Kweek dissipline in jou huis

ouerskap-vaderskap

Foto: Dagon/Pixabay.com

Deur Johan Koekemoer

Vra enige persoon wat al ʼn ouer in ʼn inkopiesentrum dopgehou het terwyl die peuter skreeu vir nog lekkernye, en jy sal gou besef dat dissipline ʼn reuseprobleem in ons samelewing is. Dit hoef egter nie in ʼn nagmerrie te ontaard nie.

ʼn Gedissiplineerde omgewing speel ʼn belangrike rol om kinders geborge te laat voel. Kinders leer deur grense te toets, maar wanneer hulle in ʼn omgewing is waar die grense nie duidelik is nie, voel kinders gou onveilig. Om dit te verhoed is dit nodig om kinders se gedrag reg te beïnvloed.

In die meeste gevalle word dit bestuur deur te fokus op dit wat verbode gedrag is. Hierdie strategie is egter reaktief en nie volhoubaar nie, veral omdat kinders se vermoë om nuwe vorme van wangedrag te ondersoek, nimmereindigend is.

ʼn Proaktiewe waardegedrewe strategie vir dissipline is die mees volhoubare manier om kinders op te voed wat veilig voel. Want in ʼn omgewing waar kinders duidelik weet waar die grense is, voel hulle gekoester en veilig.

Hier is vyf wenke vir jou:

Herbedink die nut van ʼn dissiplinestelsel

Konsekwentheid, selfs wanneer daar ʼn dissiplinestelsel is, is ʼn blywende probleem wat altyd reaktief van aard is. Kinders se swak gedrag word gestraf, maar hulle moet die les weer en weer leer. Daarom is dit nodig om te dink of ʼn dissiplinestelsel wat fokus op negatiewe gedrag, nodig is. Fokus eerder om self voorbeeldig op te tree wat werklik sinvol is op die langtermyn, as om ʼn stel reëls op te stel waaraan voldoen moet word, sodat dissipline nie ontaard in ʼn eksterne lokus van beheer nie.

Ondersoek vestiging van waardestelsel

Die vestiging van ʼn waardestelsel is ʼn volhoubare manier om te verseker dat jy weet watter beginsels jy graag in jou kinders wil sien. Die gedragspatroon wat ouers en onderwysers doelbewus op besluit, moet ook deur die ouers self uitgeleef word. ʼn Waardestelsel kan in gedrag verpak word deur kultuurtradisies in te stel. ʼn Eenvoudige voorbeeld is, ons bid altyd voor ons eet, want ons gesin is altyd dankbaar.

Maak jou kinder(s) deel van die proses

Om die inkoop van jou kinders te kry, is dit belangrik om hulle deel te maak van die proses om ʼn waardestelsel saam te stel. Laat jou kinders insette gee oor die lys van waardes en moedig hulle aan om mekaar aanspreeklik te hou op grond van die waardestelsels wat deur ouers en onderwysers gestel word.

Hanteer elke saak so spoedig moontlik met die individu

Wanneer daar dan wel oortree word, is daar drie dinge wat moet gebeur.

  • Straf moet die oortreding spoedig opvolg. Moenie wag om straf uit te deel nie. Dit is dikwels moeilik vir ʼn kind om te verstaan waarom hy/ sy eers later gestraf word wanneer die oortreding al lankal vergeet is.
  • Straf met ʼn regverdige of sagte hart

Elke kind is uniek en reageer verskillend op straf en die straf moet verpersoonlik word. Party moet om verskoning vra, ander moet ʼn ruk lank alleen in die kamer wees.

Straf sonder woede: As ons straf uit woede, dan het ons verloor, want dan modelleer ons hoe iemand optree wat nie hulself kan reguleer nie.

Lei deur jou voorbeeld

Die stamwoord van dissipline is dissipel. Soos Jesus ʼn voorbeeld was vir Sy volgelinge, moet jy ook ʼn voorbeeld vir jou kinders wees. Moenie van hulle verwag om ʼn waardestelsel na te volg wat jy nie navolg nie. Kinders is nooit te jonk om te leer nie en hou jou dop selfs as jy dit nie besef nie. Tree dus navolgenswaardig op!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.