Maroela Media-matriekafskeidgids: Kapselwenke om geld én moeite te spaar

Maretha Garnham, haarkapper en eienaar van Flow Hair Designs. (Foto: Verskaf)

Spieëltjie, spieëltjie in my hand, wie is die mooiste matrikulant?

ʼn Matriekafskeid is vir talle amper-skoolverlaters, ouers en selfs onderwysers ʼn opwindende hoogtepunt in hul laaste skooljaar.

Met dié dat sommige matriekafskeidpartytjies deesdae byna dieselfde hoeveelheid energie, tyd én geld as ʼn klein troue verg, meen kenners dat ʼn mens nooit te vroeg kan begin beplan nie.

Maroela Media het met ʼn paar ervare kenners en matrikulante se ma’s gesels om ʼn matriekafskeidgids en lekker geldspaarwenke op te stel.

Die eerste aflewering van die gids bespreek die belangrikheid van begrotings, asook wenke van modeontwerpers oor waar om te begin wanneer dit by ʼn rok of pak vir die groot aand kom.

Nou gee Maretha Garnham, haarkapper en eienaar van Flow Hair Designs in Sandton, Johannesburg, wenke om seker te maak dat seuns én meisies spoggerige kapsels op hul matriekafskeid kan hê.

Begin met ʼn goeie grondslag

(Foto: Averie Woodard/Unsplash)

ʼn Mooi kapsel speel ʼn groot rol vir enige geleentheid, maar veral ʼn matriekafskeid. Daarom is dit volgens Maretha belangrik om jou hare goed te versorg in aanloop tot die groot aand.

Sy stel voor dat meisies hul haarpunte minstens elke 12-14 weke laat sny en waar moontlik, hittebehandeling probeer vermy om die hare op hul gesondste en blinkste te kry voor die matriekafskeid.

“As jy jou hare gereeld met ʼn haaryster of -droeër stileer, maak seker dat jy altyd hittebeskermingsmiddels aanwend. As jy jou hare kleur, is dit ook belangrik om minstens een keer ʼn week ʼn lekker behandeling soos ʼn haarmasker aan te wend vir glans en haarkleurbeskerming.”

Hoe naby aan die matriekafskeid moet seuns hare sny en meisies hare kleur indien hulle wil?

(Foto: Firza Pratama/Unsplash)

Maretha stel voor dat seuns vier tot sewe dae voor die matriekafskeid hul hare laat sny.

“Gaan vir ʼn toetslopie ongeveer vier weke voor die tyd as jy met ʼn nuwe haarstyl of -snit gaan eksperimenteer. Dit gee die hare genoeg tyd om te herstel en terug te groei as jy nie tevrede daarmee is nie.”

Volgens Maretha behoort haarkappers jou haarkleur ses weke voor die geleentheid te “bemeester” en ʼn week voor die tyd net opknappings doen om seker te maak dat jy heeltemal tevrede is met die finale resultaat.

Moet meisies ook vir haretoetslopies gaan voor die matriekafskeid?

(Foto: Adam Winger/Unsplash)

“ʼn Toetslopie is altyd ʼn goeie idee, tensy jy al vir ʼn baie lang ruk by dieselfde haarstilis is en julle albei presies weet wat julle op die dag wil doen. ʼn Toetslopie is gewoonlik nie dieselfde prys as wat die finale afspraak op die dag self sal kos nie.”

Hoewel dit moeilik is om ʼn prys vooraf te bepaal, sê Maretha dat ouers tussen R250 tot R600 vir die toetslopies kan begroot en tussen R350 tot R800 vir die finale stilering op die dag.

Dít sluit egter nie noodwendig haarkleur, haarsnye of behandelings in nie.

Ouers wat geld wil spaar, kan volgens Maretha aanklop by skoonheidskole.

“Daar is redelik baie haarkapper- en skoonheidskole met studente wat modelle nodig het om op te oefen. My voorstel is om een van hierdie skole te kontak as dit jou sak meer pas en ʼn toetslopie by een van die studente te bespreek.”

Wat is die grootste fout wanneer dit by matriekafskeid-haarstyle kom?

(Foto: Angelo Pantazis/Unsplash)

Maretha moedig seuns én meisies aan om nie drastiese voorkomsveranderings te maak voor hul matriekafskeid nie.

“Probeer altyd om steeds jouself te wees en soos jy te lyk. Moenie nou skielik jou swart hare blond probeer kleur nie. Elkeen is uniek en solank jy gemaklik lyk én gemaklik voel, sal jy altyd op jou mooiste lyk.”

Sy waarsku veral meisies om ook nie onrealistiese verwagtings te hê wanneer dit by haarstyle kom nie.

“Maak seker om jou eie hare in ag te neem voordat jy ʼn foto van die internet aflaai om teleurstelling te voorkom. Jou hare is dalk dikker of dunner en gaan nie noodwendig presies dieselfde kan lyk nie – selfs as die haarstileerder haarverlengings byvoeg.”

Wat is tans in die mode vir matriekafskeide?

“Tydlose eenvoud” is volgens Maretha aan die orde van die dag wanneer dit by hedendaagse matriekafskeide kom.

“Haarmodes het baie ‘kalmeer’ na my mening. Meisies veral verkies eenvoudiger, natuurlike haarstyle.”

Sy moedig meisies en seuns aan om nie net te fokus op style waarvan hulle hou nie, maar wat hulle op hul gemak gaan laat voel.

“Mens kan dadelik sien as iemand nie gemaklik in hul eie vel voel nie.”

Hoe gemaak as ek my hare sommer tuis wil versorg?

(Foto: Element 5 Digital/Unsplash)

Mense met medium tot lang hare kan volgens Maretha die volgende maklike krulhaarstyle sommer self oefen:

Metode 1:

  • Was jou hare en blaas dit mooi reguit.
  • Deel jou hare in vier kwarte en krul net die punte van jou hare met ʼn krultang.
  • Borsel die punte uit nadat dit gekrul is sodat dit ʼn volume in die haarpunte kan skep.

Metode 2:

  • Blaas skoongewaste hare stukkie vir stukkie met ʼn ronde blaasborsel droog en draai dit dan in haarrollers in.
  • Los die rollers om in jou hare af te koel – haal dit uit so na moontlik aan die tyd wat jy moet reg wees.
  • Kam die hare deur vir ʼn eenvoudige dog elegante los krul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.