Maroela Media-matriekafskeidgids: Begroting, uitrusting hoort boaan lys

(Foto: Suzane Prinsloo/Pexels)

Spieëltjie, spieëltjie in my hand, wie is die mooiste matrikulant?

ʼn Matriekafskeid is vir talle amper-skoolverlaters, ouers en selfs onderwysers ʼn opwindende hoogtepunt in hul laaste skooljaar.

Met dié dat sommige matriekafskeidpartytjies deesdae byna dieselfde hoeveelheid energie, tyd én geld as ʼn klein troue verg, meen kenners dat ʼn mens nooit te vroeg kan begin beplan nie.

Van rokke, hare, motors, fotograwe en grimeertoetslopies (ja, dit is ʼn ding) weet party moedelose ouers nie waar om te begin nie.

Maroela Media het met ʼn paar ervare kenners en matrikulante se moeders gesels om ʼn matriekafskeidgids en lekker geldspaarwenke op te stel.

In die eers aflewering gesels ons oor begrotings en waar om te begin wanneer dit by ʼn uitrusting vir die groot aand kom.

Volgende week word hare, grimering en velsorg bespreek en laastens sal wenke omtrent fotograwe en vervoer gedeel word.

Begin by die begroting

(Foto: Antonio Castillo/Pexels)

Min ouers het die finansiële vermoë om hul tieners vrye teuels te gee wanneer dit by ʼn matriekafskeid kom – daarom is dit belangrik om jou tiener by die begroting- en kosteberekeningsproses te betrek.

Só word verwagtinge vroeg bestuur en teleurstelling later in die beplanningsproses voorkom.

Stel ook ʼn prioriteitslys op en besluit saam watter items of aspekte gaan ʼn groter deel van die begroting geniet.

Indien daar koppe gestamp word oor begrotings, skep dié finansiële deursigtigheid ook geleentheid vir die tiener om self hand op te steek en plan te maak vir die items wat Ma of Pa nie kan bekostig nie – deur middel van takies in die huis of om ʼn vakansiewerk te kry.

Maak ook vroeg ʼn lysie van items wat tussen vriendegroepe geleen of gedeel kan word om uitgawes te bespaar, deur byvoorbeeld saam ʼn motor as ʼn groep te huur.

Besluit op die uitrusting

(Foto: Teodora Popa/Pexels)

Hoewel die manne nie moet terugstaan wanneer dit by hul matriekafskeidvoorkoms kom nie, is dit tog die meisies wat die vroegste moet spring om hul droomrokke te vind.

Tussen rokke laat maak, huur, of ʼn tweedehandse of Shein-skepping opkikker, is daar eindelose opsies vir meisies om van te kies.

Hoe vroeg moet ek spring as ek ʼn rok of pak wil laat ontwerp?

Yihan Lourens-Brönn, ʼn Suid-Afrikaanse modeontwerper met meer as 37 jaar se kundigheid in dié bedryf, en Desiré Krantz, eienaar van Desiré Krantz Atelier in Bethal en met byna 32 jaar se mode-ervaring, is dit eens dat ouers eerder vroeër as later moet spring.

“As ʼn kliënt ʼn matriekafskeid rok of pak wil laat maak deur ʼn ontwerper is dit ʼn goeie idee om hom of haar in Januarie al te kontak, net om veilig te wees. Die meeste kinders kom sien my hier teen die April-vakansie,” sê Yihan.

“Party ouers kontak my selfs reeds in Desember wanneer hulle kinders nog in gr. 11 is vir die volgende jaar,” skerts Desiré, wat ook ʼn ma van twee dogters is.

“ʼn Mens sal altyd probeer om almal te akkommodeer, maar hoe vroeër jy spring, hoe minder spanning vir beide partye,” voeg sy by.

Hoe werk die proses indien ek ʼn rok laat ontwerp?

Die eerste stap is om ʼn ontwerper te kontak vir ʼn eerste ontmoeting of konsultasie.

“Hier leer ons mekaar beter te leer ken en gesels oor die ontwerp, kleur en styl van jou rok of pak, asook die datum van die matriekafskeid. Ek persoonlik het nie ʼn konsultasiekoste nie, maar dit verskil van ontwerper tot ontwerper,” verduidelik Yihan.

“Ek pas gewoonlik seuns in verskillende opsies pakke om hulle ʼn idee te gee watter style, kleure en ontwerpe daar is en hoe goed ʼn pak kan pas op hul lywe. Meisies kom gewoonlik met ʼn hele album vol idees op hul selfone,” voeg hy by.

Desiré moedig veral meisies aan om nie net met idees te kom nie, maar self vooraf verskillende rokke in winkels aan te pas en sodoende te sien watter kleure en style by hul liggaamsbou en voorkoms pas.

“Kyk, ek hou niks daarvan as ʼn ouer hul dogter oor hulle gewig kritiseer nie. Ouers moet juis hul kinders se selfbeeld ʼn hupstoot gee en hulle deur so ʼn proses spesiaal laat voel. Soms besef mens nie eers dat ʼn kleur of styl waaraan jy glad nie gedink het nie, eintlik mooier aan jou lyk as die foto wat jy op jou selfoon gehad het.”

