Maatskaplike werkers is ’n boei vir traumaslagoffers

Foto ter illustrasie. (Foto: Sabine van Erp/Pixabay)

Diegene wat aan die onderkant van die ekonomiese spektrum staan, is meer vatbaar vir trauma, aangesien hulle minder hulpbronne het om hulself teen geweld te beskerm.

Amptelike syfers bevestig dit. Volgens ʼn ontleding van Statistiek Suid-Afrika word sommige groepe meer deur sekere soorte misdaad geraak.

Die nuus is vol van voorvalle van roof, huisbraak, aanranding, gepeupelgeregtigheid, verkragting en moord. Tog sê die polisie se misdaadsyfers daar is ʼn verlaging in voorvalle jaar-tot-jaar.

ʼn Mens kan sekerlik nie help as om hierdie statistiek met ʼn greintjie sout te wil neem nie, maar dalk is dit belangriker om realisties oor die syfers te dink as om dit net sinies te wil beskou.

Daar is natuurlik geen manier om te bepaal hoeveel sake net nie by die polisie aangemeld word nie. In sommige informele nedersettings vertel inwoners dat die polisie eenvoudig net nie die nodige ondersteuning kan verleen nie.

Dat wetstoepassingsagentskappe hul uitdagings het, is ʼn feit. Dat stappe gedoen word om dit aan te spreek en te verbeter, glo ons, maar kom ons kyk na die slagoffers van geweld.

Hierdie slagoffers se trauma duur nie net maande vir maande nie, maar ook vir jare. Hulle lewens is onherroeplik verander, veral in die geval van familie van moordslagoffers wat die moord aanskou het.

Maatskaplike werkers is onder die respondente wat daagliks met hierdie soort mense te doen kry.

“Ons het meer dikwels te doen met langtermyn-trauma, of komplekse trauma, wat ʼn lyn deur die kinderjare na die latere jare volg,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“As ʼn kinderbeskermingsorganisasie sien ons honderde kinders elke jaar wat deur geweld geraak word. Beledigende vaders, ma’s wat nie daarin slaag om te koester en dikwels kos te gee nie, ʼn gebrek aan ouers, kinders wat grootgemaak word deur ʼn ouma wat oorweldig word deur die nodigheid om verskeie kinders met haar karige inkomste groot te maak, is net ʼn paar van die alledaagse realiteite waarmee ons te doen het.

“Geslagsgeweld, wat soveel aandag geniet, is beslis ʼn plaag, maar geweld in die algemeen behoort meer aandag van ons regering te kry.

“As ʼn maatskaplikewerk-organisasie het ons pas deur die ergste denkbare jaar tot dusver gekom. Die werklike bedreiging om ons subsidies met 61% te laat sny sou ʼn ondenkbare tragedie gewees het. Dit sou ook nie net vir die maatskaplike werkers wat hul werk verloor geraak het nie (ja, hulle ook), maar elkeen wat desperaat ons organisasie se hulp benodig.

Die CMR se maatskaplike werkers is juis daar waar daar ingetree moet word vir die slagoffers van geweld. Hierdie maatskaplike werkers help honger, hawelose, hulpelose kwesbares om hul koppe op te tel sodat hulle hulself kan begin help. Dit is ʼn maatskaplike werker wat hulle help om daardie eerste paar tree na ʼn nuwe begin te neem, verduidelik Henda.

“Die dienste wat ons lewer is deurslaggewend vir diegene na wie ons uitreik. In die afgelope finansiële jaar het ons byna 30 000 individue gehelp, wat min of geen ander uitweg sou hê om die hulp te kry wat hulle nodig het om die realiteite van hul lewens die hoof te bied nie,” sluit Henda af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

melaney ·

Ek wil selfs nie een dag in die skoene van ‘n maatskaplike werker staan nie. Mense wat voorheen finansieël kop bo water kon hou, vind deesdae hulself in ‘n swakker posisie en dit was juis húlle bydrae wat vir minderbevoorregtes aangemoedig het. En die aanwas stop nie, wat dinge nog moeiliker maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.