My kind sukkel met sy gehoor, taal en spraak – wat nou?

(Foto: Victoria Priessnitz/Unsplash.)

Daar is natuurlik deesdae ʼn kenner, of selfs drie, vir elke probleem wat jou kind dalk het en dit laat ʼn ouer dikwels wonder wanneer is terapie werklik nodig en waar begin jy?

Tanya Barnard, ʼn spraakterapeut en oudioloog by die Meta-leersentrum in Pretoria, het onlangs met Maroela Media gesels oor die dissiplines se terapie. Sy het raad gegee oor wanneer jy spraakterapie vir jou kind kan oorweeg, asook hoe ʼn oudioloog ʼn kind kan help.

Spraakterapie

Spraakterapeute werk met kinders wat leerprobleme sowel as spesifieke spraak- en taalprobleme het.

Jy kan jou kind na ʼn spraakterapeut neem wanneer:

  • Sy ʼn swak begrip van verbale instruksies het wat ander kinders van haar ouderdom reeds maklik kan volg.
  • Daar vertraagde spraakontwikkeling is.
  • Sy sukkel om woorde te gebruik om haarself uit te druk, sy onduidelike spraak het wat dit moeilik maak vir ander om haar te verstaan, veral op sewejarige ouderdom.
  • Sy swak sosiale en gesprekvaardighede het.
  • Sy sukkel om klanke in woorde te identifiseer.
  • Sy sukkel met sosiale interaksie met ander kinders.

‘n Voorbeeld van die beste soort masker waar kinders steeds ‘n onderwyser se mond kan sien en lippe kan lees. (Foto: Verskaf.)

Barnard sê kinders wat gesukkel het met hulle taal- en spraakvaardighede toon nou na die afsonderingstyd dikwels ʼn verdere agterstand. Veral omdat kinders nie in die tyd in die klaskamer of tussen maatjies was nie en ouers wat in die tyd bly werk het, eenvoudig nie die tyd gehad het om gehalte tyd saam met hulle kinders deur te bring nie.

“Alles is egter nie nou verlore nie. Ouers besef dikwels nie dat hulle maklik met eenvoudige handelinge hul jong kinders se taal kan help vaslê en uitbrei nie. Doen dit sommer terwyl jy besig is met jul daaglikse roetine soos eet, bad en met aantrektyd.”

Sy sê deur oor alles te gesels wat jy doen, aktiwiteite en items in die roetine te benoem, asook dit met jou kind te bespreek terwyl julle daarmee besig is, brei jy jou kind se taalgebruik in ʼn japtrap uit.

“Nog ʼn idee vir die ouer kinders is om na ʼn podsending of ʼn storie oor die motorradio te luister en dit met jou kind te bespreek. Jy kan jou kind vrae daaroor vra soos hoe dink jy lyk die karakter en waarheen was hy nou weer eerste gewees? Dit help alles om taal te ontwikkel en uit te brei.”

Tanya Barnard is ‘n spraakterapeut en oudioloog by die Meta-sentrum in Pretoria. (Foto: Verskaf.)

Gehoorverlies en oudiologie

Barnard sê ʼn ouer of onderwyser kan ʼn kind na ʼn oudioloog verwys as hy nie konstant reageer op sy naam nie.

“Daar is natuurlik ʼn groot verskil tussen ek luister nie, en ek hoor nie mooi nie. As ʼn kind egter deurentyd nie mooi reageer op instruksies nie of net die helfte van ʼn opdrag voltooi, behoort dit ʼn waarskuwingslig te laat flikker.”

Barnard sê verder gehoor kan ook ʼn probleem wees as ʼn ouer sien ʼn kind hoor jou nie as jy nie direk vir hom kyk as jy met hom praat nie of hulle vra aanhoudend vir jou om iets te herhaal.

As jy uitvind jou kind sukkel met gehoor sal die eerste stap wees om ʼn gehoortoets te laat doen. “ʼn Oudioloog kan bepaal of dit dalk net iets soos ʼn middeloorinfeksie is wat ʼn neus-, oor- en keelspesialis kan behandel, en of daar wel gehoorverlies is en ʼn kind dalk gehoorapparate moet kry.”

Barnard benadruk dat ouers hul kinders kan help met spraak en taalvaardighede deur stories te lees, met hulle te gesels en dit kan die maklikste daagliks gedoen word terwyl jy jou take in en om die huis voltooi.

  • Enigiemand wat raad of hulp nodig het, kan die Meta-sentrum in Pretoria nader by 012 065 0118 of ’n e-pos stuur na [email protected]. Die sentrum kan jong mense help met leerprobleme, arbeidsterapie, berading, spraakterapie, oudiologie en spelterapie, asook pastorale dienste.
  • Tanya Barnard, ʼn oudioloog en spraakterapeut wat dienste aan die Meta-sentrum bied, het met Maroela Media gesels oor spraakterapie en oudiologie. Luister na die volledige gesprek boaan die berig vir raad oor hoe om jou kind se spraak en taal te ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Ook netso belangrik is om ‘n tandarts te gaan sien. My kind se tande het veroorsaak dat hy nie letters kon vorm nie, en begin eers nou na ‘n klomp jare opvang.

Wielspore ·

Ons seun, gebore in 1996 het gedurende sy ontwikkeling as baba ‘n beperkte woordeskat gehad en ander groei probeleme. Ons het hom by ‘n goeie mond, neus, keel en oor spesialis gehad en vog in die ore is gediagnoseer. Grommets is aanbeveel en ingesit, daarna het die mannetjie gegaan spraak terapie.
Vandag is daardie baba 23 jaar oud met ‘n uitstekende woordeskat en hy is ‘n babbelkous.
Net soos in die berig bo, gaan sien gerus ‘n kenner indien jy opmerk dat jou kind sukkel met sekere ontwikkelings funksie. Daardie regstelling wat jy maak gedurende sy tyd as baba (kleuter) het ‘n groot invloed op hom as volwassene.
Wees lief vir jou kinders!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.