wat gebruik is om die kind se identiteit te beskerm.

Deur René Roux (adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Matmiet ·

Ek het self ‘n soortgelyke wonderwerk storie oor my universiteits loopbaan. Mag jou drome vlerke kry jong man, en geniet elke oomblik van dit wat vir jou gegee word – die beste lê nog voor.

Vonny ·

Dankie solidariteit EN
Afriforum.
God en julle is
Ons Hoop!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.