Luister: ’n Kuiertjie saam met Gretha Wiid op Moedersdag

Gretha Wiid saam met haar dogters en kleindogter. (Foto: Gretha Wiid/Facebook)

Sy het ander ma’s nooit geglo wanneer hulle gesê het dat hul lewens leeg sou wees sonder hul kinders nie. Maar vandag, met vier dogters en ʼn kleindogter, verstaan Gretha Wiid presies wat daardie ma’s bedoel het.

Moedersdag is ʼn viering van ma-wees, ʼn rusdag propvol bederf, liefde en omgee. Tog, is dit nie hoe dit in elke huishouding gesien word nie, vertel die 51-jarige Gretha.

“Daar is maar min vroue wat regtig ʼn bederfdag het,” vertel sy aan Maroela Media.

“Ek dink dit sou wonderlik gewees het as ons hierdie dag werklik gebruik het om ma’s te waardeer.”

In baie huise is ma steeds verantwoordelik vir huistake soos bykosse maak vir die Sondagmiddag-braai, óf om af te dek en skottelgoed te was. Op dié Moedersdag wens Gretha ma’s ʼn dag toe waar dié takies nie op hul bord te lande kom nie.

“Ek dink dit sou fantasties gewees het as dit regtigwaar ʼn rusdag was.”

Sy dink ook aan die ma’s en kinders wat hulself in verskillende lande bevind, kinders wat hul ma’s aan die dood moes afstaan en ma’s wat stoksielalleen in die ouetehuis sit, sonder kind of kraai wat ʼn draai kom maak.

Gretha Wiid saam met haar ma. (Foto: Gretha Wiid/Facebook)

Wanneer sy dan van haar eie ma, wat vandag in haar 70’s is, en aan haar vier liefdevolle dogters en kleindogter dink, voel sy opnuut bevoorreg dat sy met soveel liefde en omgee omring is.

Sy het haar dogters se grootwordjare terdeë geniet, maar geniet die fase waarin hulle nou is. Vandag beskryf sy haar dogters as haar beste vriendinne, iets wat sy nie vir enigiets sou verruil nie.

“Ons het ’n baie goeie verhouding,” vertel sy.

“Ek besef nou, ek het vier mense in my lewe wat altyd daar vir my sal wees.”

Deur die jare heen, was haar dogters haar grootste prioriteit. Ten spyte van ’n ongelooflike besige dagboek, het sy seker gemaak dat sy nooit versuim om tyd saam met haar dogters deur te bring nie.

Gretha Wiid. (Foto: Gretha Wiid/Facebook)

Sy erken self dat sy die ma was wat haar kinders se skole gek gemaak het met navrae oor jaar- en maandbeplannings, omdat sy wou seker maak dat sy ’n teenwoordige ma vir haar kinders is.

Oor haar kleindogter gesels sy trots soos wat dit ’n ouma betaam.

“Ek is een van daardie oumas met ’n lêertjie op my foon vir my kleinkind. Ek moet alles stoor wat sy doen!”

Gretha is ’n bedrywige vrou, met talle motiveringspraatjies, sessies met skoolkinders en kampe vir paartjies, kinders en volwassenes wat sy self fasiliteer. Dié besigwees is egter kos vir haar siel, sy geniet dit terdeë om na die uithoeke van die land te reis om tyd saam met mense deur te bring.

Gretha en haar kleindogter. (Foto: Gretha Wiid/Facebook)

Een van haar passies is om met kinders en tieners te werk. Dit is juis ook raad vir ouers met tieners, waaroor sy met Maroela Media gesels het.

Haar ysblou oë glinster wanneer sy erken dat tienertyd ’n moeilike tyd is.

“Daar is mos ’n fyn lyn tussen ’n hormoon en ’n demoon: vir die een kan ons bid, deur die ander een moet ons leef,” het sy geskerts.

Tog glo sy dat dit ’n natuurlike lewensfase is wat nie persoonlik opgeneem moet word nie. Al onttrek tieners uit hul ouers se lewens uit op verskillende wyses, is dit steeds ouers se verantwoordelikheid om kontak met hul kinders te hou, meen Gretha.

Tieners is op ’n ontdekkingsreis van hul eie ruimtes, belangstellings en besluite. En dit moet vir hulle gegun word, glo sy.

“Met ’n tiener moet daar altyd balans wees. Jy moet privaatheid gun, maar hulle moet respek hê vir die feit dat hulle nog onder jou dak bly.”

  • Luister boaan na die volledige klankonderhoud met Gretha Wiid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.