Sy moedig ouers ook aan om enige voorstelle of sorge deur die ontwerper te kommunikeer, veral as ma en tiener geneig is om koppe te stamp.

“Hulle is meer geneig om ons raad te vat en volg as hul ouers sʼn. Enige tiener gaan dink hulle ma is old school – jy weet mos hoe dit werk,” terg sy.

Ontwerpers soos Yihan het ook ʼn reeks voorraad in sy ateljee wat kliënte dadelik vir inspirasie kan aanpas.

Hierna word ʼn skets gemaak en ʼn deposito van 50% of minder word dikwels deur ontwerpers aangevra voordat daar met passings begin kan word, met die finale bedrag wat gewoonlik wat teen die finale passing vereffen moet word.

(Foto: Janco Ferlic/Unsplash)

Volgens Desiré bepaal elke ontwerper sy of haar eie proses wanneer dit by passings kom, maar daar kan minstens twee tot drie verwag word.

“Ek doen gewoonlik net een, maksimum twee passings. As ek moet gaan soek vir ʼn duur tipe kantmateriaal of iets werk ons eers op ʼn beraming vir deposito, totdat ek voorbeelde gekry het en die kliënt die finale materiaal keuse gemaak het,” sê Yihan.

Afhangend van die snit, lap en styl kan ouers volgens haar maklik enigiets tussen R5 000 en R12 000 (en selfs dubbel as dit ʼn bekende ontwerper is) begroot vir rokke.

“Borduurwerk kan veral die pryse opstoot omdat dit baie harde en fyn werk is,” voeg sy by.

Hoe gemaak as ek ʼn rok wil huur?

Hoewel dit moeilik is om presiese pryse te bepaal, is dit dikwels goedkoper om rokke te huur, met pryse tussen R900 en R2 000 – afhangend van die handelsmerk, duursaamheid van die uitrusting en unieke bepalings en voorwaardes van die winkel of handelsmerk.

Waar party verhuurders ʼn deposito vra wat afgetrek kan word indien die rok beskadig word, vra ander ʼn aparte skadebedrag wat bepaal sal word wanneer die rok of pak terugbesorg word, daarom moet huurooreenkomste noukeurig bestudeer word.

Hoewel beperk kan minimale verstellings dikwels aan gehuurde rokke of pakke gemaak word om te verseker dat dit perfek pas.

“As ʼn kliënt by my ʼn rok of pak huur, sal ek verstellings doen indien moontlik om hul lyf te pas. Ek kan gewoonlik nie ʼn groot soom in rokke sit nie en sny dit ook nie korter nie. Pakke is baie makliker want ek kan die uitsit of inneem om hul perfek te pas,” verduidelik Yihan.

Tweedehands of winkelrokke nie minder mooi nie

Desiré moedig ouers aan om die afgeskrik te word wanneer dit by tweedehandse uitrustings kom nie.

“Daar is talle matrieks wat hul rokke op sosiale media teen baie billike pryse verkoop. Mens moet soms bietjie krap, maar daar is werklik mooi rokke beskikbaar wat verstel kan word om perfek te pas.”

Net so skram sy self nie weg van verstellings of opknapwerk op gekoopte rokke nie, selfs goedkoper nommers van die gewilde aanlynwinke, Shein nie – maar sê dit hang ook af van persoon tot persoon.

“Ek kry altyd so lekker as mens iemand wat moedeloos voel kan help of red, en ek dink vir baie is hierdie tipe aanlynwinkels daai redding. Ek help graag met verstellings, of dit nou in van my eie skeppings of ʼn gekoopte rokkie is, want dis gewoonlik minimale veranderings wat gemaak moet word.”

Wat is tans in die mode?

Hoewel sy self lief is vir helder kleure en interessante snitte, sê Desiré dat eenvoudige silhoeëtte, materiale soos sy en kleure soos swart, vuil pienk en wynrooi die afgelope paar jaar gunstelinge by haar kliënte was.

“Deesdae wil meisies vars en eenvoudig lyk. Groot balrokke is beslis vir nou iets van die verlede. Ongeag die modegiere moet ons wel dikwels keer vir die cleavage,” skerts sy.

“Ek is bly om te kan sê dat rokke wat niks oor laat aan die verbeelding besig is om uit te skuif en plek te maak vir meer stylvolle rokke,” beaam Yihan.

“Seuns het deesdae ook baie meer te sê in wat hulle wil dra. Die tyd van net ʼn plus een te wees ʼn bypassende onderbaadjie of das is in die verlede. Paartjies hoef glad nie te lyk soos ʼn tweeling nie, maar mens moet kan sien dat hulle na dieselfde geleentheid toe gaan met ietsie klein wat hul saam treffend laat lyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marous ·

Dit word al vir dekades heeltemal uit verband geruk . Diegene wat dit nie kan bekostig om so uitspattig te wees nie word uitgedruk . Dit behoort in skool uniforms te wees. Dan is almal gelyk .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.